Foto’s: koshuis@Leriba wink vir studente

Akademia sal vanaf 2022 bykomende verblyf by sy aanbod vir studente voeg. (Foto: Jaco-Louis Kruger)

Akademia het ʼn huurooreenkoms met die eienaars van die bekende Leriba Lodge in Pretoria aangegaan en sal vanaf 2022 bykomende verblyf by sy aanbod vir studente voeg.

Dit is die woorde van Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, tydens Vrydag se bekendstelling van die perseel wat nou koshuis@Leriba heet.

Senior studente kan van middel-Januarie af by koshuis@Leriba nesskrop, en eerstejaars sal na die eerstejaarskamp intrek.

Die perseel bied veilige oop studenteparkering, toegang tot ʼn gimnasium, swembaddens, braaigeriewe, luukse studentekamers, Wi-Fi, ontspanningsareas, ʼn eetsaal en restaurant. Dit is sowat 2,5 km van Akademia se voltydse kampus in Gerhardstraat, Centurion, af.

Die koshuis sal gemaklik 116 studente in dubbelkamers met aangrensende badkamers kan huisves. Kamers word ten volle toegerus met ʼn lessenaar per student, twee enkelbeddens, bedkassie, ingeboude kaste en ʼn koffiestasie met ʼn klein yskas. Daar is ook gedeelde kombuis-, was- en drooggeriewe op die perseel beskikbaar.

Kamers en fasiliteite word deur pragtige bome en struike omring, wat die gevoel van ʼn vakansieoord skep.

“Die daarstel van bykomende private studenteverblyf gebeur teen die agtergrond van die omvattende residensiële kampus wat Akademia oor vyf jaar in die ooste van Pretoria wil oprig. Hierdie kampus gaan uiteindelik 5 000 voorgraadse studente kan akkommodeer en 1 500 beddens beskikbaar stel,” verduidelik Visser.

Visser noem verder dat die private verblyf by koshuis@Leriba saam met koshuisverblyf op Akademia se voltydse kampus, wat tans 22 studente huisves, die uitstekende geleentheid skep om nou al te leer hoe om ʼn betekenisvolle koshuislewe van nuuts af te vestig. Die oogmerk van die verblyf is om by te dra tot ʼn gesonde en ondersteunende studentelewe vir Akademia-studente.

“Daar is geen twyfel dat studente wat in koshuis@Leriba woon behoorlik geskiedenis gaan maak nie. Hier gaan studente nuwe tradisies vestig, terwyl hulle deelneem aan opwindende koshuisaksies en ander buitemuurse sportgeleenthede,” meen Visser.

Voornemende studente kan in Akademia se studieaansoekproses aandui of hulle in studenteverblyf belangstel. Meer inligting word per e-pos aan belangstellendes gestuur. Klik intussen hier vir meer inligting oor die verskillende verblyfopsies, of maak ʼn afspraak om die perseel te besoek deur ʼn e-pos te stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Wow, ek sal dit darem kon geniet om daar tuis te gaan.
30 jaar te laat vir my. :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.