Met bykans 1 500 Afrikaanssprekendes wat die afgelope Saterdag hul piekniekkomberse oopgegooi en mandjies uitgepak het om onder die volmaan by die Pretoria Botaniese Tuin te fliek, was Maroela Media en attooh! se tweede Buitebioskoop, die boetie van die destydse inryteater, weer vanjaar ʼn dawerende sukses. Besoekers het reeds vanaf 14:00 by die hekke van dié fliekpiekniek ingestroom om met musiek, bekendes uit die filmbedryf en drie topgehalte Afrikaanse films in die buitelug te kom saamkuier.
Piekniekgangers was dit eens dat die reuse skerm, 14 m wyd en drie verdiepings hoog, saam met die lekker Afrikaanse karakter van die geleentheid meer as genoeg rede was om hulle te oortuig om die na-winterse koeligheid aan te durf.
Die musiekgroepe Meantime en 1925Band het besoekers met musiek vermaak voordat die Afrikaanse oorgeklankte weergawe van die film Heidi om 18:00 afgeskop het. Sy klink soos lente, wat Saterdag vir die eerste keer aan die publiek vertoon is, en Roepman is ook deur die loop van die aand vertoon.
Oor die omgewing was daar net een kwelpunt, het ʼn 80-jarige paartjie skertsend opgemerk: vanmeleë se motors in die inry het darem baie meer privaatheid gegee – “jy weet, vir die oomblikke wanneer ʼn ou se aandag van die skerm afdwaal.”
Susan Lombaard, Maroela Media se uitvoerende hoof, sê die sukses van die Buitebioskoop word toegeskryf aan elkeen wat Afrikaans ondersteun. “Ons is in ons noppies en dankbaar vir die Maroela Media-gemeenskap wat saam kom kuier het en die geleentheid ondersteun het,” het sy gesê.
Lombaard meen funksies soos dié is eie aan die Afrikaanse kultuur. “Weens omstandighede buite mense se beheer is dit deesdae selde moontlik om op ʼn veilige plek in die buitelug saam te kuier. Terselfdertyd verlang mense terug na die nostalgie van die inryteater. Ons wil met die Buitebioskoop die virtuele Maroela Media-gemeenskap die geleentheid gee om net pret te hê en saam te kuier.”
ʼn Groot hoogtepunt van die dag was Maroela-toekennings wat aan die rolprentikone, Sallas de Jager en Regardt van den Bergh, oorhandig is.
Lombaard het gesê die Maroela-span besef die sterk taal wat van tyd tot tyd in die tweede fliek, Sy klink soos lente, gebruik is, kon dalk ongemak skep, veral vir gesinne wat jonger kinders saamgebring het. “Ons vra om verskoning indien enigiemand aanstoot geneem het,” het sy verduidelik. “Ons wil egter ook noem dat dit belangrik is om die relevansie van dié taalgebruik binne die konteks van die storie te sien.”
Lombaard sê besoekers kan solank hul tande slyp vir die derde Buitebioskoop in 2017.
“Ons sal beslis volgende jaar weer dié geleentheid aanbied. Ons kry ook gereeld versoeke om ʼn fliekpiekniek in ander dorpe ook te hou. Dit is egter ʼn duur storie, wat nie uitvoerbaar is as ons nie borge soos attooh! aan boord het om die kostes te help dek nie. Indien ʼn geleentheid oor ons pad kom om ʼn buitebioskoop in ʼn ander dorp aan te bied en ons kan ʼn borg kry om dit te help realiseer, doen ons dit beslis,” het sy bygevoeg.
- Maroela Media en attooh! Buitebioskoop (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)
- Maroela Media en attooh! Buitebioskoop (Foto: Maroela Media)
- Louis van Niekerk en Jaqui Roetz (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)
- Vanjaar se BBP-area (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)
- Christo Davids en Sorina Erasmus oorhandig Lize de Wet, die wenner van die beste foto, se geskenk aan haar (Foto: Maroela Media)
- Regardt van den Bergh gesels met Leon van Nierop (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)
- Maroela Media en attooh! Buitebioskoop (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)
- Maroela Media en attooh! Buitebioskoop (Foto: Maroela Media)
- Benne Fourie, Stiaan Smith en Corné van Rooyen (Foto: Maroela Media)
- Leon van Nierop (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)
- Sallas de Jager (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)
- Maroela Media en attooh! Buitebioskoop (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Dit was heerlik, ons sien uit na volgende jaar. Dankie Maroela Media en Attooh
Dit lyk nou regtig baie lekker en gesellig. Baie dankie vir dit wat julle vir Afrikaans doen
Klink wonderlik, al die lekker dinge het mense opgegee, wonder hoekom die goed stuk vir stuk verdwyn het, so bly dit is weer aan die gang, hoekom nie iets wat werk weer laat herleef nie?
Ons het ons piekniekkombse gevat en mandjie Ons was vroeg daar net na 3 en lekker naby voor gesit met ons komberse maar net voor dat die fliek begin kom sit skielik mense wat laat kom hulle stoele reg voor ons neer en gee nie die hel om of ons of ons kinders kan sien nie. Ons kinders moes toe ‘n ander plek soek om te gaan sit en fliek kyk. As jy kamp stoele vat kan jy maar net sowel gaan sit in die gewone fliek.
Nou toe nou… hierdie een is n nuutjie (vir my) nie geweet nie, maar volgende keer sal ek seker maak ek is daar. Was dit op Maroela aangekondig of dalk Radio Pta.
Sal my oor op die grond hou.
Afrikaners is Plesierig Kreatief