Foto’s: Erfenisterreine afgestof, verfraai

Louw en Elri Geldenhuis werkskaf om die konsentransiekamp op te ruim. (Foto verskaf)

’n Groot groep vrywilligers, wat die Voortrekkers en Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) insluit, het onlangs hul moue opgerol vir ’n goeie doel; so is die Turffontein-konsentrasiekamp Helde Akker in Pretoria skoongemaak.

Dié konsentrasiekampterrein in Mondeor, buite Alberton in die suide van Johannesburg, is al vir ’n geruime tyd ontoeganklik vir lede van die publiek en gevolglik het die toestand van die historiese begraafplaas drasties agteruitgegaan.

Suiderlig Voortrekkerkommando, tesame met die FAK, het daarom besluit om hande te vat en die terrein weer op te knap.

Gerhard Gericke, oordleier van die Oosvaal-Voortrekkers, het gesê dit is vir hom ’n riem onder die hart om te sien hoeveel mense nog saamstaan om hul erfenis te beskerm.

“Dit was verblydend om te sien dat mense wat nie noodwendig ’n verbintenis met die Voortrekkers of FAK het nie, hul hande opsteek en sê ‘kom ons help, want dit is ons erfenis’. Ons besef daar is ten minste nog vier Saterdae se werk wat voorlê voor die terrein weer in ’n goeie toestand gaan wees en daarom is daar reeds planne gereed daarvoor.”

Buiten diegene wat skoongemaak het, was daar ook ’n groep radio-amateurs teenwoordig op dié dag om saam met Heritage On The Air (HOTA) die geleentheid uit te saai en die boodskap van hoop en vooruitgang wyd en syd te versprei.

Die groot groep vrywilligers wat ingespring het om die Turffontein-konsentrasiekamp skoon te maak. (Foto verskaf)

Hendri van der Loo, kommandoleier van Unika Voortrekkerkommando, was ook saam met sy Verkenners verteenwoordig om as deel van hul Erfenis-spesialisering te leer wat die waarde is van kultuur- en erfenisbewaring. In die proses het hulle ook hulde gebring aan die afgestorwenes deur die plek waar hulle ter ruste gelê is weer op te knap.

Van der Loo, wat ’n kenner van dié omgewing en geskiedenis is, het vertel dat die destydse konsentrasiekamp op die ou Turffontein-perderenbaan geleë was. Vroue en kinders moes dus bykans ses kilometer ver loop om hul geliefdes ter ruste te lê.

FAK durf wind en weer aan vir Helde Akker

Aldin van Beest (Foto verskaf)

Verteenwoordigers van die Erfenisstigting, Boer Media, De Goedehoop-koshuis, wat studente van Tukkies, Akademia en Sol-Tech huisves, AfriForum Jeug en twee plaaslike Voortrekkerkommando’s, Polsslag en Rietvallei, het ook hul krag agter die projek gegooi en gesorg dat honderde geskiedkundige grafte in dié bekende begraafplaas skoon en netjies gemaak kan word.

Barry Müller, kultuurkoördineerder van die noordelike provinsies van die FAK, het gesê dat hy dankbaar is vir die opkoms en trots om te weet dat mense steeds bereid is om vroegoggend op ’n koue, nat Saterdag op te staan en hierdie soort projekte aan te pak.

“Dit het net weereens bevestig dat mense trots is op hul Afrikaner-identiteit en ’n bewys van kulturele selfvertroue wat ’n gemeenskap help om saam te werk aan ’n gemeenskaplike doel. Selfdoen is soms net so belangrik soos saamdoen,” het Muller verduidelik.

Die FAK se Moot Kultuurnetwerk het hard gewerk om dié projek van stapel te stuur en wat opvallend was, was hoeveel jong mense hierdie week hul moue opgerol het om hul kultuur te beskerm.

Esmé Cilliers, een van die jong Voortrekkers teenwoordig, het die vraag gestel: “Hoekom is dit belangrik om daar te wees?”

“Die antwoord is eenvoudig,” vertel haar pa, Jaco. “Al die mense wat hier lê, mense soos Paul Kruger, Andries Pretorius, Jopie Fourie en Hendrik Verwoerd, het gehelp om hierdie stad en die land te bou, daarom is ons hier om ons dankbaarheid aan hulle te betoon.”

Die FAK is al jare lank besig om die geskiedkundige erfenis te beskerm en pak gereeld projekte aan om geskiedkundige terreine op te knap. Vir meer inligting oor die doen en late van die FAK, nader gerus een van die FAK-Kultuurkoördineerders om meer te wete te kom oor projekte in jou omgewing:

De Goedehoop-koshuis se inwoners maak Paul Kruger se graf skoon. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Dankie aan al die vrywilligers betrokke vir jul harde werk, word opreg waardeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.