Foto’s: Leerders oes internasionale pryse in met fotografie

Duané Langner van Hoërskool Centurion se foto, “Nimmersat”. (Foto: Duané Langner)

“Kinders sien die mooi in die wêreld raak, op ʼn ander manier as volwassenes. Hulle kyk met ʼn ander oog na die wêreld, en daarom neem kinders ook die mooiste foto’s.”

Só sê Melanie Langner, ʼn wiskundeonderwyseres aan die Hoërskool Centurion, wat in 2019 ook die skool se fotografieklub op die been gebring het.

Die klub se ledetal het sedert 2019 verdriedubbel en tans is daar sowat 30 passievolle fotograwe wat deel vorm van die skool se klub. Die klub is ook intussen geaffilieer by die PSSA (Photographic Society of South Africa).

“Dit het al so uitgebrei dat ʼn jeugafdeling gestig is,” vertel Langner, wat die leerders aanmoedig om vir internasionale fotokompetisies in onder meer die VSA en Duitsland in te skryf. Sommige van dié kompetisies het groot prysgeld op die spel.

“Ons is baie trots daarop om te sê dat ons leerders, en veral leerders van ander skole in Centurion, uitblink in dié kompetisies. Tydens ʼn onlangse kompetisie in Luxemburg, het Afrikaanse kinders van Centurion die eerste, tweede en derde plekke geneem,” sê Langner geesdriftig.

Duané en Merie Langner, beide gr. 9-leerders aan Hoërskool Centurion, het onlangs uitstekend gevaar in buitelandse fotokompetisies.

Duané het met haar foto van ʼn geelbekooievaar met ʼn vis in die bek, getiteld “Nimmersat”, ʼn nasionale eerste plek en ʼn internasionale tweede plek in die Duitse kompetisie verower.

Jeanine du Randt van Hoërskool Zwartkop, Danica Del Rio Maree van Laerskool Hennopspark en Iske Cilliers van Laerskool Louis Leipoldt het ook uitstekend presteer in dié kompetisie.

Merie se foto “Catch” wat die hoërskoolrugbyspan in aksie vasgevang het, het verlede jaar in die afdeling vir fotojoernalistiek ʼn eerste plek verower in die Photographic Society of America (PSA) se kompetisie. Sy het ook prysgeld van $175 (sowat R3 200) gewen.

“Dit is vir ons ʼn ongelooflike prestasie dat leerders wat almal afkomstig is van Centurion, wat ʼn kopspeldgrootte op die wêreldkaart is, só goed vaar op hierdie gebied,” het Langner gesê.

Volgens Langner kom die Hoërskool Centurion se fotografieklub twee keer per maand byeen. Hulle leer onder meer tegnieke met kameras en selfoonkameras, en leer ook watter gratis fotografie-apps om te gebruik.

“Ons gaan ook sowat een keer per kwartaal op uitstappies sodat die kinders kan leer hoe om foto’s te neem in die buitelug.”

Die skool het sy eie mediahuis waarby die fotografieklub inskakel. “Ons foto’s word gereeld op die skool se amptelike bladsye op sosiale media gedeel. Wat lekker is van ons mediahuis, is dat alles foto’s wat op die skool se platforms verskyn, deur die leerders self geneem is. Die leerders kry op skool reeds ʼn gevoel van kamerawerk en ons het ons eie foto- en videograwe.”

Langner vertel sy het gehoor van die fotografieklubs by ander skole voordat sy die waarnemende skoolhoof van Hoërskool Centurion, André Labuschagne, genader het om ook ʼn klub by hul skool op die been te bring.

Langner is self ʼn kranige fotograaf en behoort self aan die Centurion Kameraklub. “Die belangstelling in die klub by die skool het vinnig posgevat. Die kinders het ʼn uitstekende aanvoeling vir fotografie as ʼn kunsvorm en sien die mooi in die lewe raak, anders as volwassenes.

“Selfs die volwassenes wat as beoordelaars optree vir die fotokompetisies, is verbaas oor hoe kinders met ander oë kyk na diere, blomme, landskappe en sonsondergange. Hulle sien goed raak wat ons by verby kyk.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.