[Foto’s] Een jaar ná baanbreker-operasie: ʼn Vol lewe wag op klein Leah

Le Sueur, Manda en Leah-Marie (Foto: Facebook)

Een jaar nadat ʼn baanbreker-operasie op die toe ses maande oue Leah-Marie van der Riet uitgevoer is, leef dié “mooiste en vriendelikste dogtertjie” vandag die lewe van ʼn doodnormale kleinding.

Inteendeel, verduidelik haar ma, Manda – sy het alle verwagtinge oortref, vinnig herstel en vergestalt vandag “die genade en liefde wat God” aan die gesin bewys het.

Maroela Media het vroeër berig Manda en haar man, Le Sueur (27), se eersteling is op 15 Oktober verlede jaar met ʼn keisersnee in die lewe gebring. Sy is ʼn maand te vroeg gebore en het nie ʼn borsbeen gehad nie. Dokters het dié geboortedefek nie tydens die swangerskap opgemerk nie.

Dit was die eerste van dié tipe gevalle in Suid-Afrika, en sou beteken dat Leah-Marie se belangrike organe soos haar slukderm en die hoofslagaar na haar hart beskadig kon word as sy ’n hou teen die bors sou kry aangesien daar geen been was om die organe te beskerm nie.

Dokters het tydens die operasie die beentjie aan die onderkant in ʼn V-vorm gesny en die twee gedeeltes aan elke kant na mekaar toe getrek. Hulle het ook die boonste drie ribbes aan elke kant met 5 mm elk verleng om te verhoed dat die borskas te styf is en te sorg dat daar meer ruimte vir haar organe is.

“Vandag gaan dit só goed met ons,” vertel Manda. “Dit was ʼn uitdaging om te verseker dat sy op die herstelpad bly omdat daar baie voorskrifte was van wat ons mag en nie mag doen nie. Ons moes haar byvoorbeeld heeltyd probeer stilhou. Sy mag ook nie haarself opgetrek het teen iets nie, en ons mag haar ook nie onder haar arms opgetel het nie. Dit alles was ʼn uitdaging, maar met genade is ons daardeur.”

Manda sê dokters is intussen baie tevrede met Leah-Marie se vordering en herstelproses.

“Ons was in September by die pediater gewees, en sy het gesê dit lyk byna nie eens of Leah-Marie geopereer is nie, so mooi het die wond herstel. Dit is wonderlike nuus, veral omdat ʼn mens soveel vrae het wanneer so ʼn klein mensie geopereer moet word. Sy is ook terug by die kleuterskool, en hoewel ons én hulle baie versigtig is, lewe sy normaal, ontwikkel goed en kan al haar mylpale haal.”

Die gesin besoek die chirurg weer in Junie sodat x-strale weer geneem kan word. Manda sê die gesin is in dié tyd net deur genade gedra.

“Afgesien van alles, gaan dit uitstekend. Die Here was so goed vir ons, en het in al ons behoeftes voorsien. Sy genade was werklik vir ons genoeg gewees. Sy is die pragtigste en vriendelikste dogtertjie en ons is só trots op haar. Die Here is in beheer van ons lewe en die Voorsiener van alles wat ons nodig het.”

Onse Leah'tjie het begin loop! ????Prys die Here!????

Posted by Leah-Marie van der Riet on Saturday, November 19, 2016

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Help 'n bietjie ·

Dis fantasties. So bly sy kan ‘n normale lewe lei. Net een vreemde opmerking, ek probeer vasstel hoe oud sy is, die berig lui dat sy VERLEDE jaar OKTOBER gebore is, maar dat hulle SEPTEMBER by die pediater was en dat hy tevrede was met haar vordering?

Carina Langenhoven ·

Ons is almal saam met Manda en Le Seuer bly oor die wonderwerk kindjie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.