Foto’s: Groot partytjie vir baba Mienke se 1ste verjaarsdag

Baba Mienke en ma Verna (Foto: Facebook)

Baba Mienke het Sondag haar eerste verjaarsdagpartytjie saam met haar ouers en suster Zamoné gevier.

Mienke het Woensdag een jaar oud geword, terwyl Zamoné Vrydag twee jaar oud word. Maroela Media het vroeër berig klein Mienke is op 25 Augustus na die hospitaal gehaas toe sy glo aan melk verstik het. Volgens mediese personeel was sy ʼn geruime tyd sonder suurstof. Sy is vir etlike weke in die hoësorgeenheid van ʼn Johannesburgse hospitaal verpleeg.

Verna Mulder, Mienke se ma, het op Mienke se verjaarsdag ʼn hartroerende inskrywing aan haar “Prinses Mienke” op Facebook gemaak.

“My mooiste Mienke-prinses. Jy is deur God aan my geleen en hoe is my lewe nie geseën met jou nie! Ek onthou die dag toe jy gebore is asof dit net gister was. Jy was vir almal net die mooiste baba met die langste oogwimpers. Ek het jou nie vir een oomblik uit my arms laat gaan nie. Wens ek kon die tyd terugdraai en jou net weer so klein hê vir myself,” het sy geskryf.

Mulder het aan Maroela Media gesê dat sy die tema van die partytjie verander het weens Mienke se ongeluk verlede jaar.

“Ek wou eers ʼn unicorn-partytjie gehou het, maar ná Mienke se ongeluk het ek besluit op die prinsestema, want sy is my prinses. Al my kinders is my prinsessies. Dis so ʼn mooi sagte en spesiale tema, dit het ʼn ander betekenis.

“Ek hou gewoonlik nie sulke groot partytjies nie, maar dié keer het ek regtig ekstra moeite gedoen. My man het later vir my gesê ek is besig om mal te word. Maar Mienke sou dalk nie eens hier gewees het vandag nie, so dit móét behoorlik gevier word!” het Mulder gesê.

“Die sussies het die dag gate uit geniet. Hulle kon lekker speel sonder dat mamma en pappa heeltyd agter hulle moet aanhardloop.”

Mulder het verder op Facebook geskryf hoe trots sy op Mienke se vordering ná die ongeluk is. “Ek’s jammer ek kon jou nie beskerm teen die seer van die lewe nie. Dankie dat jy aangehou veg het. Jy is ʼn regte klein warrior-prinses! Jy het ons almal verbaas met jou vordering en doen steeds! Hou so aan my pop, mamma is baie trots op jou.”

Mulder het gesê sy het die aand voor die partytjie in haar bed gelê en dié Facebook-inskrywing gemaak. Sy sê dit is nie alles haar eie woorde nie, maar dit kom uit haar hart uit.

“My hart breek in ʼn duisend stukke as ek net dink aan waar jy vandag al sou gewees het. Ek kan [in my gedagtes] sien hoe hardloop jy saam met jou sussies in die huis rond, babbelbekkies die hele tyd, of gooi vir mamma papnat met badtyd. Ek wens ek kon jou al die dinge sien doen op jou eerste verjaarsdag. Mag engele jou op hierdie dag omring en jou ekstra spesiaal laat voel.”

Mulder sê Mienke maak steeds vordering al is dit baie gering. “Daar is ʼn klomp klein verbeterings. Sy slaap byvoorbeeld beter, en haar hande is meer ontspanne. Sy hanteer geraas beter, wat sy nie voorheen kon doen nie. Sy beweeg haar bene en haar koppie. Sy is baie meer ‘wakker’ as voorheen, en ons is baie bly oor die vordering,” het sy gesê.

Die Facebook-blad Please Pray for Mienke gee daagliks meer inligting oor Mienke se vordering. Vir meer inligting besoek Please Pray for Mienke op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Izette ·

Sy lyk net soos n klein engeltjie.
Glo julle het die dag baie geniet.
Baie geluk,dis die eerste van nog baie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.