Foto’s: Beroemdes deur Paul Alberts se kameralens

Charmaine Alberts saam met haar seuns (van links na regs) Dewald, Marcus en Adriaan. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Portrette van groot geeste in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidswêreld, waaronder Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Coenie de Villiers en Lucas Maree, word tans by die Pioniersentrum by die Voortrekkermonument in Pretoria uitgestal.

Die uitstalling is op 18 November, 13 jaar sedert die ontslape fotograaf Paul Alberts aan kanker dood is, tydens ʼn glansgeleentheid geopen.

Tesame met ʼn keur van foto’s deur Paul, kan besoekers ook persoonlike korrespondensie soos handgeskrewe briewe tussen Paul en sommige van hierdie persone besigtig, wat netjies in rame pryk.

Brümilda van Rensburg het die amptelike program op ʼn hoogtepunt afgesluit toe sy ʼn voordrag van ʼn paar van hierdie briewe uit Paul se versameling gelewer het.

Gaste het geluister na korrespondensie wat Paul van onder andere Adam Small, Marius Weyers, Anna Neethling-Pohl, André P Brink, Ernst van Heerden, Antjie Krog en Karel Schoeman ontvang het.

“Paul was ʼn besonderse mens. Die uitstalling van die versameling foto’s wat oor ʼn halfeeu strek, ʼn dekade na sy dood, is ʼn bewys hiervan,” sê Charles Smith.

Charles, nuusredakteur by Netwerk24, en Paul was goed bevriend en hy het tydens die geleentheid ʼn huldeblyk aan Paul gelewer.

Paul Alberts se een seun Marcus, en sy vrou, Prim, bewonder die uitstalling. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Voortrekkermonument, het teruggedink aan sy ontmoeting met Paul en vertel watter invloed hy op hom gehad het.

“Dit gebeur min dat iemand op ʼn Maandagoggend by jou kantoor instap en jou hele lewe en lewensuitkyk verander. Dit het in 2009 met my gebeur toe Paul een dol oggend met sy leer sandale – ek het hom nooit in ander skoene gesien nie – by my aangekom het.

“Hy het diep spore in my lewe getrap. Wat ek altyd van Paul sal onthou, is sy ongelooflike nederigheid. Paul het nie oor homself gepraat nie. Hy was die man agter die kamera.”

Paul se vrou, Charmaine, en die egpaar se drie seuns, Dewald, Adriaan en Marcus, het ook die openingsaand bygewoon en die geleentheid gekry om ʼn beeld van Paul, deur die kunstenaar Jaco van Niekerk, te onthul.

Charmaine Alberts saam met haar seuns (van links na regs) Dewald, Marcus en Adriaan. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Charmaine het hierdie uitstalling as ʼn eerbetoon en viering van haar man se nalatenskap geïnisieer. Sy het in Oktober 2022 ʼn fotoversameling van Paul se werk aan die Erfenisstigting geskenk en daarna saam met die FAK gewerk om die uitstalling te laat realiseer.

Besoekers kan die uitstalling tot einde Januarie 2024 gratis by die Pioniersentrum by die Voortrekkermonument in Pretoria besigtig. Toegang kos R20 per motor vir parkering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.