Foto’s: Mienke weer tuis

Baba Mienke Mulder saam met haar sussie (Foto: Facebook)

Die eenjarige Mienke Mulder is uit die waakeenheid van ʼn Gautengse hospitaal ontslaan en weer saam met haar gesin terug by die huis nadat sy vroeër vandeesmaand ʼn operasie ondergaan het om haar slukderm te vernou.

Maroela Media het vroeër berig Mienke het laparoskopiese chirurgie ondergaan omdat sy konstant haar kos en medisyne opgebring het. Die operasie was volgens die dokters ʼn groot sukses, maar mediese personeel én die Mulder-egpaar het “groot geskrik” toe Mienke gedurende haar herstelproses ophou asemhaal het. Die dokters kon volgens die egpaar egter daarin slaag om haar weer by te bring en haar toestand is sedertdien stabiel.

Ryno Mulder, Mienke se pa, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dit bring vir die gesin vreugde om Mienke weer by die huis te hê. “Ons het vroeër gesê geen kind behoort in ʼn hospitaal te lê nie, en dít was die waarheid,” vertel hy.

“Sy is waar sy hoort: By ons by die huis. Nadat sy uit die waakeenheid ontslaan is, wou die dokters haar aanvanklik na die pediatriese saal oorplaas. Ons het egter gevra of ons haar nie liewer huis toe kon bring om haar tuis te versorg nie. Ons was bang vir moontlike virusse wat sy kon opdoen wat dan haar herstelproses verder sou verstadig.”

Mulder sê Verna is weer terug by die werk terwyl ʼn verpleegster steeds deur die dag na Mienke omsien. Die gesin het ʼn opdraande stryd, veral omdat Ryno steeds net naweke tuis kan wees aangesien hy in Nelspruit werk, maar “behou deur álles steeds hoop”.

Baba Mienke Mulder (Foto: Facebook)

Hy sê Mienke se wond van die laparoskopiese chirurgie moet nog genees, maar sy is verder gesond en weer op die herstelpad. “Ons kan in dié stadium nie voortgaan met die terapie nie omdat die steke van haar wond nog uitgehaal moet word wanneer die wond genees het. Sy gaan volgende week weer dokter toe vir ʼn opvolgbesoek, maar ek glo ons sal daarna weer met terapie en behandeling begin.”

Mulder sê die gesin het nou geen ander keuse as om vas te klou aan hul geloof nie. Volgens hom het dokters gesê hulle kan nié bepaal wat in die toekoms gaan gebeur nie. Die Mulder-egpaar glo egter volgehoue terapie en gebede bied wel aan Mienke die moontlikheid om volkome te herstel.

Hy sê die gesin glo ook dat daar mediese oplossings vir Mienke se toestand is, soos onder meer “neuroplastisiteit” – ʼn mediese term wat verwys na die moontlikheid dat breinaktiwiteite wat verband hou met sekere funksies soos praat of beweging deur ʼn ander gedeelte van die brein oorgeneem kan word wanneer die oorspronklike gedeelte nié meer funksioneer nie.

“In gewone omgangstaal sê ons wat ons nog altyd sê: Daar is hoop en daar sal altyd wees,” sê hy. “Die brein is ʼn merkwaardige orgaan en genade ʼn wonderlike geskenk. Ons gaan hierdie pad bly stap ongeag hóé moeilik dit raak.”

Weldoeners wat die gesin wil ondersteun kan die Facebook-blad Please Pray for Mienkebesoek wat daagliks meer inligting oor Mienke se vordering gee.

Baba Mienke Mulder saam met haar sussies (Foto: Facebook)

Baba Mienke Mulder saam met haar sussie (Foto: Facebook)

Baba Mienke Mulder (Foto: Facebook)

Baba Mienke Mulder (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gesiggie ·

Baie dankie Jesus dat U hierdie Engel kind Mienke bewaar het en dat sy veilig by die huis kan wees saam Mamma, Pappa en haar sussies, die vreugde op hul gesiggies wys hoe bly hul is om sussie weer te kan sien… Mienke is n pragtigge Engel kind, en van nou af sal dit beter gaan met God se Engele wat jul as n gesin sal beskerm….als wat mooi is… so bly vir jul dat jul as n gesin nou weer saam kan wees….Ja onthou daar is altyd Hoop en Krag… God is Good…..

sandra ·

Neuroterapie is die pad om te loop, dit is verbasend hoe dit die brein kan ‘Manipuleer’ om die dowwe kolle uit te werk. Gaan lees bietjie op oor hierdie terapie en almal sal baie vinnig tou staan hiervoor. sterkte my meisikind, jy is pragtig, jou mamma en pappa en sussies lief jou baie. al kan jy dit nie wys nie, weet ons jy lief hulle ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.