Foto’s: Namakwalandtoer is meer as net ʼn skouspel blomme

 Namakwa_blousporrie-en-Witsôe.jpg

Blousporrie en witsôe aan die voet van die Gifberg (foto: Namakwa Toere)

Soos die tyd vir Maroela Media se Storiebustoer deur Namakwaland nader gekom het, het die doemprofete se uitsprake ook feller geraak. Om eerlik te wees, daar is in die gange gespekuleer of dit wel die moeite werd is om die toer aan te pak. Alhoewel dit ʼn storiebus is, is daar ook ʼn verwagting om blomme te sien. Mike Spies en Marné Lloyd, ons toergidse van Namakwa Toere, het ons gemoedere probeer sus met beloftes dat ons wel blomme gaan sien! “Omdat daar droogte in Namakwaland was, beteken nie dat daar nie blomme gaan wees nie!” het Mike ʼn paar keer gesê.

So is die Maroela-span (twee van ons) wat die lesers moes vergesel op die toer. Nadat almal by verskeie optelpunte in ʼn sopnat, yskoue Kaapstad opgelaai is, is spontane Marné mikrofoon in die hand besig om die ys te breek. Ons stel onsself bekend. Dit is George en Ria Alberts sowel as tannie Magdaleen Heyns (76) en tannie Berry Olivier (87) se tweede toer saam met Mike en Marné. Die vorige keer was dit Namibië toe en volgende jaar gaan hulle saam Botswana toe.

 Namakwa_Piekniek tussen blomme.jpg

Daar word heerlik piekniek gehou tussen die blomme (foto: Namakwa Toere)

Ná ʼn paar stoppe langs die pad is ons laaste stop vir die dag die hotel op Vanrhynsdorp – Namaqua Lodge, wat ook ons tuiste was vir die volgende vier aande.

Nog steeds yskoud, is ons dag twee met die Vanrhynspas op. Mike vertel ons dat dit die enigste pas is wat net opgaan en ʼn plato bereik. Daar is nie ʼn op en dan weer ʼn af nie. Ná die stywe klim, draai ons van die grootpad af op ʼn modderige en smal plaaspad, die vlaktes in. Dit is hier waar ons die mooiste goudgeel katsterte sien. Hulle staan gesaai oor die veld.

Nieuwoudtville het so ʼn stukkie van my hart gesteel – bekoorlike ou sandsteenhuise, die vriendelikste mense en die smaaklikste pannekoeke. Die dorpie spog met die mooiste ou kerk, ingewy op 23 April 1907, met ʼn baie ryk en interessante geskiedenis wat bankrotskap en ʼn vark insluit! Gedurende Augustus en September is daar elke dag ʼn mini-basaar in die kerksaal. Die tannies van die gemeente sorg vir die allerheerlikste pannekoeke, koffie en spoggerige handwerk wat te koop is om die kerkfonds te sterk.

Namakwa_Nieuwoudtville Kerk_AB.JPG

NG Kerk Nieuwoudtville (foto: Annelize Brits)

ʼn Hoogtepunt was Anna Davel wat “Amazing Grace” in die kerk gesing het. Dit is ʼn oomblik wat baie van ons nooit sal vergeet nie.

Net buite Nieuwoudtville wag daar ʼn groot verrassing. Dit is ʼn plat stuk aarde en dan nóg ʼn natuurwonder. Daar waar dit soos ʼn tamaai kraak in die aarde lyk, is waar ʼn asemrowende prentjie jou begroet. Die Nieuwoudtville‑waterval laat jou net weereens besef hoe groot die skepping is. Wat die prentjie verder inkleur is tannie Lily wat jou groet met die intrapslag. Tydens die blommeseisoen wag sy elke dag by die ingang en jy kan die heerlikste heuning, boegoewater en gedroogde vrugte by haar koop.

Dié gebied spog ook met die grootste kokerboomwoud in die wêreld. Daar is duisende kokerbome – ’n natuurwonder soos wat ek persoonlik nog nooit beleef het nie. Geen foto of beskrywing kan enigsins reg aan dié wonder laat geskied nie.

Namakwa_Anna Davel_Kokerboomwoud.jpg

Anna Davel by een van die vele kokerbome in die kokerboomwoud (foto: Namakwa Toere)

Volgende was dit die Knersvlakte. Vroegoggend het die bus tot stilstand gekom en voor ons was ʼn uitgestrekte veld vol klein stukkies kwarts. As daar egter een ding is waaraan ons herinner is, is dit dat daar soveel mooi weggesteek is in dit wat jy nie sommer met die blote oog sien nie. Ons het op ons knieë gekruip om die mooiste vetplantskatte van nader te beskou. Kameras is ingespan om die fyner detail af te neem wat nie met die blote oog gesien kan word nie, en die blomme spog elkeen met ʼn naam so mooi soos hulle is. Daar is die sentkannetjie, bababoudjies, kameelvoetjies, horingplantjies en nog vele meer.

