Foto’s: Egpaar verloor troufoto’s; herskep groot dag in 12 lande

Warren en Ché Dyer (Foto: Instagram)

deur Cyril Blackburn

Nadat ʼn KwaZulu-Natalse vrou en haar man al die foto’s van hul sprokiestroue in die Natalse Middellande verloor het, het dié egpaar hul deftige trouklere in ʼn koffer gepak en dié foto’s in 12 ander lande herskep.

Warren en Ché Dyer, wat deesdae suid van Londen in Tooting in Engeland woon, het Woensdag aan Maroela Media vertel hulle was aanvanklik “verpletterd” toe hulle al die foto’s van hul groot dag in 2013 “in ʼn oogwink” verloor het – iets wat hulle as ʼn “tragedie” bestempel.

“Die foto’s was alles op ʼn hardeskyf gelaai wat op ʼn tafel in ons huis gelê het,” vertel Ché. “Die fotograaf se hond het in die verbyloop die hardeskyf van die tafel afgestamp. Hy het die hardeskyf probeer aansit om te kyk of die data behoue gebly het – en elke liewe foto wat tydens ons troue geneem is, was verlore.”

Volgens haar was die data op dié hardeskyf die enigste kopie van die troufoto’s. “Ek het heeldag lank gehuil. Dit was ongelooflik hartseer om te dink ons gaan nie een foto van ons groot dag saam hê nie,” sê sy.

Warren en Ché Dyer (Foto: Instagram)

Sy vertel hulle sou in 2013, kort ná hul troue, ʼn musiekfees in België bywoon. Dis waar Ché met die idee vorendag gekom het om hul troufoto’s te herskep.

“Ek het half as ʼn grap aan Warren genoem dat ek my trourok na die musiekfees gaan inpak om deftig aan te trek, maar hy het sommer dadelik geantwoord: ‘Dis reg, wat moet ek inpak?’ Die gogga het daarna behoorlik gebyt en ons was verlief op die uitkoms.”

Die egpaar het sedertdien foto’s laat neem in die Franse Alpe, by die operahuis in Sydney in Australië, in Swede, by die Eiffel-toring in Parys en by die Lion Sands-natuurreservaat.

“Verbygangers wens ons altyd geluk met ons troue omdat hulle onder die indruk is dat ons pas getrou het,” lag sy. “Ander op sosiale media sê hulle is gaande oor die unieke konsep van ons trou-album. Vir ons is dit bloot lekker, ons is dankbaar dat ons ʼn nare ervaring in ʼn lekker geleentheid kon omskep het, en ons sal dit waarskynlik nog doen totdat ons heeltemal verveeld is daarmee.”

Al die foto’s word met vergunning van die egpaar geplaas. Besoek hul amptelike Instagram-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Wow ·

Wow…..wow….wow!! Pragtige fotos en dis nou ekstra spesiaal!

Elizabeth ·

Sjoe, wat ‘n verleis!!! Ek sou my doodgehuil het en die ander ouens gevra het of hulle iets het (dis wat my seun-julle gedoen het. ) Maar om so oorboord te gaan, klink bietjie kinderagtig. Oor 10 jaar is die foto’s vergeel en word een of 2 in julle badkamer uitgestal, dan kom die klienkinders en niemand wil meer weet hoet het ouma en oupa gely(k) nie. Mens wil dadelik oorboord gaan, maar besin tog maat eers ‘n paar maande of julle dan nog lus is vir ‘n maandelange uitgebreide troue. Die magic sal julle nie meer kan agterhaal nie … vliegtuivoos sal julle tyerugkeer ,,,

CK ·

REGTIG!! As mens niks goed te sê het nie, dan hou jy dit vir jouself

Meraai ·

Ek het altyd as kind my oupa en ouma bekyk op hul troufoto’s wat vir jare in die gang gehang het in hul huis. Dit hou nou in my tannie se huis met trots en ons bewonder dit nou nog. Tot laas jaar ontdek my jongste neef ‘n troufoto van my oupa en ouma hang in ‘n lodge in hul kantore. Die plaas het aan my oupa groot behoort en is nou nog in die familie. My neef kon met trots se dit is my oupa en ouma. So kleinkinders kyk nog met trots na oupa en ouma en is nie vergete nie.

