Foto’s: Maroela Media vier 10 jaar

Van links na regs: Suné van Heerden (handelsmerk- en sosialemediabestuurder van Maroela Media), Susan Lombaard (uitvoerende hoof van Maroela Media), Bettie Kemp en Flip Buys (voorsitter van die Solidariteit Beweging). (Foto: Maroela Media)

Vandag kon Maroela Media, wat op 29 Julie 2011 by die Voortrekkermonument in Pretoria bekendgestel is, weer op dié einste plek feesvier.

Direksielede, kunstenaars, oudkollegas en mense wat die afgelope dekade by Maroela Media betrokke was, het Vrydagoggend hier saam met die Maroela-span byeengekom om ʼn glasie te klink op ʼn dekade van genade.

Bettie Kemp was die aanbieder van ʼn opwindende program oor Maroela Media se tien bestaansjare. Sy het gaste op reis geneem en onder meer gesels oor Maroela se ontstaan, die eerste radiovervolgverhaal wat vervaardig is, projekte wat werklik ʼn verskil in lesers se lewe gemaak het, die verskeidenheid inhoud wat Maroela bied en hoe die pad vorentoe lyk.

“Deur die afgelope tien jaar het baie dinge verander: Ons webwerf lyk anders, ons het ʼn app in gebruik geneem en al ʼn paar keer oorgebou, ons het ons handelsmerk aangepas, en ons het verskillende sosialemediaplatforms begin gebruik, na gelang van die tyd.

“Maar wie ons is, en wat ons vir die Afrikaanse gemeenskap wil wees en sál wees, het nog nooit verander nie,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media.

Met ʼn koppie boeretroos in die een hand en ʼn pannekoek in die ander is daar agterna gesels oor die hoogtepunte, uitdagings, herinneringe en alles wat van Maroela Media dié lekkerste Afrikaanse kuierplek op die internet maak.

In tien jaar het Maroela Media gegroei van ʼn nederige begin, met net 7 000 lesers in Augustus 2011, tot die grootste Afrikaanse mediahuis met meer as 2 miljoen maandelikse unieke lesers. Dié lesers lees sowat 25 miljoen artikels per maand op Maroela.

Het jy vroeër dalk die interessante feite oor Maroela Media gemis? Lees gerus hier meer oor die 28 366 bome se papier wat Maroela nié gebruik het nie, sowat 1 400 maandelikse artikels en Maroela se kantoorhond, Japie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

Baie Geluk, mag MM van Krag tot Krag gaan.

Gisela

Baie geluk. Dit is die beste nuus kanaal wat ek elke dag lees.

Strandloper

Ons eie plekkie waar almal altyd tuis voel. Jul het deel van ons bestaan geword. Dankie vir elke dag se pitkos.

Harley Davidson

Baie geluk mag julle vorentoe net van krag tot krag gaan mag julle die feite en beskrywing van berigte gee soos dit is sonder om geboelie te word om by die regering se agenda in te pas.