Garies se stofpaaie begroet ons. By die Garies‑toeristestal kan jy amper enige iets kry: van ʼn T-hemp met die woorde “Londen, New York, Paris, Garies” tot die heerlikste skuinskoek.

Namakwa_volstruisvygies.jpg

Die mooiste volstruisvygies (foto: Namakwa Toere)

Namakwa Toere se 4×4‑bus bly op die grondpad en net toe ons dink al wat ons vandag gaan sien is droë velde, ontdek ons die eerste blommeveld vol oranje magrietjies en ossierapuisbosse. My hart sing van blydskap!

Vinnig besef ons dat hierdie mooi maar net die begin is. Dit is ondenkbaar om te dink dat die semi-woestynwêreld die tuiste is van ʼn asemrowende blommeprag. Volstruisvygies, magrietjies en soetgousblomme het dié dorre veld in ʼn manjifieke skouspel van helder kleure verander.

Hierdie was maar net ter voorbereiding van wat die volgende dag op ons gewag het. ʼn Prentjie wat geen kamera of skrywe kan oorvertel nie! Aan die voet van die Gifberg het plate en plate witsôe, jakkalsblomme, hongerblomme en blousporrie ons begroet. Oral oor was velde en velde vol blomme.  Dit was ʼn fees vir die oog, medisyne vir die siel en goed vir die hart.

 Namakwa_veld-vol-magrietjies.jpg

Veld vol magrietjies (foto: Namakwa Toere)

Ná die blommeprag is daar piekniek gehou in die veld – nog steeds omring deur blomme. Met die Clanwilliam‑dam in die agtergrond, begroet plate sagte geel bokbaaivygies ons.

Saans is die bus se kuier voortgesit met stories en musiek in die hotel se voorkamer. Anna Davel het die storiebus-toergroep met ʼn private konsert bederf. Die Hardeveld Boereorkes het gesorg vir lekker Namakwalandse boeremusiek en vertellings wat die toerlede laat skater het.

ʼn Skatkis van stories is oopgemaak deur oom Jasper Nieuwoudt van Vanrhynsdorp. In die voorwoord van sy boek Boerseep en brakwater vertel sy groot vriend Arno van Zyl van Springbok hoe hul matriekonderwyser, meneer Fourie, altyd vir oom Jasper gesê: “Ou Jasper, as jy net skryf soos jy praat, dan is daar ʼn moontlikheid dat jy met jou skrywery dalk eendag êrens gaan kom.” Wel, oom Jasper het en hy deel ʼn stukkie Namakwaland met soveel passie en die beskrywendste woorde.

Ter nabetragting het ek mooi gedink hoekom dié toer so lekker was en hier is ʼn paar redes:

  1. Ons het elke aand op dieselfde plek gebly. Daar was geen in- en uitpakkery nie.
  2. Daar was nie ʼn vaste toerprogram nie; die toerleiers het die vryheid gehad om ons te vat na plekke wat regtig besonders is, daar waar baie min of in sekere gevalle geen ander toeriste kom nie.
  3. Dit gaan oor baie meer as net blomme. Die mooiste “blomme” wat ons ontdek het, het nie noodwendig in die veld gegroei nie.
  4. ʼn Besoek aan Strassbergers in Clanwilliam is ʼn ongelooflike ervaring en dit is onmoontlik om daar weg te stap sonder ʼn paar vellies of nuwe stewels.
  5. Daar is nie net blomme nie, maar ook rooibostee en heerlike wyne.
  6. Daar moet soms op die knieë gekruip word om werklik die mooi in die lewe raak te sien.
  7. Piekniek tussen die blomme is baie lekkerder as piekniek in die stad.
  8. Elke mens het ʼn storie; netso het elke plant of klip ook sy eie storie.
  9. Op so ʼn toer word vreemdelinge baie vinnig vriende.
  10. Ek verstaan nou D.J. Opperman se woorde: “Op die groot saaidag van die heelal het reeds ’n entjie duskant Wupperthal oor die kaal noordweste van die Heer se beste saad gelek, gelek en uitgeval.”

Wil jy graag volgende jaar saam met ons gaan?

As jy graag volgende jaar saam met ons wil gaan, vul die vorm in en ons hou jou op hoogte.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.