Foto’s: Botshabelo – Hoop op nuwe asem vir dié toevlugsoord

Die ingang van Botshabelo. (Foto: Petronel Fourie)

Ongeveer 12 km buite Middelburg in Mpumalanga, op pad na die Loskopdam, lê ʼn historiese skatkis onder stof, onkruid en omstredenheid versteek.

Dié skat se naam is Botshabelo en dit lê meer as 150 jaar lank reeds in die hart van ʼn plaas met byna 3 000 ha wat dit omvou. Maar by nadere ondersoek is dié skatkis in werklikheid Pandora se kissie. Vantevore het daar gawes in oorvloed uit dié kissie gekom, maar deesdae ontsnap daar eerder kwale.

Staan jy in die ingang van hierdie historiese terrein genaamd Botshabelo, wat toevlugsoord beteken, sien jy vér. Jou oë streel oor die grasvlaktes, strek tot by die fort, stryk aan tot by ʼn groep ou geboue.

Jy sien diep die verlede in, wanneer jy oor groot graspolle na ʼn stokou kerk struikel, oor sendelinge se drumpels strompel en jouself verplaas na ʼn tyd waarin dié afgeskeepte strukture geloof, hoop en liefde uitgestraal het.

Botshabelo is in 1865 deur die Berlynse Sendinggenootskap op die been gebring. Op vlug van Sekhukhune se vervolging van Christene, het Alexander Merensky die plaas Boschhoek (tans Toevlugt) van Jan Abram Joubert gekoop om daar ʼn nuwe sendingstasie te stig. Om hulle teen moontlike aanvalle van Sekhukhune te beskerm, het die sendelinge en hul 65 Noord-Sotho-volgelinge ʼn fort gebou en hulle ʼn entjie daarvandaan gevestig.

Binne die ou pastorie langs die kerk. Elke vertrek het nog mooi muurpapier teen die mure. (Foto: Petronel Fourie)

Kort daarna is ʼn kerkie, ʼn pastorie en ander huise gebou. Teen 1873 was daar 1 315 inwoners op Botshabelo en moes ʼn veel groter kerk ingewy word. Dié kerk, wat vandag nog redelik stewig staan, was jare lank die grootste kerkgebou in die destydse Transvaal.

Die nuwe sendingstasie het vinnig ontwikkel. Mettertyd was dit vir die Berlynse Sendinggenootskap die belangrikste, grootste en bes georganiseerde van sy soort; inderwaarheid ʼn model-sendingstasie. Dit was selfvoorsienend met landerye, tuinery, ʼn wamakery, steenmakery, bakkery, drukkery, meule en winkel.

ʼn Duitse skool is vir die kinders van die sendelinge opgerig en ʼn skool vir die gedoopte kinders van die plaaslike bevolking is in 1871 gestig. In 1878 het ʼn opleidingskool vir kategete en evangeliste gevolg, met ʼn opleidingseminarie vir onderwysers wat in 1906 in die lewe geroep is. ʼn Laerskool is in die 1930’s gebou en ʼn hoërskool met ʼn koshuis in 1940. Teen 1910 het Botshabelo reeds meer as 4 000 inwoners gehad, wat volgens Merensky se dagboek in groot harmonie saamgewoon het.

Hoewel Botshabelo feitlik saam met Middelburg ontstaan het, was die sendingstasie vir ʼn aantal jare belangriker as die dorp. Menige fortuinsoekers, jagters, swerwers en besoekende sendelinge het ook by Botshabelo aangedoen.

Die heel eerste kerkie wat gebou is. (Foto: Petronel Fourie)

In sy glorieryke dae het Botshabelo baanbrekerswerk gedoen. Een van die groot prestasies van dié stasie is dat die Bybel hier vir die eerste keer in ʼn Afrikataal vertaal is, in Sotho. Duitsland se goue sendingtydperk het egter sy glans mettertyd verloor en die sendingstasie is in 1971 gesluit.

