Foto’s: GrootFM-familie hou Kerskonsert

Francois Botha van GrootFM op die verhoog. (Foto: Jacques du Preez/Psalm & Cedar)

GrootFM en Die Groot Ontbyt het op Donderdagaand 2 Desember ʼn Kerskonsert in die Atterbury-teater in Pretoria aangebied.

Omroepers en aanbieders asook die verkoop- en IT-span van GrootFM en Die Groot Ontbyt het aan die konsert deelgeneem, met slegs drie van die orkeslede wat nie lede van die Groot-familie is nie.

Talle van die GrootFM- en Die Groot Ontbyt-werknemers het talente in die uitvoerende kunste – van instrumentale tot sangvaardighede – en volgens Francois Botha, inhoudsbestuurder van GrootFM, is dié Kerskonsert al die afgelope agt jaar ʼn droom wat uiteindelik ’n werklikheid geword het.

Die tema vir die aand was “Dit wat was, is en vir ewig sal wees” – van Jesus Christus se geboorte, tot sy kruisiging en opstanding.

Die GROOT Kerskonsert-program het bestaan uit kommersiële en geestelike Kersliedjies asook ’n oorspronklike verwerking deur die Die Groot Ontbyt-aanbieders Johrné van Huyssteen en Elsa Esterhuizen.

Izaan Steenkamp, inhoudsbestuurder van Die Groot Ontbyt, en Van Huyssteen het ook ’n oorspronklike stuk geskryf en uitgevoer in samewerking met kykNET.

Die Kerskonsert is opgedra aan almal wat hierdie afgelope twee jaar verliese gely het.

Johrné van Huyssteen van Die Groot Ontbyt op die verhoog. (Foto: Jacques du Preez/Psalm & Cedar)

“Ons boodskap was om dié feesseisoen nie te dink aan dit wat ons verloor het nie, maar dit wat ons ontvang het – met Sy geboorte, Sy kruisiging en met Sy opstanding,” sê Roelien Potgieter, algemene bestuurder van GrootFM.

Verskeie kliënte, vennote, nie-winsgewende organisasies en familielede het die konsert fisiek bygewoon. Weens Covid-19-maatreëls is slegs 250 konsertgangers toegelaat.

Met die beperking in ag genome het die Groot-span se eie, bekwame tegniese span die konsert opgeneem. Dié aanlyn weergawe sal op 20 Desember vanjaar op GrootFM se sosiale media platforms te sien wees.

Die konsert is geborg deur attooh! en is saamgestel in samewerking met die Atterbury-teater, Stephnie’s Restaurant en Gincident.

Hoewel toegang tot die konsert gratis was, is ʼn skarefinansieringsfonds ten bate van GrootFM se #HOOPstoot-fonds en -projekte gestig op die BackABuddy-platform.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
AmY

Elsa Estherhuizen is vir my die mooiste vrou wat daar is. Sy sprankel altyd.

Elinette

Ek kyk gereeld Die Groot Ontbyt soggens (so met een oog, terwyl ek regmaak vir werk). Net ‘n bietjie “reghelp” as enige iemand van die program hier lees. As Elsa die nuus-hooftrekke van haar tablet af lees, reflekteer die skerm daarvan in haar bril en dit is vreeslik irriterend. Ook – kan julle nie die nuuskommentaar in twee segmente verdeel nie; die een helfte vanaf 06:15 tot 06:45 en die ander vanaf 07:15 – 07:45 nie?