Foto’s: Ambagstudente betree nuwe Sol-Tech-kampus

Dr. Philip Minnaar, hoof van Sol-Tech, verwelkom die nuwe studente. (Foto: Verskaf)

Nagenoeg 370 ambagstudente het Maandag (1 Februarie) aangemeld vir die 2021-akademiese jaar by Sol-Tech se nuwe kampus in Monumentpark, Pretoria.

By die sooispit-plegtigheid in September 2019 waarmee die bouwerk ten bedrae van nagenoeg R300 miljoen (ingesluit toekomstige koshuisfasiliteite) begin is, het Paul van Deventer, besturende direkteur van dié Afrikaanse beroepsopleidingskollege, aan Maroela Media vertel dat die droom van  ʼn eie kampus al langer as tien jaar bestaan.

Nou is die Sol-Tech-kampus ʼn droom wat waar geword het, maar dit beteken dat nuwe drome geskep en nagejaag moet word. Saam met die viering van hierdie mylpaal is dit ook die begin van ʼn nuwe hoofstuk vir talle vakleerlinge wat vanoggend deur Van Deventer en sy span verwelkom is.

“Dit was vanoggend ongelooflik lekker om soveel opgewondenheid onder die studente te sien,” sê Van Deventer. “Ons is saam met hierdie studente opgewonde oor die blink toekoms wat vir hulle voorlê.”

Nou ja, enigeen wat al ʼn eerste dag op kampus beleef het sal weet dat dit gepaardgaan met ʼn gegons van studente, ʼn goeie dosis verwarring soos wat nuwelinge die geboue en rooster probeer uitpluis en dalk ʼn paar ouers wat nog die laaste administratiewe take afhandel.

Handreinigingstasies is oral op die Sol-tech-kampus beskikbaar. (Foto: Maroela Media)

Vanjaar weerklink daar dalk nie ʼn horde stemme in die gange nie en die onsekerheid word in ʼn mate verbloem deur maskers. Maar ondanks die huidige afsonderingsmaatreëls wat vereis dat temperatuur by aankoms gemeet word, hande gereeld gereinig moet word (terloops, handreinigingstasies is oral op die perseel beskikbaar), en minder mense op kampus toegelaat word, heers daar steeds ʼn opgewondenheid.

“Vir elkeen van die studente wat ons vandag verwelkom is dit die begin van ʼn wonderlike studentelewe. Dit is inspirerend om te sien hoe positief dié jong mense oor hul toekoms is en dit is vir Sol-Tech net so opwindend om toerusting beskikbaar te stel sodat studente aan hul toekoms kan bou.”

Van Deventer vertel ook kortliks hoe Sol-Tech beplan om vir studente ʼn unieke kampuservaring te bied.

“Die kampus het nie net geboue met wêreldgehalte masjinerie nie. Ons wil studente laat tuis voel deur ʼn egte plaasgevoel te skep,” verduidelik hy. Die kafeteria staan dus as die “kraal” bekend, die “opstal” verwys na die hoofgebou, tussen klasse en praktiese opleiding kan studente op die “werf” ʼn geselsie aanknoop en by die “windpomp” en “spilpunt” word daar ná klas en tydens sosiale geleenthede gebraai en saam gekuier.

Studente kan in 2021 vir ʼn outo-elektrisiën-ambagkwalifikasie by Sol-Tech inskryf. (Foto: Sol-Tech)

Afgesien van die nuwe kampus voeg dié beroepsopleidingskollege vanjaar ook ʼn nuwe kwalifikasie by sy leeraanbod. Maroela Media het vroeër berig dat studente nou ook vir ʼn outo-elektrisiën-ambagkwalifikasie kan inskryf.

Dié kwalifikasie is spesifiek ontwikkel met studente in gedagte wat in die instandhouding en herstel van elektriese stelsels en toestelle in voertuie, vragmotors en busse belangstel. Die kwalifikasie rus studente met kennis en vaardighede toe om foute effektief te diagnoseer en die installering, inspeksie, herstel en instandhouding van elektriese komponente in voertuie te kan uitvoer.

“Ons studente vaar uitstekend in die praktyk; daarvan getuig ons statistieke, met 94,7% van ons studente wat suksesvol werk kry nadat hul kwalifikasie voltooi is. Ons glo dit sal dieselfde met hierdie kwalifikasie wees,” sê dr. Philip Minnaar, hoof van Sol-Tech.

Nog sowat 140 vakleerlinge skop die akademiese jaar na verwagting op 2 Februarie aanlyn af en ongeveer 120 studente sal vanjaar ʼn oorbruggingsprogram voltooi. Studente sluit reg deur die jaar in vier fases by Sol-Tech aan.

  • Lees alle vorige berigte oor Sol-Tech op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Hannes ·

“Ons sal self
Maak soos ons gemaak het
Begin soos ons begin het
Oorwin het
Toe alles teen ons staan
en ons sal self
As jy ons nie wil lei nie
As jy ons niks wil gee nie
Dit keer nie
Wat ons nog aan bereik nie

Ons sal self”!

Dit is die toekoms van blanke Suid-Afrikaners!
Ek kry sommer ‘n warm gevoel, wel gedaan!

Boerkind ·

Kan dit aanvaar word dat dit die teenoorgestelde as “BEE” is?? Maw “WEE”.

Chris ·

Ek kry daagliks met die bevoorregting van die sekere bevolkingsgroep te doen. Ons is gelukkig ons is nogal redelik gelukkig en kry werk, maar seker ook dat ons ‘n eiesoortige besigheid het. Hier in ons geweste is dit nie die swarte wat ons opposisie is nie maar die Indiër.

Remlut ·

In 1973 was ons meer as 1000 vakleerling by Atlas Vliegtuig Korporasie, maar danksê sogenaamde demokrasie is alles wat goed was tot niet. Niks het oorgebly nie.

Jaco ·

Waar gaan al dié wit studente eendag werk kry? Weet hulle van regstellende aksie en BEE? Ek het maar later gelieg en gesê ek het gedruip op universiteit. Vreemd maar dié leuen gee my toe ordentlike werk. My naskoolse kwalifikasies was, weens my verkeerde velkleur, vir jare swaar meulstene om my nek.

Coolbanana ·

Fantasties…..maak my soo trots om n Boer te wees ..!

Wielspore ·

Mens kan sien die geboue en toerusting is wêreldklas te danke aan mense en instansies met visie. Leer dit maar aan, doen dit jouself en kry kwaliteit diens, moet nie sit en wag vir die regering om vir jou te sorg. Sluit aan by Solidariteit en Afri-forum en lewer jou bydrae in die groei en ontwikkeling van nog sulke instansies.

Stof ·

Ek deel in die vreugde. Nou kan hierdie juweel selfs ‘n groter verskil maak die kwaliteit van vakmanopleiding.
Mag Vader se guns ruim wees op hierdie nuwe kampus.

Sanet ·

Baie Geluk met hierdie inisiatief Sol -Tech. Hier kan ek getuig van twee broers wat destyds aan Tegniese skool studeer het, en net vir n baie kort tyd vir n baas gewerk het en vinnig instaat was om hulle eie besigheid tot stand kon bring, en glad nie bang is om hulle eie hande vuil te maak nie. As jou kop reg is wag daar n baie goeie toekoms op hierdie studente.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.