[Foto’s] Bakkies Botha nou deel van die Haka-span

Bakkies-Botha-tassie-haka

Bakkies Botha saam met die span van Solidariteit Helpende Hand. Foto: Adéle Changuion

Die wêreld sal eersdaags ’n nuwe gesig sien wanneer die Haka uitgevoer word. Dit is natuurlik die Tassie-Haka van Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek. Die bekende rugbyspeler, Bakkies Botha, sal voortaan as ambassadeur van die projek optree.

Hierdie nuwe rol van die formidabele Botha wys ’n baie sagter kant, wat nie altyd op die rugbyveld gesien is nie. As deel van die veldtog gaan Botha ’n groepie graadeens leer hoe om ’n eg Suid-Afrikaanse vorm van die bekende Nieu-Seelandse Haka te doen. Die doel van die Tassie-Haka sal wees om mense bewus te maak van die nood onder ons graadeentjies oor die hele land.

Helpende Hand het ’n opname gedoen onder meer as 200 skole wat in 2016 tassies gaan ontvang. Die doel van die opname was om seker te maak dat die skooltassie steeds relevant bly om die uitdagings van graadeens te hanteer. Dit het duidelik geword dat perseptuele en motoriese vaardighede twee van die grootste leerprobleme vir graadeens is.

Die Tassie-Haka is nie net ’n bewusmakingsprojek nie, maar vertel ’n storie van die inhoud van die tassie en hoe dit die graadeens se probleme help aanpak. Die Helpende Hand Skooltassie bevat Unifix-blokkies en ʼn legkaart, sowel as ’n witbord waarop daar geskryf kan word. Hierdie items oefen hand-oog-koördinasie en stimuleer die ontwikkeling van motoriese en perseptuele vaardighede.

Botha het pas sy laaste professionele rugbywedstryd gespeel nadat hy 15 jaar lank ’n gevreesde gesig op die rugbyveld was. Botha se grootte en krag het hom ’n uitdagende teenstander gemaak wat gereeld in die moeilikheid beland het. Nietemin was hy ’n sportster na wie oud en jonk opgesien het.

“Ek is so opgewonde, want van vandag af ondersteun ek Solidariteit Helpende Hand se Tassieprojek vir volgende jaar,” sê Botha. “Daar sal meer as 4 700 tassies aan behoeftige graadeens geskenk word. Elke skooltassie sal soos gewoonlik al die nodige skryfbehoeftes bevat, maar vanjaar sal daar ’n paar bykomende items wees. Die inhoud van die tassie moet daartoe bydra dat hulle “Eendag as ek groot is”-droom ’n werklikheid kan word.

Jy kan help om seker te maak dat hierdie kinders se “Eendag as ek groot is” -droom ’n werklikheid word. SMS “Tassie” na 38969 en skenk R10 of besoek tassie.co.za en borg ’n volledige tassie vir R250.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Susan ·

Al is ek n Ouma Bakkies en Victor bly my helde. En ja Bakkies het ook Saterdag amper bewys hy het n skop voet aan hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.