Foto’s: Opgetof en afgestof vir asblikdag, inkopies

Timea Kulscar van Kaapstad in haar spesiale rok vir haar besoek aan die winkels. (Foto: @livetheflowlife)

ʼn Hele paar Suid-Afrikaners het besluit die 21 dae van afsondering is beslis nie ʼn rede om die heeldag in ʼn sweetpak of pajamas rond te sit nie.

Inteendeel, hulle het hierdie week reeds hul spoggerigste (of verspotte) klere agter in die kas gaan uithaal en afgestof. Dié klere word nou aangetrek vir spesiale geleenthede soos asblikdag, om uit te gaan om noodvoorraad aan te vul by die supermark, of om die hond buite toe te vat om ʼn draai te gaan loop vir al sy noodsaaklikste besighede.

Hanlie Klein, ʼn inwoner van die Irene Glen-landgoed naby die Rietvlei-natuurreservaat in Centurion, Pretoria, sê sy het die idee gekry by ʼn vriendin wat vir haar ʼn video aangestuur het van ʼn vrou wat haarself spesiaal mooi aantrek om die vullis uit te gaan sit.

“Ek het die video met die vroue op ons landgoed se WhatsApp-groep gedeel. Almal was so oulik om daarna sommer spontaan self te besluit om op te dress om hulle asblikke uit te sit.

“Ons wou maar net almal mekaar laat glimlag. Ek is taamlik seker daar sal komende Woensdag weer aangetrek word vir die asblik-uitsit-geleentheid en dit sal vir my heerlik wees as ander mense ook by ons aansluit vir die geleentheid,” het Nel gesê.

Kapenaars het ook beslis geensins hierdie week teruggestaan nie! Timea Kulscar, ʼn lewensafrigter wat in ʼn klein woonstelletjie in Kaapstad woon, moes op die vierde dag van inperking uitgaan om ʼn paar noodsaaklike items by die supermark aan te skaf.

“Ek moes na Clicks en Pick n Pay stap en ʼn besonderse rok was eenvoudig onontbeerlik. Dit was vir my belangrik om mense te laat glimlag, veral die mense wat steeds in die winkels in hierdie tyd van afsondering moet werk.

“Die bonus van my rok was dat dit natuurlik gemaak is om die nodige sosiale afstand te behou,” skerts sy.

Nog ʼn Kapenaar, Sivu Nobo, ʼn professor in bemarking wat in dieselfde woonstelblok as Kulscar woon, het sy mooiste Sondagpak aangetrek om sy hond na die woonstel se grasperk te neem.

Nicki Ellis se gesin het ook soos ʼn advertensie uit ʼn glanstydskrif gelyk toe hulle Dinsdag hul asblikke uitgeneem het.

Maroela Media hoop die foto’s kikker sommer jou Vrydag ook op!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sê Ook Maar Net ·

Baie mooi.
MAAR…..ek hoop regtig nie hulle het die asblikke sonder handskoene of ontsmetting weer terug gevat in die erf in nie.
Die asblikwerkers het aan die hele buurt se handvatsels gevat en ook aan die asblikke in die fotos.
O ja en die ou met die blou handskoene vryf sy oog met die handskoen, wat help dit?..sy hand bly skoon maar die handskoen is vuil..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.