Foto’s: ʼn Wit Kersfees in New York

Kersfees in New York is belewenis soos geen ander nie. Foto: Amanda Prinsloo

Frank Sinatra skep hoë verwagtinge van die stad van New York en rolprente laat die Big Apple omtrent soos ʼn belewenis lyk.

Dié stad met sy wolkekrabbers en bedrywige strate stel glad nie teleur nie, veral nie oor die Kerstyd nie.

New York bestaan uit vier voorstede, naamlik Bronx, Brooklyn, Manhattan en Queens. Elke voorstad het sy eie unieke trekpleisters vir toeriste, maar tog bly Manhattan ʼn gunsteling onder toeriste. Desember is daar omtrent ʼn stormloop van besoekers wat Kersfees wil beleef in “die stad wat nooit slaap nie”. Die atmosfeer wat in die stad geskep word met Kersfeesversierings, musiek in die strate, koue in die lug en die feesgety in almal se gemoed maak die ervaring net nog meer spesiaal.

Tydens die feesseisoen is dit kompleet asof die stad sy Kersbaadjie aantrek en daarmee spog. Vele bronne noem dat New York die stad is wat die meeste moeite doen met Kersfees – die geboue en winkels word met dekor versier, binne die geboue speel Kersliedjies, selfs die buiteligte word volgens die Kerstema aangepas en talle aktiwiteite soos Kersmarkte en ysskaats rond die Kersprentjie af.

New York is oor die feesseisoen met ontelbare liggies versier om die atmosfeer van Kersfees te skep. Foto: Amanda Prinsloo

Aktiwiteite eg aan New York oor Kerstyd:

  • Besoek die grootste Kersboom in die wêreld by die Rockefeller‑sentrum
  • Drink warm appelwyn by ʼn Kersmark
  • Besoek Central Park ná die eerste groot sneeuval
  • Trek snoesig aan en ysskaats by een van die vele buitelug ysskaatsbane
  • Besoek die Kersmarkte
  • Koop die klassiek Amerikaanse Kersdrankie Eggnog om op Kersdag te geniet
  • Woon ʼn erediens by in ʼn bekende kerk, byvoorbeeld St. Patrick‑katedraal
  • Verken die stad op Kersdag! Op dié dag laat die stad jou behoorlik welkom voel, of dit in Hershey’s is waar jy ʼn gratis sjokolade kry of by Dunkin Donuts ʼn warm sjokolade teen ʼn spesiale aanbieding.

Die hele opbou na Kersfees in die stad is groot, maar op Kersdag is die meeste winkels gesluit sodat werkers die dag saam met hul geliefdes kan deurbring. Die enigste plekke wat oop gevind sal word, is in die toeriste-gebiede, byvoorbeeld die Empire State Building se uitkykplatform, Times Square en die Rockefeller‑sentrum. Die skares is op die dag ook groter aangesien dit die enigste plekke is wat oop is.

As jy graag ʼn ware wit Kersfees wil beleef, is New York ʼn ervaring soos geen ander nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.