Foto’s: Dapper gemeenskap red koei van gewisse dood

Drie lede van die reddingspan in die kanaal saam met die koei. Foto: Verskaf

ʼn Jong koei van Virginia in die Vrystaat wat drie dae lank in ʼn diep waterkanaal vasgekeer was, het nou die kans op ʼn nuwe lewe danksy die onbaatsugtige optrede van ʼn groep dapper mans en vroue uit dié gemeenskap.

Thea Smit, voorsitter van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Virginia, was Saterdag nog oorweldig deur die ure lange reddingspoging wat Vrydagnag afgespeel het om die koei te red. “Hierdie manne wat haar gered het, is vreesloos. Hulle is net ongelooflik. Saam met hulle sal ek oorlog toe gaan!” sê sy.

Smit vertel die koei het Dinsdag in die waterkanaal beland wat deur die Sandvet Watergebruikersvereniging bestuur word. Die kanaal loop ondergronds en openinge word met groot mangatdeksels bedek, maar dié word gereeld afgesteel.

Smit verduidelik die koei het vermoedelik Dinsdag in een van die mangate wat oop was, ingeval en só in die waterkanaal beland. Sy het minstens 3 km ver al langs die kanaal gestap, maar daar was geen manier dat sy kon uitkom nie. Vrydag het ʼn jong seun van die gemeenskap naby ʼn oop mangat na erdwurms gaan soek toe hy die koei van onder in die kanaal hoor bulk het.

“Hy het die DBV laat weet en ons is dadelik uit na die toneel om te probeer help,” sê Smit.

Hulp was egter nie maklik bekombaar nie. Smit het begin deur die SAPD te nader, asook die brandweerdienste. Hulle was egter nie bereid om te help nie, sê sy. “Die polisie het gesê dit is lewensgevaarlik om hul duikspanne daar te laat ingaan en hulle was net nie bereid om daardie risiko te waag nie,” sê sy.

Dit is toe dat Smit haar tot sosiale media gewend het. “Is daar enige waaghalsige mense wat dalk kan help?” het sy by haar inskrywing geskryf. Minute later het die hulp begin instroom.

Die koei kort nadat sy gevind is. Haar kop is net-net bo die water sigbaar. Foto: Verskaf

Smit vertel dat die reddingspanne van myne in die omgewing, beter bekend as Proto-spanne, onmiddellik ingestem het om te help. Proto-spanne van die Masimong-myn, Beatrix-myn en Joel-myn was kort daarna op die toneel en daar is planne beraam om die koei uit die water, wat 1,8 m diep is, te kry.

Mornay du Plessis het die hulp tussen die verskillende myne se Proto-spanne gekoördineer, terwyl Ernest Khakha, inspekteur van die Virginia DBV, en Mandela Phakira, veldoffisier van Virginia DBV, hand bygesit het.

ʼn Hyskraan en veeldoelige laaigraaf (TLB) is laat kom. Smit sê die hyskraan het aanvanklik vasgeval en die laaigraaf moes gebruik word om dit weer uit te lig.

“Die reddingsoperasie het ure geneem. In ʼn stadium wou ek amper moed opgee, want ek het gedink die koei het verdrink. Ons kon haar glad nie meer hoor of sien nie. Maar Ernest wou nie moed opgee nie. Hy het lusern gaan haal en dit laat afsak in die gat – en dit is toe dat sy die lusern ruik en teruggestap kom na waar ons haar weer kon sien,” sê Smit.

Intussen het André Fouche, Danie van der Watt en Peet Eloff ingestem om in die gat afgesak te word om by die koei te waak. Hulle het ʼn lap om haar oë gebind om haar te kalmeer en haar kalm en rustig gehou totdat die hyskraan gereed was om haar uit te haal.

Bande is om die koei gebind en sy is stadig maar seker uit die gat getrek na veiligheid toe. Dit was ongeveer middernag toe die koei uit die kanaal gebring is, ʼn volle tien uur nadat sy gevind is.

Die koei word behandel nadat sy uit die waterkanaal gebring is. Foto: Verskaf

“Sy was baie ontwater, seer en swak. Ons het haar dadelik antibiotika ingespuit en haar glukose en vitamiene ingegee. Sy was egter te swak om op te staan en ons wou nie die kans waag om haar in ʼn vervoerwaentjie te sit terwyl haar toestand so swak is nie.”

Dus het Khakha, Phakira, en nog ʼn DBV-werknemer, Samuel, ingestem om die hele nag deur by die koei te waak. “Hulle het eintlik laer getrek om haar om seker te maak niemand doen haar leed aan nie en het deurnag daar by haar gesit,” sê Smit.

Die koei, wat intussen Mina Moo gedoop is, is steeds daar waar sy uit die gat gelig is. Volgens Smit wag hulle dat sy eers sterker word voordat hulle haar na die DBV se perseel sal vervoer waar sy verder behandeling sal ondergaan.

