Foto’s: Gr. 1’s meld aan vir eerste skooldag

Nagenoeg 265 nuwe gr. 1's het Woensdag by die Laerskool Elarduspark in Pretoria aangemeld. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Nagenoeg 265 nuwe gr. 1’s het Woensdag by die Laerskool Elarduspark in Pretoria aangemeld. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die Laerskool Elarduspark in Pretoria se gr. 1’s het Woensdagoggend soos ʼn see van blou in hul splinternuwe skoolklere aangemeld vir die eerste skooldag van 2020.

Nagenoeg 265 grootoog-kindertjies met swaar skooltassies op die rug het opgewonde in rye voor die 10 gr. 1-klasse aangetree waar Sonja Sauer, departementshoof en graadhoof vir die gr. 1’s, hulle gegroet het.

Volgens Sauer, wat vanjaar reeds nege jaar by Laerskool Elarduspark betrokke is, is die gr. 1’s vir haar spesiaal, omdat dit die graad is waarin sy die meeste vordering by die kinders kan sien.

“Hulle kom splinternuut hier aan. Van hulle kan nog glad nie lees nie, maar teen die einde van die jaar sien jy soveel vordering by hulle. Nie net akademies nie, maar emosioneel ook. Hulle word mensies in gr. 1.”

Sy vertel ook dat gr. 1’s baie anders is as die groter kinders. “In gr. 1 is die juffrouens die kinders se heldinne. Dit is vir ons as onderwysers weer lekker om hulle ontwikkeling dop te hou.”

Hoewel die gr. 1’s Woensdag amptelik begin skoolgaan het, het hulle reeds Dinsdag ʼn draai by die skool gemaak om die onderwysers te ontmoet en vertroud te raak met die skoolomgewing.

Laerskool Elarduspark bied reeds van gr. 1 af Sepedi as ʼn taal aan en die kinders kry ook van vanjaar af die geleentheid om robotika te leer. Die skool bied ook mini-skaak aan wat help met die wiskundige ontwikkeling van die gr. 1’s.

Nagenoeg 265 nuwe gr. 1's het Woensdag by die Laerskool Elarduspark in Pretoria aangemeld. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Nagenoeg 265 nuwe gr. 1’s het Woensdag by die Laerskool Elarduspark in Pretoria aangemeld. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

“Daar is baie verskillende aktiwiteite en ons probeer om dit in die klas ook interaktief te hou. Die kinders kan nie heeldag agter ʼn tafel sit nie, so soms sal ons sommer op die vloer sit en leer of selfs buite. Hulle kan ook net vir so lank sit en konsentreer, so ons probeer die sessies kort hou en gereeld verander van die een ding na die ander,” verduidelik Sauer.

Sy vertel dat die skool elke jaar intensiewe voorbereiding doen vir die nuwe skoolmaats. “Ons doen weekliks beplanning as ʼn graadgroep. Aan die begin observeer ons die kinders, ons kyk wie hulle is en wat hulle doen, want nie een van hulle is dieselfde nie. Hierdie klas is byvoorbeeld baie anders as my klas van verlede jaar, so ons probeer aan die begin die aktiwiteite só hou dat ons die kinders kan leer ken. Jy sien wie die introverte is en wie die ekstroverte is en jy hanteer hulle dan na gelang daarvan.”

Al die gr. 1’s neem ook reeds vandeesweek aan atletiekuitdunne deel. “Ons gaan juis nou-nou vir hulle wys hoe om weg te spring, hoe om in hul eie bane te bly en nie vir die maatjies te kyk nie.”

Die skool bied ook onder meer Bulletjierugby, mini-netbal, -hokkie en -krieket aan.

Sauer noem dat sowat 80% van vanjaar se gr. 1’s ook in dié skool se gr. R-sentrum was. “Ons vind dit maak die aanpassing vir die kinders baie makliker as hulle reeds die skool en die maats ken. Ek het nie een kind gehad wat trane gehad het nie. Daar was eintlik gr. 2’s en gr. 3’s wat nou onseker is oor hulle nuwe klassies, wat meer tranerig is as die gr. 1’s,” sê sy.

“Die ouers is meer huilerig as die kinders,” skerts Sauer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

charmaine ·

Shame kan glo die ouers veral die mamma’s pik n traan hulle so oulik en klein.
Voorspoed.

Heimwee ·

Bring lekker herhinneringe. Kyk hoe skoon en ordelik. Maar die kindertjies lyk groot. Ons was maar 5 jaar oud toe ons skool toe is, het eers helfde van die jaar 6 geword.

Agter die skerms ·

Stem saam Anni – pragtig die kaalvoetjies – regte kinnertjies. Hulle is net oulik.

GH ·

Hier kom probleme , hier is nie ander gesiggies nie , iemand gaan kerm

#wonder ·

Al die kindertjies is werklik mooi gesiggies.
Maar ek wonder maar net of al daai mammas wie se gesiggies so op MM se blad pryk toestemming gegee het dat hulle fotos so geplaas word. ????

Magda ·

Beste skool in die land. Hulle stel altyd al die kinders se veiligheid en behoeftes eerste

lanie ·

Bai geluk aan al die kleintjies. Julle is pragtig. Sterkte vir die ouers en onderwysers.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.