Foto’s: Hiér asem jy erfenis in

Die ingang na die Anglo-Boereoorlog museum in Bloemfontein. (Foto: Petronel Fourie)

Van die oomblik wat jy jou voet in Bloemfontein se Anglo-Boereoorlog‑museum sit, word jy 120 jaar die verlede in verplaas.

Die musiek en byklanke sleur jou mee na oorlogstyd, die oorspronklike artefakte gryp jou aan en die magdom inligting verstom jou. Daar heers ʼn byna gewyde atmosfeer.

Die Oorlogsmuseum, wat in 1931 geopen is en deel van die nasionale departement van sport, kuns en kultuur is, het sewe vertoonlokale in die hoofgebou en verskeie indrukwekkende uitstallings op die terrein.

Die oorspronklike tafel waarby Abraham Fischer in 1899 probeer het om die geskil tussen sir Alfred Milner en president Kruger vreedsaam te besleg, stuur hoendervleis deur jou lyf. As jy voor dié pragstuk van ʼn tafel staan, kan ʼn mens byna hoor hoe Kruger uitroep: “Dis nie stemreg wat julle wil hê nie, dis my land wat julle wil hê!”

Konferensietafel met enkele tydelike uitstallings (Die Oorlog in Kleur) in die agtergrond. (Foto: Verskaf)

Die Lord Roberts-saal beskou die oorlog uit ʼn Britse perspektief, terwyl die Emily Hobhouse-saal die tragedie van die konsentrasiekampe uitbeeld. Hiér vind jy ook die oorspronklike sketse wat Hobhouse gemaak het van die hartseer toneel wat sy teëgekom het met haar terugkeer ná die oorlog: verbrande verwoesting so ver as die oog aanskou.

In die Louis Botha-saal ervaar jy iets van die lewe en ervarings van die Boereburgers op kommando, terwyl die Sol Plaatje-saal die rol van die swart mense aan die Boere sowel as die Britte se kant uitbeeld.

Een van die vele aangrypende verhale wat deur die uitgestalde items vertel word, draai om ʼn skroefie wat in 1934 aan die museum geskenk is en aan klein Japie Berg behoort het. Net voordat die Britte hul plaas afgebrand het, het Japie inderhaas dié skroefie opgetel. Dit was sy enigste speelding in die konsentrasiekamp en sy waardevolste besitting. In die konsentrasiekamp het Japie gekwyn. Op sy sterfbed het hy die skroefie vir sy ma gegee en gevra dat sy dit asseblief vir sy vader, wat toe ʼn krygsgevangene oorsee was, moes gee om die plaas weer mee op te bou.

Japie se verhaal en ander soortgelykes bring die werklike wreedheid van oorlog onomwonde tuis.

Klein Japie Berg wat in ‘n konsentrasiekamp gesterf het. (Foto: Verskaf)

ʼn Deel van die museum se uitstallings is staties en permanent, maar daar is gereeld tydelike uitstallings wat vir twee tot drie maande op uitstalling gaan. Johan van Zÿl, vakkundige bestuurder van die museum, verduidelik dat uitstallings om internasionale, plaaslike en provinsiale gebeure beplan word.

“Ter herdenking van die 500-jaar Kerkhervorming verlede jaar, het die museum ʼn groot tydelike uitstalling oor die kerk tydens die ABO saamgestel. Items uit kerke tydens die oorlog is uitgestal en temas soos kerke wat as hospitale gebruik is of verbrand is, het aandag geniet. Ons het selfs inligting oor die kerk in konsentrasiekampe uitgestal,” sê hy.

Die jongste uitstaltegnieke en tegnologie word met elke nuwe uitstalling se beplanning ingespan, sodat die publiek ten spyte van spasiebeperkings toegang kry tot die skatte wat in die store gehou word. Die jongste projek is Paardebergmuseum wat tans in ʼn ou Britse kaserne uit die oorlog wat na die terrein van die museum verskuif is, ingerig word. Daar word ook eersdaags begin met die bou van die Kindermonument, ter ere van die kinders van die Anglo-Boereoorlog.

Die Nasionale Vrouemonument staan fier langs die museum. Die Tuin van Herinnering, wat spesifiek aan die gestorwe vroue en kinders gewy is, lei die besoeker na dié besondere baken.

Die Tuin van Herinnering, wat spesifiek aan die gestorwe vroue en kinders gewy is. (Foto: Petronel Fourie)

Soos jy met die tog deur die tuin na Emily Hobhouse se laaste rusplek vorder, lees jy met klam oë en ʼn droë mond die name van gestorwe vroue en kinders wat op mure verewig is. Die boodskap wat hier verkondig word, is dat die stryd teen geweld teenoor vrouens en kinders voorop gestel moet word in ons kulturele bewussyn. Inderdaad.

