[Foto’s] Brakke stel wêreldrekord in Pretoria op

Foto: dotsure.co.za

Hondeliefhebbers van oor Gauteng het Saterdag by The Big Red Barn bymekaargekom om ʼn wêreldrekord te verbeter van die meeste honde wat bandanas dra.

Altesaam 765 brakke het met hul bandanas opgedaag om die vorige wêreldrekord van 764 honde, wat in 2015 in Canberra, Australië opgestel is, te verbeter.

Die troeteldierversekeraar dotsure.co.za het die geleentheid gereël om geld in te samel vir die Bond teen Wreedheid teenoor Diere (BWD) oftewel die Animal Anti-Cruelty League in Johannesburg.

“Een van die kwessies wat naaste aan die dotsure.co.za se hart lê, is die vermoë om seker te maak dat Suid-Afrika se diere die liefde en sorg kry wat hulle benodig,” het David Roche, besturende direkteur van dotsure.co.za, gesê. “Ons help troeteldiereienaars om dit te doen deur seker te maak dat hulle die ondersteuning het om aan hul troeteldiere se mediese behoeftes te voldoen, maak nie saak wat gebeur nie. As ʼn troeteldierversekeraar is dit ons verantwoordelikheid om dieremishandeling teen te staan.”

Die maatskappy het saam met die BWD gewerk en diereliefhebbers met #1Day800Dogs genooi om deel te wees van die projek. Die maatskappy het ook elke skenking wat aan die BWD gedoen is, rand vir rand geëwenaar en altesaam R50 000 is vir BWD ingesamel.

Pravin Patel, beoordelaar van die Guinness-wêreldrekords, het bevestig dat die rekord verbeter is. “Ons wens dotsure.co.za geluk met die poging en dat hulle bewusmaking geskep het vir die sorg en beskerming van diere.”

Cindy Price, algemene bestuurder vir BWD, het gesê die organisasie bedank elkeen vir die ondersteuning en bydraes wat hulle ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.