Foto’s: Fliekaand in pajamas; ‘Dis ʼn fees om vrou te wees’

Mandi Baard, Izelle Hoffman, Lynette Beer en Elizma Theron het saam by Ster Kinekor in Centurion gefliek.

Nagenoeg 2 000 vroue het Donderdagaand in hul pajamas by verskeie fliekteaters reg oor die land opgedaag in ’n poging om ’n Guinness-wêreldrekord te laat spat vir die meeste vroue wat gelyktydig in hul nagklere gaan fliek.

Die tydskrif Finesse het dié massa fliekaand ten bate van Solidariteit Helpende Hand gereël en ter selfde tyd is Vrouedag op ʼn gepaste wyse gevier – talle vroue saam vir een doel.

Deelnemende vroue het die aksieverwerking van die immergewilde animasiefliek The Lion King in Pretoria (Kolonnade en Centurion), Oos-Rand (Carnival City), Vanderbijlpark (Vaal Mall), Bloemfontein (Mimosa Mall) asook in Kaapstad (Tygervallei) gaan kyk en bekendes soos Mandi Baard, Elizma Theron, Izelle Hoffman en Lynette Beer het saam by Ster Kinekor in Centurion gefliek.

“Daar is min dinge so spesiaal en kosbaar soos klomp vroue saam. Veral dan op Vrouedag en in Vrouemaand. Vanaand se atmosfeer is regtig magies,” het Mandi tydens die fliekaand gesê.

“Ons is opgewonde om saam te kuier, saam te fliek en mekaar net te geniet. Om boonop ʼn verskil te maak in ander mense se lewens is net ongelooflik. Om te kan help met Helpende Hand se #StopHonger-projek beteken soveel meer as net fliek in jou pajamas.”

Vroue is gevra om nie-bederfbare blikkieskos na die teaters te bring. Hierdie kos word geskenk aan die #Stophonger-projek wat etes verskaf aan minstens 8 000 behoeftige kinders by skole.

Beer is uitgevra oor die verskil wat 2 000 vroue in Suid-Afrika kan maak waarop sy geantwoord het dat vroue moet besef dat daar ʼn ongekende dinamika onder hulle is. “Ons is soos ʼn legkaart. Die een pas by die ander een in. Ons is uniek en dit kan ʼn ongekende verskil in hierdie wêreld maak, nie net in Suid-Afrika nie.”

Hoffman het op haar beurt benadruk dat vrouwees gevier behoort te word al is dit net een keer per jaar. “Reg oor die land is daar ʼn klomp groepe vroue wat bymekaar kom in verskillende fliekteaters om te sê dit is ʼn fees om ʼn vrou te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Essa ·

Prettig! Waar kry jy nog so ‘n geleentheid om so gemaklik aangetrek uit te gaan. Dis die gees dames.

Susan ·

Hoe lyk dit met ‘n dag spesiaal vir manne? Waarom word manne dag nie ook gevier nie? Wonder maar net, want daar is mans wat kinders alleen groot maak. Ek ken ‘n paar sulke mans & hulle doen beter as sommige vrouens

Wonder net ·

Nagklere? My se voet, ek laat my ni vertel di dames slaap met di pakkies ni.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.