[Foto’s] Man met prostese stap 7 000 km vir ander met gestremdhede

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Paul Steyn (29), stigter van die Paul Steyn-stigting, onderneem ʼn staptog van ongeveer 7 000 km deur al nege provinsies. Paul, wat op ʼn jong ouderdom sy been verloor het, sê hy stap om geld vir ander wat nie prostese kan bekostig nie, in te samel.

“Ek doen dit om mense te help wat kunsledemate benodig, maar dit nie kan bekostig nie. Dis vreeslik duur en sommige mediese fondse wil nie daarvoor betaal nie – hulle dink dis ʼn luukse. Dis glad nie die geval nie.”

Paul het verlede jaar op 3 Augustus begin stap en reeds 4 300 km afgelê. Sy staptog het by die Waterfront in Kaapstad begin en hy beplan om weer in Kaapstad te eindig op 1 Oktober vanjaar. Dié dapper stapper is reeds deur dele van die Wes- en Oos-Kaap, die Vrystaat, Mpumalanga en Limpopo. Hy het op 19 Mei in Gauteng aangekom en is op pad na Krugersdorp om by die Noordwes-provinsie uit te kom.

“Dis ʼn uitdaging, veral omdat ek ʼn 130 kg-waentjie saam met my trek – ek gebruik baie energie om die waentjie te trek – veral met die opdraandes.” Paul sê die waentjie bevat alles wat hy benodig vir die staptog soos water, kos, ʼn slaapsak en toerusting. Hy loop sonder bystand en slaap oor by geborgde verblyf of by mense wat hy tydens sy staptog ontmoet.

Dié man stap nie net nie, maar gee ook motiveringspraatjies by kerke en skole om meer bewustheid te kweek oor die saak wat hom na aan die hart lê. “Ek doen dit om mense te help, en elke keer wanneer ek iemand help, motiveer dit my om net meer te doen – om meer mense te kan help.”

Die Paul Steyn-stigting is reeds sedert 2012 aan die gang en het al voorsiening gemaak vir 11 mense wat kunsledemate benodig het. Dié prostese kan enigiets tussen R50 000 en R100 000 kos. Twee mense is reeds voorsien met prostese tydens Paul se staptog, en daar sal binnekort ʼn derde gelukkige ontvanger van prostese wees.

Besoek Paul se Facebook-blad om hom te volg of gaan kyk op sy webblad hoe jy betrokke kan raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gesiggie ·

Paul dit is mense soos jy wat n mens se Hart so warmer laat klop… jy verdien als wat die Lewe jou kan bied en nog meer…. voorwaar n man op wie enige iemand trots kan wees..Mag God aan jou vir elke tree wat jy stap , net nog meer en meer gee… wat jy doen is ongelooflik.. en Glo my dit word raak gesien… wat n mooi gebaar en storie… sterkte met jou pad voorentoe, mag elke wens bewaarheid word… Well Done aan jou.

Leonie ·

Dis great van jou Paul. Ek haal my hoed af vir jou. Het gisteraand op Kyknet se nuus gesien. Ek dink jy is ‘n wonderlike mense met ‘n hart van goud. Ek gaan jou sms nommer vir al my vriende gee sodat hulle kan skenk via sms. Hou so aan!!

Sarel ·

Baie wonderlike ding wat hy doen, ek haal my hoed vir hom af. Om so ver te stap en dit met n kunsbeen, die sweet, die skaafplekke en blase…. Baie sterkte, jy is dapper om dit te doen. Ek sou graag wou weet hoe hoog sy been geamputeer is en watter been en knieg ( as dit n bo-been amputasie is) hy het. Lekker om so te kan stap en dit met n kunsbeen. Jy is baie se held.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.