Foto’s: Dassies se donkies kry eie eetkamerstel

Die donkies van Dassiesfontein se padstal span onder hulle eie reusagtige eetkamerstel uit. (Foto: Bradley Lakay/Dassiesfontein.)

Dit was nog altyd lekker om by die Dassiesfontein-padstal langs die N2-deurpad tussen Caledon en Botrivier in die Overberg aan te doen. Dan kan jy sommer gou ʼn melkskommel geniet en ʼn wortel of twee met die padstal se trop donkies deel. Nou het jy egter selfs ʼn groter verskoning om eers hier te kom uitspan.

Die trop donkies van Dassiesfontein-padstal was nog altyd ʼn toerisme-aantreklikheid in eie reg, maar nou spog die diere met hulle eie allemintige eetkamerstel, wat sommer meer as drie meter hoog staan.

Andelien Lakay, bestuurder van Dassiesfontein-padstal se restaurant, het aan Maroela Media gesê die eienaar, Sassie Fick, speel al lankal met die gedagte om ʼn reusetafel en ʼn stel stoele vir die donkies te laat bou. Hy het glo ʼn foto van iets soortgelyks gesien wat vir perde oorsee gebou is.

“Die oumas en hulle kleinkinders kom kuier graag vir ons donkies, maar soms het die mense gekla hulle voel die donkies kort meer skuiling.

Die oulike trop donkies was nog altyd gewild by toeriste wat eers by die padstal stop. (Foto: Corlie van Aswegen.)

“Dis nou vir die donkies wat reeds silwer hokke het en elke week ʼn ‘pedi’ en ʼn ‘mani’ kry terwyl hulle hare ook versorg word, maar nou is daar darem sommer genoeg koelte vir die donkies ook,” vertel sy.

Die tafel, wat 2,8 m hoog staan en 3,2 m lank is, met sy twee stoele, wat 3,4 m hoog en 1,9 m breed is, is deur Derrick Jenken, ʼn skrynwerker van Caledon, vir Dassiesfontein gemaak. Die stel is kort na die verslapping van die afsonderingmaatreëls geïnstalleer.

Finale afrondings, wat blomme en ʼn tafeldoek insluit, is Maandag op die tafel gesit. “Ons sou sommer ook nog ʼn bottel wyn vir die donkies bygesit het; dit is as ons nou mag wyn verkoop het,” spot sy.

Andelien wou nog wag vir ʼn mooiweersdag met die regte beligting om die perfekte foto’s van die donkies saam met hulle eetkamerstel te neem, toe haar man, Bradley, vir haar Woensdag sê hy het sommer reeds ʼn paar foto’s gekliek. Dit is sommer dieselfde dag nog op Dassiesfontein se Facebook gedeel.

Die opskudding wat die Overbergse donkies se nuwe huisraad sou veroorsaak is nie iets wat Andelien-hulle verwag het nie. “Ek het later dieselfde aand nog vir my man gesê ek gaan my foon heeltemal afskakel want hy ping-ping die heel tyd soos wat die mense die foto’s deel en kommentaar gelewer het.”

Sy het egter al die padstal se Facebook-ondersteuners bedank vir hulle entoesiasme en aangemoedig om so gou moontlik weer ʼn draai daar te kom maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Annakapat ·

Dis dierbaar! So bly daar word so mooi na die donkies gekyk.
Dankie Dassiesfontein!

Jaco ·

Haha!! Baie oorspronklik! Mag die donkies hul nuwe meubels geniet.

Prikkie ·

Donkie is ‘n wonderlike ding en hulle verdien om goed behandel te word!

Dankie Dassiesfontein!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.