Foto’s: Gemeenskap hou inry-kerk in park

Mense in sowat 70 voertuie het die El Roi Teater-gemeente se diens by gewoon. (Foto: Verskaf)

El Roi Teater, ʼn gemeente in Brakpan, het Sondag ʼn inry-diens aangebied wat deur mense in sowat 70 voertuie bygewoon is. Dié diens, waartydens kerkgangers in hulle voertuie na die diens kon luister, is in ʼn plaaslike park aangebied.

Pastoor Willie Olwage, leier van El Roi Teater, sê die kerk wou graag tydens die inperking ʼn Sondagdiens aanbied waar daar steeds ʼn gevoel van samehorigheid is en hulle het die hele gemeenskap genooi om die diens by te woon.

“Dit is moeilik om in ʼn kerk ʼn diens te hou wat slegs deur 50 mense bygewoon kan word en waar daar steeds sosiale distansiëring toegepas word,” sê Olwage.

“Ons het gesien ʼn paar kerke in die buiteland asook ʼn paar plaaslike kerke het dienste op dié inry-wyse gehou en ons wou dit ook graag doen. Ek het met die owerhede gesels en die nodige toestemming gekry om so ʼn diens aan te bied voordat ons die bal aan die rol gesit het.”

Pastoor Willie Olwage en gospelsangeres Bernice Borman. (Foto: Verskaf)

Die gospelsangeres Bernice Borman is ʼn lid van die El Roi Teater-bediening en het haar klanktoerusting beskikbaar gestel vir die diens. Borman het ook tydens die diens gesing.

“Ons het ook ʼn klein FM-sender gebruik sodat mense hul motorradio’s kon instel om na die diens te luister. Die meeste van die mense in die motors het egter sommer so deur die oop ruite van hul motors geluister,” sê hy.

Hy lag wanneer hy vertel die mense in die motors het by tye uit pure opwinding toeters gedruk en motorligte geflits.

“ʼn Hele paar mense het uit hul motors geklim en hul hande in die lug opgesteek, maar ʼn aanvaarbare sosiale afstand is steeds behou. Die atmosfeer was ongelooflik en dit was ʼn unieke belewenis. Daar was selfs fietsryers wat ons in die verbygaan sien preek het en gestop het om te luister.”

Olwage sê hy hoop dat ander gemeentes ook hierdie soort geleenthede vir hul lede en gemeenskappe sal skep om weer saam te aanbid. “Groter kerke met groot parkeerterreine kan self die dienste op hulle eie perseel aanbied.”

Hy het ʼn video van die diens op sy Facebook-blad gedeel, wat reeds sowat 6 500 trefslae gekry het. “Die terugvoer wat ons gekry het, is ongelooflik. Ek was bang dat die diens baie onpersoonlik gaan wees, maar tog het die mense dit só geniet. Ek hoop ander gemeenskappe steek aan, want ons mense is honger om saam te aanbid.”

Ons diens in die park ! Wat n blessing.

Posted by Willie Olwage on Sunday, 7 June 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elize

Maroela, die sangeres is BERNICE Borman…

Die Wolf

Mooi man. Waar daar n wil ,is daar n weg..

Rachel

Dis nou ‘n bakgat plan Willie, maar dis hoe ek jou onthou, ‘n man wat ‘n plan sien.

Gemaskerde Sopbeen

Vo0l punte vir julle geloofsdaad

Martie

Prys die Here dat ons nog vrylik die Here kan dien