[Foto’s] Ivan Zimmerman weer terug in SA ná reis van 12 000 km

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Ná ongeveer 12 000 km se fietstrap, is die akteur Ivan Zimmermann uiteindelik by die huis. Zimmermann het Woensdag 12 Oktober sy eindbestemming in Istanbul bereik nadat hy op 15 Mei saam met 14 ander fietsryers op die sogenaamde Syroete vertrek het. Dié roete strek deur tien lande, waaronder China, Mongolië, Rusland, Iran en Turkye.

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

“Die eerste ding wat ek gedoen het, was om ʼn sak biltong en ʼn liter Appletizer te verorber,” het Ivan verlede week aan Maroela Media gesê.

Hy het sy baard, wat sommer as sonbeskermer gedien het, ʼn paar dae ná sy terugkoms geskeer en Ivan meen vyf maande se groei is binne minute weg. “Mens dink nie aan skeer as jy besig is met so iets nie.”

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Ivan sê dis lekker om weer Afrikaans om hom te hoor en weer omring te wees deur Suid-Afrikaners – mense wat hy as die vriendelikste op aarde beskou. Dis nie net die gemak van ʼn sagte bed en lopende water wat hy gemis het nie, dit klink amper asof daar nie vleis op die Syroete was nie.

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

“Dis lekker om weer te kan braai – ek het al drie keer gebraai!” skerts hy.

Afgesien van die feit dat hy dié uitdagende roete voltooi het, beskou hy die hele projek as ʼn dawerende sukses. “Ons het goed geld vir studente ingesamel en oor die 12 000 blikkies kos bymekaar gemaak.”

Maar Ivan sê die motiveringsaspek van die projek was ook vir hom belangrik. Hy wil so graag vir mense wys dat elkeen homself kan lei en dat leierskap by jouself begin.

“Ons almal is gebore om leiers te wees. Van daar af kan jy ander mense begin lei en ʼn verskil in hulle lewe maak – jy hoef nie in ʼn formele posisie te wees om ʼn leier te wees nie. Ek wil graag mense aanmoedig om te doen waarvoor hulle lief is, en om voluit te lewe.”

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Ivan sê hy het baie goeie terugvoer ontvang en is dankbaar vir die publiek se ondersteuning.

“Toe ek klaar gemaak het, het ek vreeslik baie boodskappe gekry. Dit is verskriklik lekker.”

Dié akteur sê hoewel hy ʼn paar skraapplekke het, is hy gesond en gaan vir die volgende maand net rustig wees. Sy reismaat, sy betroubare fiets, het darem ook die tog oorleef en is nou by die fietswinkel vir ʼn welverdiende versiening.

Besoek Ivan se Facebook-blad of webwerf vir meer foto’s en inligting oor sy reistog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.