Foto’s: Gordyn lig vir AfriForum Teater

Die AfriForum Teater in Pretoria. (Foto: Christa Steyn Bezuidenhout/Maroela Media)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 3 Maart tydens ʼn regstreekse aanlyn geleentheid sy nuwe teater in Pretoria ingebruikgeneem.

Menige teaterganger sal onthou dat die Brooklyn-teater vroeër vanjaar weens die Covid-19-pandemie noodgedwonge sy deur moes sluit. Sedertdien is dié perseel in die Greenlyn Village-sentrum in Menlopark opgeknap en sal voortaan die AfriForum Teater heet.

“Dit was nog altyd vir my ʼn droom om mense by AfriForum se eie teater te verwelkom,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die organisasie, gesê.

“Dit is wonderlik om deel van ʼn beweging te wees wat eerder vra wat gedoen kan word as om skouers op te haal en terug te sit. Die beste manier om agteruitgang te beveg is met vooruitgang.”

Volgens Kriel is dit die jongste toevoeging tot AfriForum en die Solidariteit Beweging se selfbestuurplan om sterk gemeenskapsinstellings te skep.

“Net soos wat die Solidariteit Beweging se nuwe Sol-Tech-kampus ’n plek bied waar ons self kan sorg dat Afrikaans sy plek in naskoolse onderrig volstaan, gaan die AfriForum Teater ’n plek bied waar Afrikaanse kunste tot sy reg kan kom,” sê Kriel.

Volgens AfriForum is dié teater ook geopen om te verseker dat daar te midde van die ernstige impak wat die Covid-19-pandemie op die teaterbedryf het, steeds ’n volhoubare tuiste gebied kan word waar Afrikaanse kunste voortbestaan en floreer. ’n Groot verskeidenheid Afrikaanse produksies, kunstenaars en gemeenskap- en skoolkultuurgeleenthede sal in die toekoms in dié teater aangebied word.

Pronk, die nuwe delikatessewinkel en restaurant wat in die voorportaal van die AfriForum Teater opgerig is. (Foto: Pronk/Facebook)

Die sentrum spog ook met ʼn nuwe delikatessewinkel en restaurant, Pronk, wat in die voorportaal van die teater opgerig is. Die restaurant is ʼn inisiatief deur Buffelsfontein Beesboerdery se bestuurspan. Besoekers kan ook uitsien na maandelikse uitstallings deur plaaslike kunstenaars wat in die Prag & Praal Kunskraal uitgestal gaan word.

Musicula, wat voorheen die kindervermaak by die Brooklyn-teater hanteer het, is steeds hier gesetel en sal voortgaan met die musiekontwikkelingsprogram vir kinders van ses maande tot sewe jaar.

Die teater sal amptelik op 6 en 7 Maart vir die publiek oopgestel word met die gewilde Die storie van Afrikaanse musiek deur Pieter Smit en Nagliedjies deur die komponis-pianis Franco Prinsloo. Daar is beperkte kaartjies vir beide aanbiedings beskikbaar en Covid-19-maatreëls sal streng nagekom word.

Kaartjies vir dié twee produksies is op die aanlyn platform www.dappermedia.co.za beskikbaar. Belangstellendes kan ook direk by die teater bespreek deur ʼn e-pos te stuur na [email protected] of die AfriForum Teater se webwerf te besoek op www.afriforumteater.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Groen Ghoen ·

Fantastiese nuus! “Doodkry is min.” Nog ‘n voorbeeld waar selfhelp en -doen die gety stadigaan laat draai vir die Afrikaners en hul kultuur. Afrikanerkultuur 1 – Afrikanerkultuurverwoesters 0.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.