Foto’s: Blom-bederf vir gesondheidswerkers

Gesondheidswerkers van die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal is Dinsdag met blomme bederf. (Foto: Leeroy Luthuli Jason)

Gesondheidswerkers van die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal in Parktown, Johannesburg, is Dinsdag verras toe hulle met 250 helderpienk Cyclamen-plante in potte bederf is.

Die inisiatief, wat ten doel het om gesondheidswerkers te bedank vir hul volgehoue toewyding tydens die Covid-19-pandemie, is deur die nie-regeringsorganisasies Ubuntu Beds en Together We Bloom geloods.

Die Cyclamen-plante, wat deur Together We Bloom geskenk is, is op die gras langs die ingang van die hospitaal uitgelê om die woord “Heroes” te spel.

‘n Skermgreep uit die hommeltuigbeeldmateriaal deur John Culverwell. (Verskaf)

“Wanneer ʼn nasie byeenkom kry sy mense die geleentheid om van ʼn baie klein saadjie te blom tot die skoonheid wat ons in almal sien,” sê Stefan Zeelie, stigter van Together We Bloom. Dié organisasie beywer hom om geld in te samel vir gemeenskappe deur die verkope van sade en plante.

Volgens Kim Whitaker, stigter van Ubuntu Beds, het die organisasie die Charlotte Maxeke- hospitaal gekies omdat dit een van die grootste Covid-19-hospitale in Gauteng is.

Ubuntu Beds is ʼn gasvryheidsinisiatief wat gesondheidswerkers van gratis private verblyf nader aan die werk voorsien om sodoende minder tussen die huis en die werkplek te pendel.

Gesondheidswerkers van die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal is Dinsdag met blomme bederf. (Foto: Leeroy Luthuli Jason)

“Ons het al vir baie van die gesondheidswerkers van dié hospitaal verblyf gebied. Ons het gedink dit is ʼn gepaste manier om ons helde te vier,” sê Whitaker.

Whitaker het in Maart vanjaar, nadat sy self Covid-19 opgedoen het, die Ubuntu Beds-inisiatief begin om gasvryheidsondernemings wat nou net leeg staan met gesondheidswerkers te verbind.

“Die gees van ubuntu heers veral in hierdie moeilike tyd onder Suid-Afrikaners. Ubuntu Beds het ons ʼn manier gegee om ons dankbaarheid te betoon teenoor die gesondheidshelde terwyl ons plaaslike toerisme ondersteun. Die piek van die virus is op pad en ons gaan alles in ons vermoë doen om die gesondheidsektor te help voorberei,” sê Whitaker.

Gesondheidswerkers wat verblyf benodig en enige gasvryheidsonderneming wat belangstel om kamers beskikbaar te stel, kan Ubuntu Beds se webwerf besoek vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Antoinette ·

Baie dankie vir die mooi gebaar. Hulle sal altyd herinner word aan die tydperk in hulle lewe wat baie stress op hul gelaai het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.