[Foto’s] Buffelsfontein Baard-olie oorweldig deur belewenis

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Ná vyf dae en ʼn tog van meer as 500 km deur die Vrystaat, is die Tastrap-span terug in Pretoria. Dié tog, wat op 21 November 2016 begin het, was daarop gemik om die publiek in te lig oor Solidariteit Helpende Hand se Skooltassieprojek. Die span het van die Gariep- tot by die Koppiesdam fiets gery, gedraf en geswem.

Die klein Vrystaatse dorpies het beswaarlik geweet wat hulle getref het toe Meyer le Roux en sy span by hulle aangedoen het op Bethulie, Reddersburg, Winburg, Ventersburg en uiteindelik Koppies.

Op Koppies het Le Roux sy laaste paar meter geswem voordat die hele gemeenskap by die dam bymekaargekom het vir ʼn heerlike kuier en braai.

Volgens Le Roux het die ondervinding hom stomgeslaan. “Ek het nie genoeg tyd gehad om al die mooi en goedheid in te neem nie,” het Le Roux gesê. “Ek het ontdek hoe mooi ons land en ook sy mense werklik is. Waar ons ook al gegaan het, is ons vriendelik ontvang. Motoriste het my aangemoedig en kinders se gesigte het opgehelder toe hulle tassies ontvang het. Dit was vir my ʼn voorreg om betrokke te wees by die uitdeelaksie op Reddersburg.”

Hulle het op Reddersburg besoek afgelê by die Landbouskool Hendrik Potgieter, wat tans baie swaar kry. Die skool het heelwat leerlinge wat van die President Kruger-kinderhuis op die dorp kom. Die kinders was verheug om Le Roux te ontmoet en hul tassies te ontvang.

Le Roux het sy driekamp-uitdaging voltooi, maar die projek is egter allesbehalwe verby en die publiek word steeds gevra om dit te ondersteun. “Ek oorhandig nou die projek aan my ondersteuners en die res van die land wie se harte warm klop vir kindertjies. Skenk ʼn tassie. Dit is meer as net ʼn tassie wat jy skenk – dit is hoop wat jy gee,” sê Meyer.

Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur die woord “Tastrap” na 39950 te SMS en betrokke te raak by die projek. ʼn SMS kos R2 of besoek www.tastrap.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Awie ·

Dit maak my Afrikanerhart sommer warm klop. Meyer en jou span, ek is trots op julle vir die goeie werk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.