Foto’s: Laerskool heropen ‘danksy weldoeners’

Laerskool Protearif in Krugersdorp het vandeesweek weer sy deure geopen ná ʼn verwoestende storm verlede jaar groot skade aangerig het (Foto: Facebook)

Nadat ʼn verwoestende storm in Oktober verlede jaar skade van meer as R7 miljoen aan Laerskool Protearif in Krugersdorp aangerig het, het dié skool vandeesweek weer sy deure vir die nuwe skooljaar oopgeswaai.

Dié laerskool is maar een van honderde instansies aan die Wes-Rand en Gauteng-omgewing wat verlede jaar onder erge haelskade deurgeloop het. Die skool was verplig om sy deure tydelik te sluit en die kinders is na lokale by ander skole en kerke in die omgewing gestuur waar hulle tydelik kon skoolgaan nadat sommige geboue op die skoolterrein heeltemal verwoes is.

Donna Lourens, hoof van Laerskool Protearif, het Dinsdag aan Maroela Media gesê vrese het vroeër bestaan dat die leerders moontlik nié vandeesweek sou kon terugkeer skool toe nie, maar dat personeel én onderwysers verheug is om Woensdag die nuwe skooljaar te begin.

Lourens sê onderwysers, personeel en talle ouers het ʼn week gelede reeds ingespring om te verf en skoon te maak om sodoende te verseker dat die skool betyds sou kon open.

Die erge skade wat deur die verwoestende storm aangerig is (9 Oktober 2017). Foto: Facebook

“Daar het ʼn wonderlike gees onder die ouers, personeel en onderwysers geheers – almal het heeltyd geglimlag en daar was ʼn konstante opgewondenheid in die lug. Almal het geweet dat hulle help bou en vorm aan iets nuuts en dat hulle aandeel het in die toekoms van Protearif,” vertel hy.

Volgens hom het die assessor die aanvanklike skade op bykans R20 miljoen geraam. Hy sê die skool het met behulp van borge, skenkings van organisasies en ouers en talle veldtogte reeds R7 miljoen bestee om die skade aan die skool te herstel.

Dié geld is onder meer gebruik om 12 klasse op die boonste verdieping van die skool te herstel, die skade aan die administratiewe blok te herstel en om drie klasse en ʼn snoepie op die terrein op te rig.

“Ons het besluit om drie klasse op te rig waar die saal platgevee is. Die saal was gebou van tydelike materiale soos asbes en ons het besluit dat dit beter sou wees om nog klaskamers op te rig. Dít alles was net moontlik te danke aan die gemeenskap wat hul harte en beursies vir ons oopgemaak het – daar is soveel weldoeners en maatskappye wat ingespring het om ons te help om die skool betyds te herstel, en Laerskool Protearif is opreg dankbaar teenoor elkeen wat ʼn bydra gehad het daarin,” vertel hy.

Die erge skade wat deur die verwoestende storm aangerig is (9 Oktober 2017). Foto: Facebook

Lourens sê die herstelproses is nóg nie voltooi nie, maar die skool is wel gereed om al die leerders te akkommodeer. Net meer as 40 gr. R-leerders en altesaam 90 gr. 1-leerders het Dinsdagoggend reeds skool toe gegaan om hul onderwysers te ontmoet en die skoolterrein te leer ken. Die skool verwag sowat 670 kinders vir die 2018- akademiese jaar.

“As ons terugkyk na watter skade aan die skool aangerig is, is dit ʼn wonderwerk dat ons in só ʼn rekordtyd geslaag het om die skool weer gereed te kry – en daarvoor wil die skool vandeesweek uit ons harte dankie sê. Dié week begin die skoolloopbaan van meer as 100 jong kinders weer by Protearif; dit alles te danke aan die hulp wat ons ontvang het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

INUS BRONKHORST ·

GO FOR IT PROTIES. JULLE IS ‘n VOORBEELD VIR ALMAL MET JULLE DEURSETTINGSVERMOë. MAG DIE HEMELSE VADER JULLE SEëN, BEHOED EN BEWAAR.
ONS BID GUNS EN GOEDHEID OP JULLE AF.

Holhaar ·

En my groot vriend Mynhardt het Saterdag daar uitgehelp. Baie trots op jou Mynies!

Izette ·

Wonderlike nuus so vroeg in die nuwe jaar….
Wys jou net…
Sterkte….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.