“Ons dink sy is ongeveer so drie jaar oud. Wanneer sy heeltemal gesond is, sal ons met die eienaar onderhandel sodat sy beskikbaar gestel kan word vir aanneming. Ná alles waardeur sy is, wil ons nie hê sy moet net teruggaan en op iemand se bord beland nie. Ons sal graag wil hê dat sy na ʼn huis gaan waar sy iemand se troeteldier kan wees.”

Smit sê sy is steeds verstom oor die dapperheid en onbaatsugtige optrede van die Proto-spanne en almal andersins wat so gewillig hulp aangebied het. “Ek het regtig nie woorde nie; wat gisteraand hier gebeur het, was net ongelooflik. Jik Riesenbeeck, André, Danie, Peet, Molefi, William, Mandela … Daar was soveel mense wat gehelp het, dit is onmoontlik om elkeen by die naam te noem. Maar vir elke liewe persoon se bydrae en hulp is ek ongelooflik dankbaar.”

Enigiemand wat die Virginia DBV wil bystaan met finansiële skenkings vir Mina Moo se sorg en behandeling, kan hulle by 079 776 1153 nader.

ʼn Video volg onderaan die berig.

Hoe sé mens dankie? Ses letters is te min. Aan die dapper manne van die Oryx, Joël, Masimong en Beatrix Proto Spanne, julle is ongelooflik! Jik RiesenbeekDie manne wat by haar vir ure in die water gesit het, Andrè Faffa Fouche, Danie van der Watt en Peet Eloff van Joël, julle is ongelooflik en ware krygers, dankie! Hierdie dier sou nooit die volgende sonsopkoms sien as dit nie vir julle was nie! Julle is helde in die ware sin van die woord. Aan Concord Crane vir die kraan, Tripple Towing, Sandvet, Callie van African Cattle, ons weet nie hoe om dankie te sê vir julle rol in die reddings operasie nie. Molefi wat die kraan beheer het, William die TLB, dankie manne! Aan al die helde se vrouens wat hul deurgaans ondersteun het, dankie! Aan elkeen wat hul deel gedoen het, ons is ontsaglik dankbaar. Dankie Ernest van VSPCA dat jy nie opgegee het nie, ook aan Samuel en Mandela. Dan dankie aan my man, Dirk Smit, wat my in al my diere avonture nie net ondersteun nie, maar hand bysit en altyd help. My hart is warm en vol. Sy is baie moeg, maar lyk anders goed. Drink glukose water en reeds Vitamiene gespuit. Dankie dankie! Ek sal hier meer nuus oor haar bring sodra sy op haar voete is.

Posted by Thea Smit on Friday, February 8, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Dalena Coetzee ·

Ek salueer hierdie brawe manne. Hulle het duidelik groot respek vir lewe wat deur die Skepper van alles gegee is. Hoe wonderlik sal dit nie wees as alle mense sulke respek vir ‘n lewe het nie. Laat ons bid daarvoor.

Bulk of balk ·

n Koei bulk en n donkie balk.

Dankie vir almal wat gehelp het om die koei te red!

IK ·

Ja-nee, kyk as jy bang is of onopgelei dan bly jy weg. Per slot van rekening verwag jy ook betaling want dis mos ‘danger pay’. Daar is in SA geen beter as die myne se protospanne. As húlle vir jou sê ‘jammer’, dan is jou doppie geklink.

Helene ·

Baie dankie vir die vreeslose span wat Mina-Moo gered het. Ek salueer julle. Uiters swak van die Polisie en Brandweer! Sies!!

Sê maar net 1 ·

Wys net hoe onbevoeg en papbroek is die mense wat eintlik moet voorloop in die gemeenskap.
Ek salueer die proto manne

Pop ·

Lyk vir my mos of die swart werkers ook heel nag gewerk het maar hulle is nie op die foto van die manne nie. Dis sulke goed wat ander sien en dis nie mooi nie. Nogals heelnag daar gebly ook. Dis maar wat ek opgelet het.

Naas Vermaak ·

Ek stems saam POP….jou opmerking strek baie dieper deur ons land se geskiedenis…

Elizabeth ·

Kyk op die video, Pop. Hulle is daar. Hartverblydende storie. Dankie aan al die dapper manne. Daar is soveel goeie mense in ons land, en daar word so min van gemaak …

Sê maar net 1 ·

Sien alweer kleur raak. Liewe hemel. Die koei was bruin het jy dit ook opgelet?

Wiki ·

ek stem saam met jou. ongelukkig @ Elizabeth en @se mmar net 1, bly ons in ‘n land waar ons tog so polities korrek moet wees. Dit is ‘n mooi storie en dankbaar aan almal wat gehelp het. die arme koei. Maar ja, moes maar foto van die 3 manne gehad het.

