Foto’s: Koop ’n maaltyd vir ʼn piepklein aardwolfwelpie

(Foto: Sarah Kempen/Johannesburg Wildlife-dierehospitaal)

Die skattige klein aardwolfwelpie wat nou versorg word by die Johannesburg Wildlife-dierehospitaal sterk so goed aan dat sy besig is om die almal behoorlik uit die huis uit te vreet. Die skatlike insekvreter het reeds 600 gram opgetel in die bykans twee weke wat sy by die dierehospitaal woon en weeg nou reeds meer as ʼn kilogram.

Volgens die personeel by die hospitaal sal sy egter nog ʼn paar weke daar moet aanbly om haar heeltemal van brandsiek te genees. Die dierehospitaal in Midrand behandel slegs wilde diere en maak op donasies staat om versorging en rehabilitasie aan die diere te verskaf. Hulle poog ook om al hulle pasiënte na behandeling weer terug in die natuur vry te laat.

ʼn Skotse skaaphond het die aardwolfwelpie op ʼn plaas in Noordwes gevind, maar nadat daar vir twee dae sonder enige sukses na haar lêplek en ma gesoek is, is die span by die hospitaal gevra om haar versorging oor te neem.

Hulle beplan om die aardwolfie binnekort aan ʼn insektedieet bekend te stel, maar in die tussentyd ontvang sy spesiale nutriëntryke formulemelk.

“Gelukkig het sy vinnig aangepas en spog met hope persoonlikheid,” het Lauren Beckley en Sarah Kempen, haar versorgers by die hospitaal, gesê.

(Foto: Sarah Kempen/Johannesburg Wildlife-dierehospitaal)

Min mense kan sê hulle het al die skugter aardwolf (Proteles cristata) self in lewende lywe in die natuur gesien. Die insekvretende soogdiere kom natuurlik in die grasvlaktes van Oos- en Suid-Afrika voor en word soms ook die maanhaarjakkals genoem. Hulle is aan die hiëna verwant, wat beteken hulle is nagdiere en besonder skaam.

Aardwolwe, wat as volwasse dier net onder 8 kg weeg, kan tot 250 000 termiete in een maaltyd verslind. Die dier gebruik sy lang, taai tong om die miere op te lek.

Alhoewel die diere gewoonlik alleenlopers is, maak die mannetjies en wyfies hul werpsel van twee tot vier welpies saam groot. Hulle word as skadelose karnivore beskou.

“Terwyl ons haar binnekort aan insekte gaan voorgestel, hou die welpie nog van haar melkformule, en dit sal wonderlik wees as mense kan help om ʼn maaltyd vir haar te borg.

“Tans kos een voeding R14, maar sy moet elke vier uur kos kry, wat beteken dit kos die dierehospitaal R84 per dag om haar te voed. Namate sy groei en insekte begin eet, sal die koste styg.”

Besoek die Johannesburg Wildlife-dierehospitaal se webwerf om hulle te ondersteun of maak ʼn skenking vir die aardwolfwelpie se versorging met SnapScan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andréas ·

Te skattig. Sal die jongspan haar nie sommer as ‘n “Zebra woefie” wil herklassifiseer nie… ?

Mad Mike die Rhodesiër ·

Te mooi vir woorde! Laat my verlang na Elsa, ‘n jagluiperd-welpie wat deur haar ma weggegooi was in die 60s in Rhodesië, wat ek en my neef grootgemaak het. Sy was uiteindelik in Zambië hervestig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.