[Foto’s] Jayvan sterk aan ná operasie

Jayvan Janse van Rensburg (Foto: Facebook via Support for Jayvan Janse van Rensburg)

Jayvan Janse van Rensburg (Foto: Facebook via Support for Jayvan Janse van Rensburg)

Jayvan Janse van Rensburg van Vereeniging, die driejarige seuntjie wat met kanker gediagnoseer is etlike maande nadat sy pa in ʼn rooftog dood is, sterk mooi aan ná ’n baie geslaagde operasie.

Die gesin het vroeër Kaapstad toe gevlieg vir Jayvan se operasie in die Vincent Pallotti-hospitaal in Kaapstad ná weldoeners op JakarandaFM se program, Good Morning Angels, groot skenkings gemaak het om die operasie moontlik te maak.

Carin, Jayvan se ma, het aan Maroela Media vertel die operasie het “goed” afgeloop. “Die dokter kon die kanker ten volle verwyder. Hoewel Jayvan na die waakeenheid oorgeplaas is, is ons baie positief oor die uitkoms,” het sy gesê.

Ofskoon die kanker meer versprei was as wat die dokter aanvanklik vermoed het, kon dit heeltemal verwyder word. “Die dokter moes net ‘hoër sny’ as wat ons verwag het, maar hulle het my verseker die kanker is nou uit.”

Jayvan verduur glo baie pyn, maar Carin sê sy is gereed om die lang herstelpad saam met hom aan te pak. “Hy is nog vol pypies wat verwyder moet word, en gaan later weer teater toe sodat hulle die wonde kan skoonmaak. Hy is nog te jonk en swak om by sy volle positiewe te wees wanneer hulle dit gaan doen,” het sy bygevoeg.

Hulle moes gister ʼn rolstoel kies. Volgens die dokters sal Jayvan moontlik eers oor ʼn jaar en ʼn half of selfs twee jaar weer loop. “Die dokters gaan vir hom ʼn gipsstut maak omdat hulle bang is hy breek sy been. Hy gaan vir minstens nege maande in die rolstoel moet wees.”

Carin sê die gesin bly positief danksy die personeel wat hulle daagliks ondersteun en bystand lewer. “Ek sê elke minuut dankie dat my seun na dié hospitaal toe kon kom. Die mense is wonderlik, ek het nog nooit in my lewe so iets beleef nie. En dis nie net my kind nie – ek sien dit oral rondom my. Die mense gee werklik om.”

Maroela Media het destyds berig Jayvan se pa, Anton (52), is op 12 Augustus naby sy huis in Drie Riviere, waar hy en sy gesin skaars twee weke tevore ingetrek het, deur gewapende rowers oorval en doodgeskiet.

Bel Carin by 072 262 4674 of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Besoek Support Jayvan Janse van Rensburg op Facebook.

Lees alle vorige berigte oor die Janse van Rensburg-gesin op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gesiggie ·

Jayvan…. jy is n vegtertjie… en Mamma se trots… daar is soveel mense wat agter jul staan en vir jul Bid… al is daar nog n lang pad na herstel, en kan jy nie nou dadelik op jou beentjie beweeg, die tyd gaan kom, dan kan jy spring en baljaar… so baie bly dat die operasie goed afgeloop het… en dat die eina nou verwyder is… Ons plaas die Hand van God oor jou… en ons Dank God vir sy genade… sterkte ook aan Carin…. dit ismoeilikke tyd wat jul nou moet deurmaak, maar die Son gaan weer skyn… God sal voorsien…

Chanel Coetzee ·

Dis wonderlik!! Dis so lekker om te sien oe ons as ‘n nasie kan saamstaan. Aan Carin Janse van Rensburg en Matt Bergh wat daar is, baie sterkte! Dink aan julle! Na die storie is duisende se lewens geraak en verander ,mag die Here saam jou wees vir die Herstel toekoms!

Cecilia ·

Sterk aan Jayvan een van die dae kan jy lekker rond hardloop
Sterke aan Mamma
Ons almal bid vir jou gesondheid

neelsie ·

Ons glo dat jy gesond sal word .
Dat God se genade ook genoeg sal wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.