Maria ·

wooow!!! Dankie….dankie…dierebare mense . Baie mooi storie…laat almal se harte trots wees aan julle almal wat omgee

Gert ·

Dank die Here vir sulke dapper en onbaatsigtige Engele, dit is n wonderlike “storie”!!

Arno ·

Die gees van “ware” Suid-Afrikaners vasgevang in ‘n paar fotos. Dankie manne. Julle laat ons borse bars van trots.

Arno ·

Dankie manne.
Deur Julle is die ware gees van Suid-Afrikaners in ‘n paar fotos vasgevang. Ons is so trots op julle.

Frikkie Geld en huis ·

Wat ‘n gelukkige dag vir my. Ek soek lankal na so ‘n koei om aan te neem.

Wilma ·

Elke liewe een betrokke was by hierdi brawe redding
Jul is mense uit eenstuk
Mense met omgee harte. Daar.nie genoeg woorde om jul te bedank nie. Glo Mina Moo sou jul graag wou bedank met woorde indien dit moontlik was

E.K. die eerste ·

Verdampte mangaatdekseldiewe… Mina bly jy kan Mooi en lewendig bly!

Johann cb ·

Mina Moo, ek is só bly jy is veilig. Hopelik sterf (vrek) jy eendag aan natuurlike oorsake!

Trixie ·

Dis so lekker om weer n goedvoel storie te lees, ek kry trane in my oë en sluk swaar aan die knop in my keel. Dankie aan almal wat betrokke was! Daar is genuine nog goeie mense wat omgee! Baie verfrissend!

Elvira ·

Dankie Maroela vir hierdie pragtige storie. Dankie ook aan al die dapper manne wat haar gered het. In nood staan ons mense altyd saam.

V-TOWN ·

As iemand wat van Virginia af kom en wie se Pa vir baie jare in die Proto gedien het is dit n storie van trots! Die mense waag hulle lewe nie net vir mens nie maar vir dier ook. Dankie tannie Thea en almal wat betrokke was.

Vir die wat nou weer die ras kaart wil gooi op sosiale media is daar meer as genoeg fotos van almal wat gehelp het.
En as julle weet hoe die Proto Span in mekaar pas en wat hulle tradisies is sal julle weet na elke suksesvolle redding neem die PROTO span n foto saam as n PROTO span nie as n span van almal wat gehelp het nie in die gemeenskap nie, maar as n PROTO SPAN.

Hou op om die fout in ander se oë te soek en loop kyk eerder jouself diep in die oë en vind jou eie fout, die dat jy nou so soekerig is vir probleme en foute. Jy sal verbaas wees wat jy in jouself sal kry as jy n slag stil staan en self ondersoek doen!

Lank (en veilig) lewe die Proto en Mina Moo!

Margaret ·

Ek is eintlik hartseer van trots èn DANKBAARHEID.. DANKIE aan julle almal wat betrokke was…..God sèen julle!!!!!!

V-TOWN ·

Vir seker… Gebore en groot geword. n Mens moet nooit vergeet van waar jy kom nie anders sal jy nie weet waarheen jy oppad is nie. Ek is so eg V-Towner soos n Flying Saucer Sondag Roomys :)

Muffin ·

Trixie en Elvira ek stem volkome saam met julle. Dit is altyd net roof, moord en dood.
Baie dankie vir die PROTO SPANNE en almal wat gehelp het.
Hoop ons kry terugvoer oor die koei se vodering

Anton ·

Wel gedaan julle Virginia mense! Respek en eer aan julle wat so n goeie voorbeeld stel elke liewe dag. N spesiale gemeenskap wat respek en dank verdien en dit nie vra nie!
PS: wat van beton deksels oor die gate?

Cynthia TREDOUX ·

So BAIE BAIE TROTS op die span wat vir Mina Moo gehelp het…BAIE DANKIE OUENS…wil vir my alte veel lyk dat die SAPD…deesdae baie kieskeurig is met HULP VERLENING…ag nee manne…moenie soos SISSIES wees…kyk na hierdie ouens…hul het vir Mina Moo bygestaan…deur die nag by haar gewaak…en haar van n gewisse dood gered.

Malva ·

Goed gestel, my pa was ook op proto-spanne, lede uitstekend opgelei en bereid om te help

Helien ·

Ai dit is n mooi storie. Maak my hart so warm om te weet daar is nog mense wat werklik om gee vir diere.

Helien ·

Ai dit is n mooi storie. Maak my hart so warm om te weet daar is nog mense wat werklik om gee vir diere. Trots om n Suid Afrikaner te wees.

aj ·

Eers ‘as die kalf in die put is’ … dan staan ons mense saam!

Baie geluk!!!

JohanL ·

Dankie vir mooi storie en baie dankie aan almal wat gehelp het. Mag die wat hul rug gedraai het op Mina Moo iets leer hieruit.

Lee ·

Dis nou ‘n mooi storie. Dankie vir almal betrokke om haar te red. Julle is great!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.