Foto’s: Onderstebo huis ʼn eerste in Suid-Afrika

Die Upside Down House SA in Broederstroom. (Foto: Verskaf)

Leonie Bezuidenhout

In Broederstoom, ʼn kort entjie van Hartbeespoort op die R3 op pad na die Wieg van die Mensdom, in Noordwes pryk daar deesdae ʼn interessante kunswerk wat ontwerp is spesifiek om toeriste en besoekers te lok: ʼn onderstebo huis.

René Cronjé, bemarkingsbestuurder van die Upside Down House SA, vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dié buitengewone kunswerk is die breinkind van ʼn Poolse man wat nie graag in die kollig wil wees nie.

“Hy was ook betrokke by die bou van die huis,” sê Cronjé. “Dit het nege maande gevat om die huis te bou en te meubileer en al die meubels is teen die dak, wat eintlik die vloer is, vas.”

“Die huis is letterlik onderstebo gebou en is teen ʼn helling gebou. Die helfte van die huis is in die lug en wanneer jy die huis betree, is jy onmiddellik van balans af omdat jou brein sukkel om die omskakeling van ‘loop op die dak’ te maak. Wat die huis natuurlik uniek maak, is die feit dat dit enig in sy soort in Suid‑Afrika is,” sê sy.

Dit is ʼn dubbelverdiepinghuis met twee slaapkamers, een badkamer, ʼn kombuis, ʼn eetkamer, ʼn sitkamer en ʼn kroegarea. Die huis is ongeveer 200 vierkante meter. Alles wat normaalweg op die vloer is in ʼn gewone huis is hier teen die dak – van die sitkamerstel tot die wasmasjien.

“Die ingenieurswese agter elke klein detail wat in die huis ingegaan het, is werklik indrukwekkend en het ons tot dusver grotendeels net positiewe terugvoer ontvang,” vertel Cronjé.

Toegangsgeld tot die perseel beloop R90 per volwassene, R60 vir kinders tussen drie en sewe jaar oud en babas onder drie se toegang is gratis. Die Upside Down House SA is elke dag van die week oop. Maandae tot Donderdae vanaf 09:00 – 16:00 en Vrydae, Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae vanaf 09:00 tot 17:00.

“Ons is absoluut op families gefokus en wil hê die publiek moet hierdie asemrowende stukkie kuns in sy volle glorie beleef. Die publiek is welkom om pieknieks by ons te kom hou en ons vra ʼn addisionele bedrag van R50 indien hulle hul eie piekniekmandjies en alkoholiese verversings in ʼn koelboks wil saambring. Die kinders kan ons groot springkastele, mini‑klimrame en skopfietsies geniet en die terrein vol hardloop.”

Vir meer inligting oor die Upside Down House SA skakel 063 100 9859 of besoek die webwerf by www.upsidedownhouse.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

My c ·

Ek is seker Dis dieselfde persoon wat die een oorsee ook gebou het.

Maria ·

Het beslis my aandag gekry, ons sal gou daar n draai maak.

Tweetie ·

Jy kan nogal oulike fotos daar neem, sal beslis gaan inloer.

Jan Karsten ·

Regtig kan mense nie hulle tyd, energie en geld beter bestee nie.

Maria ·

Oulike konsep en het beslis my aandag gekry, ons sal gou daar n draai maak.

? leser ·

@jan karsten
dis sy geld, sy tyd, sy energie, sy alles, laat die man gaan, jys net groen van jaloesie

anni ·

Lees ek reg R60 vir kinders 3-7jr. Dis nou belaglik. En R50 as jy jou eie piekniek mandjie bring. Nee Wat gelukkig is die kan se baie skraal dat ek daar sal uitkom.

Ellisras ·

Ek gebruik ‘n skuilnaam. My dogter se huis lyk ook binne of dit om gekeer is. Sal al die 163 dogters wat hier lees asb hul huise aan die kant maak. Onthou van die badkamer, asb.

Strand looper ·

Mmmmm…n bottel brandy is goedkooper met die sefde effek….?

Lizl ·

Wonder hoe die munisipaliteit kopgekrap het met hierdie planne…. Eish!! Dis vir hulle moeilik genoeg met n gewone huis…. ?

Daan Erasmus ·

Die bouer het die planne verkeerd om gehad. Bouers doen sulke dinge. Elke dag.

Geronimo ·

Niks buitengewoon vir ons nie – as die kleinkinders kom kuier is ons huis net so onderstebo.

Skip ·

Dit is ‘n huis. NIE ‘n skip nie. Dit lyk vir my na ‘n huis.

Rita ·

Dit is n belewenis om te ervaar, veral kinders hou daarvan.

AH ·

Briljante idee om geld te maak! Die negatiewes onder julle kan nie glo dat julle nie daaraan gedink het nie! Dit is baie goed gedoen!??

Jozi ·

Ek woon in die Harties omgewing en as dit nie was vir ‘n paar patetiese wit plakkate (afskrifte) hier en daar op die Broederstroom pad nie, sou ek nie eers geweet het van die plek nie.
En dan moet ‘n ou nog toegangsfooi betaal om te gaan kyk na die spulletjie.
Lyk maar soos jou gewone Wendyhuis wat met die trek van die trok afgeval het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.