[Foto’s] Hans die gans weer op die been danksy ‘gansmobiel’

Hans die gans (Foto: Frans van der Schyff )

Hans die gans, ʼn ses week oue mank gansie van Mpumalanga, het nou ʼn tweede kans op beweeglikheid gekry nadat ʼn speelgoedmaker in dié provinsie hom aangeneem en vir hom ʼn stel wiele ontwerp het.

Frans van der Schyff het Vrydag aan Maroela Media vertel sy buurman het Hans onlangs as geskenk aan hom gegee. Hans was deel van ʼn groot kroos op ʼn plaas tussen Dullstroom en Lydenburg. Sy ma – wat volgens Van der Schyff haar “hande vol gehad het met die klomp kleingoed” – het vermoedelik per ongeluk op sy pootjie getrap en hom toe beseer.

“Hy het in ʼn skoenboks hier aangekom,” vertel Van der Schyff. “Hy het heeldag net gelê, en dis mos geen lewe vir ʼn gans nie. Ek het besluit om vir hom ʼn ‘gansmobiel’ te maak wat toe sommer die ‘Hansmobiel’ gedoop is. Dit is ʼn baie ligte raampie met wieletjies wat hom toelaat om te staan en te eet. Hans is nou baie gelukkig; jy sien dit sommer in sy oë,” sê hy.

Van der Schyff sê hy het ʼn baie nou band met sy troeteldiere – elkeen het sy eie naam en reageer daarop. “As ek ‘Hans’ roep, dan skrééu hy. Hy ken sy naam baie goed, nes die ander diere wat ek versorg. Ek glo elkeen het ʼn plekkie in die skepping, elkeen verdien ʼn tweede kans.”

Hy sê Hans is nou ʼn “tiener” en sal waarskynlik binnekort ʼn 4×4 nodig hê om steeds mobiel te wees. “Ek is reeds besig met die projek om vir ons tienertjie ʼn groter ‘gansmobiel’ te maak. Dit lyk of dit baie goed gaan met hom en hy pas aan in die omgewing. Of hy ooit weer sal reg loop, is nie seker nie, maar vir die oomblik lyk dit of dit met hom baie goed gaan. Ek sal maar vir hom moet sorg tot hy met pensioen gaan,” terg hy.

Hans is reeds “vriende” met die ander twee ganse op die werf – Snowy en Beaver, twee volgroeide ganse wat blind geraak het nadat bye hulle gesteek het. “Ek skud maar elke dag blik om hulle na die voer en na die water te kry. Die drietjies maak ʼn goeie span en dit lyk of hulle goed aangaan.”

Van der Schyff sê stories soos dié van Hans behoort ʼn bewys te wees dat elkeen ʼn tweede kans verdien. “Dalk is daar ʼn jong mens wat die storie lees en dan nie meer voel dat hy of sy wil opgee op die lewe nie. Ons elkeen is deel van iets groter in die skepping, en ons almal verdien om tweede kanse te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Denise ·

Wat n oulike storie dankie vir al die mense wat omgee vir hulle diere !!!!

Willie ·

Dis nou n regte diereliefhebber… Here seen jou ryklik! Baie mooi gebaar…

Lynette ·

Wat ñ ongelooflike mooi storie….Frans jy bring weer hoop!!!

Christa ·

Oom Frans. Die Here seen jou en mag jou droom om ander te laat glo in nuwe hoop op n 2de kans, bewaarheid word. Dit moet baie deernis. Geduld en Liefde verg wat Oom doen en dit sit nie in elke een se broek nie. Alle voorspoed en sukses bid ek vor Oom met Oom se projek toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.