Die museum ontvang baie plaaslike besoekers, maar ook heelwat van oorsee, met kommentaar soos “een van die mooiste museums” en “oorlog mag nooit weer gebeur nie” wat volop voorkom. Volgens Van Zÿl neem die aantal besoekers jaarliks toe. “Baie Suid-Afrikaners oorsee stel ook belang en met ʼn beperkte personeelkorps kan ons skaars bybly om al die navrae te beantwoord en aan die versoeke te voldoen.”

Dié museum se sukses is deels aan die gemeenskap se ondersteuning te danke. Die Vriende van die Oorlogsmuseum, wat takke in Bloemfontein en Pretoria het, bewaar en bevorder die museum en oorlog se geskiedenis.

Die Tuin van Herinnering, wat spesifiek aan die gestorwe vroue en kinders gewy is. (Foto: Petronel Fourie)

Dr. Arnold van Dyk, voorsitter van die Vriende van die Oorlogsmuseum, getuig dat die museum uiters professioneel bestuur word en met enige soortgelyke instansie op internasionale vlak kan meeding. Daarom is dit vir die gemeenskap ʼn plesier om by dié baken betrokke te wees.

Een van die Vriende se projekte is om jaarliks ʼn ABO-vasvra vir skole aan te bied. Hierdie jaar help hulle ook met die reël van ʼn Afrikaanse konsertprogram op 8 Oktober, op die vooraand van die internasionale kongres vir die 120-jarige herdenking van die oorlog wat van 9 tot 11 Oktober aangebied word, sowel as die kongres self en ʼn besoek aan die Driefontein-slagveld.

“Verder is ons besig om die databasis van die museum by te werk wat betref burgergesneuweldes, met die oog op publikasie. Ons werk ook aan ʼn projek om sekere argiefbronne in samewerking met ander instansies te digitaliseer sodat dit vir navorsers meer toeganklik sal wees en ook bewaring so te verseker,” verduidelik Van Dyk.

By die Anglo-Boereoorlog museum in Bloemfontein. (Foto: Petronel Fourie)

Tog bly dit ʼn uitdaging om mense wat werklik ʼn bydrae wil lewer vir die Vriende te werf, en om jongmense te motiveer om in hierdie geskiedenis belang te stel, sê hy.

“Die realiteit is dat, oor die algemeen, museums op munisipale en selfs provinsiale vlak geweldig agteruit gegaan het oor die afgelope 20 jaar weens swak bestuur en geldtekort. Daarom is dit belangrik om betrokke te raak en as gemeenskapslid jou deel by te dra en te help sover jy daartoe in staat is, nie net geldelik nie, maar ook wat ondersteuning en bystand betref!”

Om die geskiedenis van Suid-Afrika te verstaan, is ʼn besoek aan die Oorlogsmuseum ʼn absolute noodsaaklikheid. Die omvang van dit wat onthou en onderhou word, oorrompel jou. Vir elke moontlike faset van die oorlog is daar ʼn uitstalling, ʼn standbeeld, ʼn inligtingsbord, ʼn monument opgerig. Geeneen, oud of jonk, kan onaangeraak daar wegstap nie.

Om by die Oorlogsmuseum betrokke te raak of skenkings te maak, kontak Johan van Zÿl by 051 447 3447 of [email protected]. As jy ook ʼn Vriend van die Oorlogsmuseum wil word, kontak dr. Arnold van Dyk by 082 801 7040 of [email protected].

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elsie Riekert ·

Die museumkompleks het geweldig uitgebrei sedert ons laas daar was. Ons waardeer die moeite wat gedoen word om ons geskiedenis lewendig te hou. Mag dit steeds goed versorg en druk besoek word.

Karlahari ·

Is daar ‘n saal vir afrikaans sprekende verraaiers ook?
Kan dit die FW de Klerk saal noem.

Marieke ·

Hierdie deel van ons geskiedenis lê my nog altyd na aan die hart. Hierdie mans, vroue en kinders se dapperheid is iets waarop ons steeds moet trots wees. Al het dit baie hartseer tot gevolg gehad, put mens steeds krag daaruit

Koos Steyn ·

Ek is jammer, dit vul my steeds met afgryse. Ek kan nie sulke wreedheid verstaan nie. Mens moet vergewens gesond wees, maar Om n oorlog te wen met n verskroeide aarde beleid, is nie n kuns nie.

Koos Steyn ·

Soos die loopgraaf met bloed benat is, so het verskroeide aarde die oorlog gewen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.