Foto’s: Meisies kleur, skeer hare vir Kansa

Leerders tydens Afrikaans Hoër Meisieskool se jaarlikse Shavathon (Foto: Mizanne Hattingh/ Maroela Media)

Die senuwees het byna oorgeborrel onder die jong meisies wat in die ry gewag het om hul hare af te sny, maar elkeen is deur ʼn groep jubelende klasmaats aangemoedig en gelukgewens.

Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria het Vrydagoggend hul jaarlikse Shavathon vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) gehou.

Meisies het hul hare in al die kleure van die reënboog laat spuitverf, daar is ʼn muntlegging gehou en die dapper leerders het reg gaan staan om hul poniesterte vir Kansa te skenk.

“Ons doen dit elke jaar, dis ʼn tradisie waarna die leerders uitsien,” het Megan Kruger, die hoofmeisie van die skool, gesê.

Die hoofmeisie van Afrikaans Hoër Meisieskool (Foto: Mizanne Hattingh/ Maroela Media)

“Daar is vandag 67 poniesterte geskenk,” het Colleen Naudé, bemarkingsbestuurder van Afrikaans Hoër Meisieskool, later in die dag aan Maroela Media vertel. Dié poniesterte word aan Kansa geskenk en sal omskep word in pruike vir kankerpasiënte wat hul hare as gevolg van chemoterapie verloor.

Die meisies sien dit nie net as geleentheid om geld vir kanker in te samel nie, maar dit is ook sommer net ʼn pretdag wat elke meisie geniet.

“Ons het vanjaar besluit om weer die Shavathon te hou, maar om dit net nog groter te maak. Ons het die hele land betrek deur skole en sakeondernemings uit te daag om ook só ʼn geleentheid te reël.”

Die Voortrekkers van Klapperkop-kommando het op 26 Februarie ʼn soortgelyke geleentheid by Castle Gate-inkopiesentrum naby Monumentpark in Pretoria gehou.

Hier het vrywilligers ook hulde gebring aan mense wat met kanker stoei.

Daar was ook die geleentheid om blomme en foto’s teen ʼn helde-muur te plak om diegene wat hul geveg teen kanker verloor het, te huldig.

Altesaam 13 poniesterte van langer as 25 cm is tydens die Voortrekkerkommando se Shavathon geskenk.

Kyk na ‘n video van die geleentheid hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Strandloper ·

Pure plesier! Mens voel julle energie aan. Dit doen die hart goed om so iets te lees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.