Haibo ·

Neewat . ek dink dit is ‘n awesome idee want hoe op aarde verloor jy al daardie memories en maak dit andersins weer op? Dit is ‘n oulike idee, dink net dit kos vrek baie geld, maar dit is hulle probleem. ELEKTRONIESE fotos word nie geel nie my ding, jy kan dit weer en weer uitdruk en elke keer is dit weer van vooraf nuut .. regtig in watter era woon TANNIE??

sith-lord ·

Elizabeth in jou woorde, “om so oorboord te gaan klink bietjie kinderagtig”… so wat is jou “expert opinion” oor dit wat kinderagtig is, of is dit net dit… “‘n opinie”. Het jy jou doktorale tesis publiseer mbt tot “volwasse gedrag”? Daar is verskeid denkrigtings wat glo ‘n bietjie pret is al wat sommige mense aan die gang hou. So as die paartjie dit verkies, en natuurlik kan bekostig om so ‘n reis aan te pak hoe raak dit jou? Het jou kenners-kommentaar rerig iets bygadra tot dit?

VanAfrika ·

Regtig, lewe jy glad nie vir die oomblik nie, wat n avontuur saam die een wat jy liefhet. Goeie idee en beste memories ooit. Het mense ontmoet wat hulle nooit gedink het hulle sou nie en dalk iemand se lewe verander en baie plekke gesien waarvan jy net kan drooom. My fotos is al 25 jaar oud en glad nie vergeel nie en dit sal aan my kinders gaan aan herinnering van ons as hul ouers en kleinkinders sal die herinneringe deel en dalk ook agterklein kinders. En daar is altyd magic aan foto’s of dit nou is of van die midevil tye kom, dit prikkel altyd mensdom se nuuskierigheid.

Ekke ·

So ‘n stunning idee…
Dat die bruid waarde uit haar trourok kry is ook ‘n feit soos ‘n Koei.

Elizabeth hoekom is dit kinderagtig? Dit is vir my heel romanties en lyk na vet pret.

Carla ·

Elizabeth, jy klink vir my ‘n bietjie jaloers…

Gun elkeen sy idee van geluk. Ek dink dis ‘n briljante idee en as ek die geld gehad het, sou ek dit ook gedoen het. Fotos word nie sommer vandag meer geprint om te vergeel nie, dis baie digitaal.

Probeer bietjie lig en geluk in die lewe raak sien…..

Uvonka ·

Wragtig pragtig en ‘n baie oulike idee! Gun julle weer ‘n kans om julle spesiale dag en mooi liefde weer te vier!

Adri ·

Ek is mal daaroor!!! En nou is die fotos seker nog mooier as die troudag. Baie geluk vir elke keer wat julle “weer” trou. Dink nie mens sal ooit verveeld kan raak met die idee nie.

Beïndruk ·

Ek’s net beïndruk dat sy steeds in haar trourok pas. Wel gedaan! Ek kon van ‘n maand na ons troue nie weer in my rok pas nie en nou hang dit maar doer agter in die kas.

Valerie ·

Wel. ek moet hulle komplimenteer. Al wat ek kan afllei uit die storie is dat hul liefde dieper as fotos is. En dit is mooi. Mag hulle lank gelukkig wees.

Hannelie ·

WOW !!!! WOW !!!! WOW !!! Ek is absoluut mal daaroor, en dis ‘n briljante idee. Julle is twee sulke pragtige mense ook daarby. Ek glo die fotos is of sou mooier gewees het as die vorige.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.