ʼn Nuwe goue era is ingewy toe Middelburg se stadsraad Botshabelo in 1972 van die Duitsers gekoop het om die dorp se nuwe vliegveld uit te lê. Omdat net ongeveer 400 ha vir die vliegveld nodig was, moes ʼn funksie vir die oorblywende deel van die 2 600 ha gevind word. Die stadsraad het besluit om die sendingstasie te restoureer en as toeristebesoekpunt te ontwikkel.

Die eerste erfenisaktiwiteite op die terrein was die konstruksie van die Suid-Ndebele Museum aan die oorkant van die Klein-Olifantsrivier. Binne die eerste ses maande is twee sirkeldagstaproetes uitgemerk wat deur voetslaners gestap kon word. Die skilderagtigste roete het deur die kloof van die Klein-Olifantsrivier gegaan, met bobbejaanstertplante, reuse-kiepersolle en broodbome in oorvloed.

Die ingang van die Ndebele-stat wat met behulp van Lotto-fondse gebou is. (Foto: Petronel Fourie)

Jeanette Fraser, wat 15 jaar lank kurator van Botshabelo was, onthou dat die jeughostel oor naweke vol skoolkinders was. “Die kinders het die voetslaanroetes gaan stap of perd gery. Op Sondae het mense graag fietse gehuur en besonderse voëls gaan soek,” vertel sy.

Oor naweke het ʼn gemiddeld van vier toerbusse Botshabelo besoek, maar soms tot sewe op een slag. Dan moes die restaurantpersoneel bontstaan, want veral die varsgebakte brode is vinnig verslind.

Wanneer besoekers by die Ndebele-stat langs gegaan het, het die vyf Ndebele-vroue wat permanent daar gewoon het, uit die tradisionele hutte gekom om die mense te verwelkom. Dan is die besoekers aan die Ndebele-kultuur blootgestel, met vuurmaak- en verfdemonstrasies, danse en ʼn uitbeelding van hoe die Ndebele-boustyl oor die jare heen ontwikkel het.

Een van dié vroue, Ester Mhlangu, het groot bekendheid verwerf toe sy na Parys in Frankryk genooi is om haar Ndebele-skilderkuns daar ten toon te stel.

Die Pakendorf-huis. (Foto: Petronel Fourie)

Die kerkgebou is byna elke naweek vir troues benut en buiten die ou sendelinghuise wat as akkommodasie vir gaste verhuur is, was die woonwapark ook puik. “Selfs die burgemeester het baie dikwels by ons kom kampeer. Dit was ʼn lieflike plek. Nêrens anders het mens stilte ervaar soos dáár nie,” onthou Fraser.

Botshabelo het vele groot geeste opgelewer. Die politieke ontleder, skrywer en voormalige koerantredakteur Harald Pakendorf het op Botshabelo grootgeword. Hy onthou sorglose kinderdae met vryheid van beweging en genoeg speelmaats, wit en swart. Mense soos Hans Merensky, wat ʼn groot bydrae tot Suid-Afrika se mineraalbedryf gelewer het, Gerard Sekoto, een van Suid-Afrika se grootste beeldhouers, en Nhlanhla Nene, oudminister van finansies, kom ook van Botshabelo.

Maar ʼn grondeis het die sendingstasie, wat nou as terreinmuseum floreer het, se tweede goue era tot ʼn onverwagse stilstand gedwing. ʼn Groep van sowat 1 000 grondeisers maak, as afstammelinge van die vlugtelinge wat in 1865 saam met Merensky op Botshabelo gaan woon het, aanspraak op die grond.

Hul omstrede eis is in 2005 toegestaan en dus is dorpsbeplanning vir hul hervestiging reeds gedoen, kompleet met residensiële standplase, ʼn sakegebied, gemeenskapsgeriewe en ʼn gekombineerde skool.

