[Foto’s] Bobby en Karlien help behoeftige kinders

 Karlien-en-Cara-verf-saam-met-dogtertjie

Karlien en Cara verf die sentrum. Foto: Verskaf.

Die sangers Bobby en Karlien van Jaarsveld het hande gevat met die Hanna Charity and Empowerment Fund om die Pikanini-dagsorgsentrum vir minderbevoorregte kinders in Benoni te vestig.

Dié bekende broer en suster het op Werkersdag self hand bygesit met hamers en verfkwaste om die nuwe gebou op te helder.

Ronel Brink, die bestuurder van die Pikanini Dagsorgsentrum-projek, vertel die dagsorgsentrum is opgerig in ʼn karavaanpark. “Daar is regtig nood in die gemeenskap en Bobby en Karlien wou ʼn verskil maak. Hulle het self klein kinders en weet daarom wat kinders se behoeftes is,” sê sy.

“Ons het die dagsorgsentrum letterlik binne enkele dae opgerig,” sê Ronel. “Ons kon die sentrum tot stand bring met die hulp van baie goeie vriende en skenkings. Bobby en Karlien neem verantwoordelikheid vir die maandelikse bedryfskostes, wat omtrent R20 000 sal beloop. Die sentrum het ʼn onderwyser, ʼn assistent en ʼn spysenier wat daagliks ontbyt en middagete vir die kinders voorberei.”

Volgens Ronel sal hierdie dienste die ouers in die gemeenskap nie ʼn sent kos nie. “Ons is nou besig om omsendbriefies per hand uit te deel aan die mense in die park, sodat hulle weet hulle hoef nie te betaal om hul kinders hierheen te stuur nie. Hulle hoef net hul kinders te bring en weer kom haal.”

“Ons het gister begin en daar was gistermiddag kindertjies wat gehuil het hulle wil nie huis toe gaan nie,” vertel Ronel. “Waar hulle voorheen net by die huis was met honger magies, is daar nou speletjies, inkleurboeke, legkaarte en nog wat om hulle besig te hou en twee maaltye per dag.”

Volgens Ronel moet afrondingswerk nog aan die sentrum gedoen word. “Ons moet byvoorbeeld nog ordentlike plaveisel kry, maar vir nou is ons aan die gang en die kinders het ʼn plek om heen te gaan. Ons het verskriklik hard gewerk, maar dit is absoluut die moeite werd.”

“Ons stap al ʼn baie lang pad saam met Hanna (Grobler) se liefdadigheidsorganisasie. Bobby en Karlien se jonger sussie, Cara, werk vanjaar tydens haar oorbruggingsjaar vir die liefdadigheidsorganisasie as vrywilliger,” vertel Ronel.

Die publiek kan skenkings maak aan die sentrum in die vorm van klere, kos en finansiële bydraes. Enige iemand wat graag wil bydra kan ʼn e-pos stuur aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

blommie ·

nie lank nie dan moet ons hoor die skooltjie is ook afgebrand . Maar well done julle hoop vir die beste

Help asb ·

Hulle kan gerus gaan kyk in die blanke plakkerskampe in Pretoria is die nood net so groot daar slaap die kinders onder die ope hemel op matrasse. Asseblief julle help!!!!

STAN MORTON DE AAR ·

HOE KAN EK VIRHIERDIE PLAKKERSKAMP KINDERS IN PRETORIA N GELDJIE BYDRA OM TE HELP. EK SAL DIT MET GRAAGTE WIL DOEN. STUUR VIRMY NET BANK BESONDERHEDE.
STAN INNIE KAROO

Landi Slatter ·

Dagsê Stan,

Dankie vir jou navraag. Enige iemand wat graag wil bydra kan ʼn e-pos stuur aan [email protected].

Groetnis
Landi nms Maroela Media

charmaine ·

Dit klink of die kinders gelukkig gaan wees daar.
Maar groot is my verbaasing daar is nog n van jaarsveld sussie, shame sy bly seker in die skaduwee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.