[Foto’s] Mnr., Mej. en Mev. Doof SA: ʼn Hart vir die gemeenskap

Lourindia Janssen, Enoch William Bailey en Chantelle Pretorius (Foto: Facebook)

Skoonheid het allermins met nét die uiterlike te doen – dit is ʼn samevoeging van baie eienskappe waarvan nederigheid, naasteliefde en goedhartigheid maar net ʼn paar is.

Dít is die boodskap wat die wenners van die Mnr., Mej. en Mev. Doof SA-kompetisie, wat verlede week in Pretoria gekroon is, na buite wil stuur.

Chantelle Pretorius is Vrydag tydens ʼn glansryke geleentheid by die Victory Life Christian Church in Pretoria as Mej. Doof Suid-Afrika gekroon, Enoch William Bailey as Mnr. Doof Suid-Afrika en Lourindia Janssen as Mev. Doof Suid-Afrika.

Leviena Smit, uitvoerende hoof van dié kompetisie, het aan Maroela Media vertel dié kompetisie het ʼn ander aanslag as sy eweknieë – die hoeksteen van dié kompetisie gaan nie oor skoonheid nie, maar eerder bewusmaking en ʼn persoon wat as ambassadeur vir die gehoorgestremde gemeenskap kan optree.

Die kompetisie skep ook werk vir dowe mense en fokus op die ontwikkeling van dié mense se vaardighede.

“Die enigste verskil tussen dié kompetisie en soortgelyke kompetisies is dat ons deelnemers nie kan hoor nie. Dit verander egter niks nie; hulle is steeds mense wat ʼn verskil in die samelewing kan maak en dit verdien om ʼn kroon te dra,” sê Smit.

Al drie wenners gaan in hul termyn as ambassadeurs vir die dowe gemeenskap moet optree deur bewusmakingsveldtogte en -projekte.

Pretorius en Bailey sal Suid-Afrika volgende jaar in die Mnr. en Mej. Doof Heelal verteenwoordig wat in Praag in die Tsjeggiese Republiek gaan plaasvind.

Mev. Doof Suid-Afrika en die eerste prins en prinses in die Mnr.- en Mej.-afdelings sal ook deelneem aan die Mnr., Mej. en Mev. Doof Heelal wat volgende jaar in Suid-Afrika aangebied word.

Vir meer inligting oor dié kompetisie, besoek hul Facebook-blad.

Mej. Doof Suid-Afrika, Chantelle Pretorius (Foto: Facebook)

Mev. Doof Suid-Afrika, Lourindia Janssen (Foto: Facebook)

Mnr. Doof Suid-Afrika, Enoch William Bailey (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

dolphin ·

pragtig dowe mense so trots op jul ek is maar ook doof .wonderlik eerste keer gaan praag deel neem in oorsee .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.