[Foto’s] Boereplaas-bordspeletjie kry nuwe lewe

Boereplaas

Foto: Verskaf

Boereplaas, die bordspeletjie wat jare gelede deur talle Afrikaanse gesinne gespeel is, het met die verloop van tyd ʼn stil dood gesterf. Vanjaar is dié bekende speletjie weer op die mark in ʼn pragtige nuwe baadjie.

Nico Steyn, ʼn onafhanklike skrywer, het ongeveer drie jaar gelede besef dat daar geen Afrikaanse bordspeletjies meer beskikbaar is nie en dat sy eie kinders nie iets soos Boereplaas het nie. “Die idee was, om nie net vir my kinders nie, maar vir alle Afrikaanse kinders wat nie regtig speletjies het nie, iets terug te gee van toe ons jonk was.”

Nico wou weer iets in Afrikaans daarstel wat nie eintlik meer beskikbaar is nie en sê dat families gewoond is aan televisie of om speletjies te speel wat Engels is. “Ek het net gedink dis ʼn goeie idee om ʼn Afrikaanse speletjie weer te laat herleef, en Boereplaas is ʼn bekende bordspeletjie.”

Volgens Nico het die hele proses ongeveer twee en half jaar geduur omdat dit baie administrasie en beplanning geverg het.

Dit wil voorkom of bordspeletjies in die VSA en Europa ook weer nuwe lewe kry, want volgens Nico het die verkope van bordspeletjies die laaste tien jaar met 10% per jaar gegroei. “Daar is beslis ʼn mark daarvoor, al is ons ʼn bietjie agter hier in Suid- Afrika, maar die reaksie wat ek kry, wys vir jou daar is ʼn behoefte daaraan.”

Vandag se kinders lewe in ʼn tegnologiese era en sal nie noodwendig iets soos ʼn bordspeletjie waardeer nie, maar Nico sê hy wou juis nie dié speletjie elektronies maak nie omdat dit nie doel is van Boereplaas nie. “Ja, tegnologie is ʼn moeilike ding, maar die bordspeletjie is ʼn alternatief vir kinders. Boereplaas is ʼn familie-ding en die kinders sal aanklank daarby vind omdat hulle nie gewoond is aan bordspeletjies nie.”

Die nuwe Boereplaas is ʼn moderne weergawe, maar Nico sê hulle het probeer om soveel as moontlik van die oorspronklike spel te behou. “Die basis van die spel is dieselfde, maar daar is moderne problematiek en voordele.”

Die nuwe ontwerp is juis só gemaak dat kinders en volwassenes dit sal geniet en Nico meen dat dié speletjie nie net oor speel gaan nie. “Dis ook opvoedkundig – dit leer jou ondernemingsgees en die beginsel van wins en verlies. Dit verduidelik jou ʼn bietjie meer oor die plaaslewe en dit leer kinders ook om met syfers te werk.”

Bestel die Boereplaas-bordspeletjie deur Maroela Media. Stuur ʼn e-pos na [email protected] of koop die bordspeletjie in ons Koöperasie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Sune van Heerden ·

Dagsê Charlene

Indien jy die Boereplaas-bordspeletjie deur Maroela Media wil bestel, kos dit R279.00 (BTW en posgeld uitgesluit). Stuur ʼn e-pos na [email protected].

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

ANDRE ·

En ek glo “oom Kallie” sal nog steeds die bogger wees wat alles opdons……………(vir die wat die spel onthou).

Sune van Heerden ·

Dagsê PJ

Indien jy die Boereplaas-bordspeletjie deur Maroela Media wil bestel, kos dit R279.00 (BTW en posgeld uitgesluit). Stuur ʼn e-pos na [email protected].

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Ruby ·

Charlene en PJ, a nee a, lees die berig weer mooi, die prys word genoem.

Sune van Heerden ·

Dagsê Ruby

Die prys is eers ná publikasie bygevoeg.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Johann Marx ·

Ek hoop die speletjie is realisties. Met plaasaanvalle, grond-eise en geen droogte hulp aan die orde v d dag is. Verder moet daar ook ‘n Supermark wees sodat die kids kan begin verstaan…..die boer koop die plaas, bewerk die grond, koop die trekkers en implemente, saai die saad, gee dit kunsmis, bid vir reën, trotseer die elemente, skep werk, oes die opbrengs, ry dit aan mark toe…..en kry R3 200,00 per ton. Dan vat die Supermark dit, sit dit op ‘n stukkie polistireen, draai dit toe met ‘n stukkie selofaan….en verkoop dit vir R23 000,00 per ton!! En dit gebeur met ALLES wat Suid Afrika se boere produseer…..

Maggie ·

Is dit moontlik om die speletjie direk af te haal? Indien moontlik, waar is die winkel? Ek sal dit nie betyds ontvang (voor ons met vakansie vertrek) as ek nou bestel nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê Maggie

Jy sal die speletjie by ons kantoor in Pretoria kan aanskaf.
Ek weet nie waar is jy geleë nie?

Stuur gerus ‘n e-pos na [email protected] om reëlings te tref.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Sune van Heerden ·

Dagsê Christelle

Nee ongelukkig nog nie. Bestel dit gerus deur Maroela deur ‘n e-pos te stuur aan [email protected].

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Christine ·

Ek onthou dit! As die niggies en nefies kom kuier, het dit ure se pret verskaf.
Hoop die jonger geslag geniet dit net so.

Jacqueline ·

Nico, eintlik moet ek nou kwaad wees vir jou omdat jy my idee gesteel het om dit te laat herleef, maar net omdat jy ook ‘n Steyn is, vergewe ek jou dadelik. Ek het nog die oorspronklike speletjie – die kartondoos waarin hy was, is al uitmekaar, maar glo my, ons (ek en my 13-jarige seun) speel nog steeds Boereplaas!! Dis die lekkerste speletjie en as maatjies kom kuier, is dit bo-aan die lys!! Jy verdien al die komplimente wat jy kan kry!!!!

Retha M ·

Daar was n ander bord speletjie wat ons as kinders ook gespeel het,wat met beroepe te doen gehad het. weet enige iemand dalk wat dit genoem was?

Ina Smith ·

Ons het ‘n oorspronklike speletjie en daar is iemand wat dit elektronies maak sodat dit deur middel van die internet gespeel kan word met medespelers ,, Die persoon het ons speletjie daarvoor geleen .. ons het dit gereeld gespeel saam met my skoonma voor sy oorlede is in 2012

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.