[Foto’s] Kinders ruil rommel vir kos

Foto: Verskaf

Die NG kerk Somerset-Oos in die Oos-Kaap bestuur ʼn projek wat minderbevoorregte kinders tussen ses en 12 jaar oud help voed, en sommer opvoed ook.

Hanneke Janse van Vuuren (31), projekbestuurder en predikant van dié gemeente, sê kinders tel rommel op in ruil vir punte wat elke Maandag by ʼn “winkel” bestee kan word.

Die “winkel” is ʼn vraghouer met ʼn verskeidenheid produkte soos blikkieskos, mieliepap, tandeborsels, skryfbehoeftes, handeroom en lekkergoed. Die gemeenskap skenk ook klere en blikkieskos vir die projek.

“Ons het eers op die kleiner kinders begin fokus, want ons voel daar was die grootste nood, maar ons het nou ʼn soortgelyke projek vir die groter kinders asook werklose mense.” ʼn Gemiddeld van tussen 100 en 150 kinders neem op ʼn Maandag deel aan die projek.

“Ons getrouste deelnemer het reeds 150 punte gespaar, en in 2015 het die meisie wat die meeste kilogramme deur die jaar gebring het vir haarself ʼn fiets gewen,” sê Hanneke.

Kinders word aangemoedig om plastiek, karton en blikkies bymekaar te maak, wat dan geweeg word.

“Ons het ʼn elektroniese skaal wat die rommel weeg. Die gewig word dan in ʼn spreitabel op Excel ‘ingelees’ en die punte word toegeken wat deur ʼn formule uitgewerk word.”

Wanneer byvoorbeeld 3 kg se plastiek ingesamel word, sal nege punte toegeken word.

ʼn Rolletjie toiletpapier, ʼn uitveër of pen kos een punt. ʼn Klein sakkie suiker of ʼn pakkie tee sal jou twee punte kos. Vir vier punte kan jy ʼn blikkie met vis of vleis kry.

“Die meeste kinders gebruik hul punte vir kos omdat dit hul grootste nood is,” sê Hanneke.

Dié projek wat in 2014 op die been gebring is, word in samewerking met die Ithemba Foundation, ʼn niewinsgewende organisasie, bestuur.

“Die kinders kom partykeer hier aan met swart vullissakke of kruiwaens vol rommel. Hulle is regtig die armste van die armes.”

Hanneke meen die dorp, wat in sekere dele vreeslik vuil is, lyk ook sommer ʼn bietjie skoner en dat ʼn mens die verskil veral oor naweke kan sien.

“ʼn Mens kan beslis ʼn verskil sien, maar die grootste doel van hierdie projek is om kinders menswaardigheid te gee, iets wat hulle dalk nie by die huis kry nie. As ons hulle ken, groet ons hulle op die naam.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

NIEN ·

Ai, hoe klop my hart nou tjoklits….mooiste gebaar in ‘n lang tyd! <3

Wow ·

Wow fantasties NG Kerk Somerset Oos, absolute wen projek, ek sal by julle betrokke raak. Kos gee is op ons almal se hart, maar opvoed nie, dit is hoekom die sameleweing so lyk vol misdaad en net ontvangers/bakhanders en hulle word opdrukkerig en voel dit is hul reg. So deur leer hierdie kinders van kleins af om self onderhoudend te raak, hulle gaan uitstyg en ‘n groot trots wees.

not in wonderland ·

Ek is bly rommel word verwyder en wens dit kan so op ons strande ook gedoen word. Ek vertrou dat “arbeid”-aspekte ten opsigte van minderjariges uitgeklaar is.

Louis ·

Daar is geen arbeidsaspekte betrokke nie, want die kinders word nie in diens geneem nie. Dis hulle vrye keuse om soos en wanneer hulle wil hersirkuleerbare rommel op te tel en op die bepaalde dag en tyd te kom ruil.

Candice ·

Dis so great! Okay nou hoop ek dis n uitdaging vir ons kerke in Gauteng om dieselfde te doen! Dit sal so great wees as ons stad ook kan saam staan en skoon maak en in dieselfde asem mense ondersteun en help met kos en klere ens vir wat hul optel en skoon maak!!!

Sakkie ·

Daar bestaan reeds so ‘n projek by NG Moreleta. Die ‘geld’ word ‘n Phendula genoem. ‘n Zoeloe woord wat ook kan beteken ruil, of om te verander.

Meraai ·

In Britstown in die Noord Kaap het hulle ook so ‘n projek. Die dorp lyk sommer skoon.

Helen Doman ·

Dis nou sommer ‘n oulike plan. Geen geld, maar kos. En die rommel is vir reclycling. Sommer ‘n klomp oplossings in een.

Louise ·

KSM – Kerk Sonder Mure in Centurion doen dieselfde projek, Phendula Shop. Dink dis fantasties :-)

Koos1 ·

Die regering moet so iets doen. Tans gee hy net geld weg (om stemme te kry?). Dink net wat sal die land kan vermag as ons ontvangers van toelaes iets in ruil moet begin doen vir die toelaag. Die park se gras sny, die sypaadjies vee, so kan ons aangaan. Ag ekskuus ek het vergeet die term werk is vir die Afrikaan maar bietjie westers (jammer aan die Afrikane wat hulle deel doen!)My pa het my geleer as jy wil eet moet jy werk en ek was nog op skool en het gewerk, en lekker sakgeld verdien!

Ai ·

Dis nou regtig n baie goeie plan die! Welgedaan NG Kerk!!!! Ek sou regtig by so iets betrokke wou wees maar nog niks soos dit hier by ons nie. Almal wil net geld he en jy weet nooit of dit by die behoeftiges uitkom nie.

E ·

DESPATCH, PORT ELIZABETH EN JEFFREYS BAAI doen dit ook al ‘n geruime tyd paar jaar MULA winkels

Wonderlike idee

Michelle ·

My hart klop sommer tien keer beter. Op ons dorp word dit genoem pic a piece waar kinders ook rommel ingee vir punte en dan kry hulle ook iets om te eet of skool benodighede.

Stella ·

Dis nou regtige oulike idee om omgewings skoon te hou want party plekke lyk maar beroerd vuil. Wel gedaan

Theresa B ·

Dit is awesome om te sien hoe word die kinders gehelp. Ek weet dis nie hulle skuld dat hulle so sukkel nie maar as die groot mense net ophou om ons boere uit te moor en alles te plunder en af te brand sal daar kos wees vir almal en nog meer. Maak met hierdie optrede regoor die land verarm hulle ons land en mense al hoe meer en dit registreer nie tussen daardie paar ore nie!!

Stienie ·

Ek dink nie dis nodig dat ons wag vir ons kerke om dit te begin nie. As dit jou aangryp en jy wens daar is so iets in jou dorp, miskien is jy dan die persoon wat die inisiatief moet neem!! Dis n wonderlike idee en dit bemagtig ons kinders wat swaarkry om self dit wat hulle nodig het te bekom op n wettige manier.d

Kim Bester ·

Dit is n baie goei doel , net jammer van die kinders grawe nou in die asdrome wat mense uitsit en dit wat hulle nie wil of kan gebruik word net daar langs die drom neer gegooi.

Karma ·

Daar bestaan al VIR JARE so ‘n projek in Worcester. Nie dat dit bydrae tot ‘n skoner dorp nie (Worcester staan immers bekend as die vuilste dorp in die land, soos die mense mors, veral Saterdae in die SBD) – maar almal (nie net kinders nie) kan baat by so ‘n projek. Hou jou dorp skoon EN word ‘betaal’ daarvoor EN verlig armoede en hongersnood tuis. Pragtig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.