. In 1878 het ʼn opleidingskool vir kategete en evangeliste gevolg, met ʼn opleidingseminarie vir onderwysers wat in 1906 in die lewe geroep is. (Foto: Petronel Fourie)

Hierdie ontwikkeling is egter in konflik met amptelike riglyne vir Mpumalanga se biodiversiteitsbewaring, wat dié spesifieke habitat as baie belangrik klassifiseer. ʼn Omgewingsimpakstudie het ook bevind dat die voorgestelde dorp binne ʼn bedreigde en kwesbare ekostelsel val.

Botshabelo is boonop in 1985 reeds as natuurreservaat geklassifiseer en kan met dié status nie ontwikkel word nie.

Die oorspronklike geboue was nog behoue tot 2005, maar ná die grondeis het dit onder vandale en diewe deurgeloop. Wanadministrasie het daartoe gelei dat die hooggeregshof die trust wat die terrein moes bestuur, ontbind het en hul bankrekening gevries het.

Tog het die hoop op herlewing nie beskaam nie. Ondanks binnegevegte onder die grondeisers is die agteruitgang ná meer as ʼn dekade van verval halt toegeroep en was Botshabelo teen Oktober 2017 weer oop vir toeriste. Die kerk is gerestoureer, oornaggeriewe ietwat opgeknap en elektrisiteitsverbindings weer aangebring.

Die terrein is nog nie ʼn skaduwee van wat dit in die gloriedae was nie en ontevrede eisers dreig deesdae om op die grond te kom plak omdat die dorpsontwikkeling nie vorder nie, maar ʼn kollektiewe sug van verligting het opgegaan toe die plundering gestaak is.

Fort Merensky. (Foto: Petronel Fourie)

Volgens die voorsitter van die trustees is hulle steeds van plan om nuwe lewe in die toeristebestemming te blaas. Daarvoor hou die gemeenskap nog asem op.

Tobie van den Berg, wat al baie jare lank redakteur van die plaaslike koerant is, meen dat Botshabelo weer kan floreer as Middelburg se munisipaliteit beheer terugneem. “Botshabelo is ʼn onontginde toeristeskat. Met ʼn bietjie moeite, soos om die telefoonlyne te herstel en ʼn webwerf te skep om oorsese toeriste ook te lok, kan dit as bestemming herleef,” sê Van den Berg.

Pakendorf glo dat ʼn toerisme-ontwikkelaar wat die plek huur en opgradeer die beste uitweg is. Vir Mauritz Naudé, wat in die 1980’s Botshabelo se kurator was, is die dryfkrag van die regte individue al wat ʼn verskil sal maak. “Die herstel en bestuur van die hele terrein moet deur ingeligte en ervare deskundiges bestuur word. Volhoubaarheid moet die wagwoord wees en ʼn bestuursplan moet streng gevolg word,” sê Naudé.

Botshabelo was dekades lank vir talle mense ʼn persoonlike toevlugsoord, ʼn plek van magiese sonsondergange en sielerus. Sou dié historiese skatkis afgestof en blinkgepoets kon word?

Belangriker nog, wat gaan volgende uit Pandora se kissie te voorskyn kom?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marous ·

Sou interresante debakel afgee as Meresky se afstammelinge en duisende afstammelinge van die ander inwoners wat saam met die ” vlugtelinge ” daar aangekom het ook
ge eis het ….

MCS ·

Jare terug ‘n trou bygewoon in daai kerkie. Was so romanties en spesiaal met baie kerslig vroeg aand gewees. So n heilige gevoel gehad. Net baie jammer die huwelik het nie gehou nie.

Naats ·

Dankie Rudi. Daar moet mos altyd daai een ou op die partytjie wees wat iets te se het oor alles. Vandag is dit jy

karen ·

munisipaliteit weer beheer neem? eish….. ek hoop dit word eerder opgebou dan as verder afgebreek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.