Foto’s: Bekkige graadeens gaan skool toe

Maroela Media het by die Laerskole Rooihuiskraal en Hennopspark gaan kuier om te hoor wat gr. 1’s van hul eerste skooldag sê (Foto: Maroela Media)

Bykans nie ʼn enkele hartseer uitdrukking was in sig toe honderde meisietjies met lang boksterte en seuntjies met haasbekkies en oorgroot rugsakke Woensdag hul eerste skooldag begin het nie.

Pretoriase skole was dié jaar weer ʼn geoliede masjien: Ouers en hul kroos stroom soos miere op en af en skole is gepantser met padpatrollies wat deur die ouer leerders in die skool bestuur word.

Maroela Media het vanjaar by die Laerskole Rooihuiskraal en Hennopspark gaan kuier om te sien hoe dié graadeentjies se eerste skooldag verloop.

Elke juffrou volg ʼn resep: Die kinders kleur in om hul kriewelrige rooimiere besig te hou en die onderwysers deel goue sterre uit vir elke kunswerk wat geskep word.

Carien Fölscher, adjunkhoof van die Laerskool Rooihuiskraal, sê 282 graadeens het vanjaar hul skoolloopbaan by dié skool begin. Die kinders word verdeel in tien klasse.

Maroela Media het by die Laerskole Rooihuiskraal en Hennopspark gaan kuier om te hoor wat gr. 1’s van hul eerste skooldag sê (Foto: Maroela Media)

“Ons onderwysers is altyd gerat en gereed om ʼn nuwe skooljaar met die jongklomp aan te pak,” vertel sy. “Elke onderwyser is ʼn engel uit eie reg – dis ʼn roeping om hier tussen die kinders te wees. Die onderwysers weet presies hoe om die kinders se trane onder beheer te hou en wat om te doen wanneer die rooimiere té erg begin kriewel.”

Die voorskoolse kinders én die graadeens het reeds vroeër vandeesweek begin skool toe gaan sodat hulle bekend kan raak met die omgewing en die onderwysers – en om in baie gevalle vir die eerste keer ure lank weg van die huis te wees.

“Ons gebruik ʼn paar dae voordat die skool begin om die ouers in te lig oor hoe die proses werk en om die kinders gewoond te maak aan hul nuwe omgewing. Hulle maak dan sommer vinnig maats en die eerste dag is gewoonlik dan sommer blitsvinnig verby,” vertel sy.

Die eerste skooldag gaan in elk geval vinnig verby wanneer daar ingekleur word, of só meen Jessica Bezuidenhout. “Ek was glad nie hartseer nie!” beaam sy. “Ek was baie opgewonde om uiteindelik skool toe te gaan – nou kan ek baie maatjies maak en lekker pouses speel en eet.”

Sy kosblik is beslis die hoogtepunt van sy dag, vertel Luan de Cruz. “Ek kan nie wag om te eet nie!” sê hy opgewek. “Ek het sommer baie vinnig ingekleur sodat ek kan eet, maar die juffrou het gesê dat ons eers vir pouse moet wag voordat ons eet.”

Maroela Media het by die Laerskole Rooihuiskraal en Hennopspark gaan kuier om te hoor wat gr. 1’s van hul eerste skooldag sê (Foto: Maroela Media)

Vir Ansuné Hammann is maatjies die grootste én belangrikste deel van die laerskool: “Ek was eers bietjie bang, maar my juffrou is vriendelik en my maatjie is ook oulik – so nou is ek nie meer bang nie.”

Daar is een nadeel daaraan om jou skoolloopbaan te begin, vertel die meeste van die jong kinders: Veral hul ma’s was baie streng dat hulle die vorige aand reeds vroeg moet gaan slaap om “genoeg krag” te hê om dié dag mee aan te pak.

Dian Reinecke is eerlik oor sy grootste vrees: “Ek hoop ons sal nog televisie kan kyk!”

Deel saam met ons in die pret met die skattige foto’s van dié graadeens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andries Visagie ·

Ai, die mooiste en oulikste lede van die kortvolk! Mag elkeen ‘n skoolloopbaan hê met egte vriendskap en omgee-onnies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.