Foto’s: Pluktuin fleur Affies-meisies se blommetradisie op

Die welige en kleurvolle tuin aan die voorkant van die Afrikaanse Hoër Meisieskool (AHMP) in Pretoria se hoofgebou. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Wanneer ʼn mens verby die Afrikaanse Hoër Meisieskool (AHMP) in Pretoria se hoofgebou ry, is dit moeilik om die welige en kleurvolle tuin aan die voorkant mis te kyk. ʼn Ware pluktuin, soos Karen Viljoen, landskapargitek en ontwerper van die tuin, dit beskryf.

Dit is ʼn sonnige dag in die Jakarandastad en hier onder die boom waar ʼn swetterjoel voëls kwetter en jong meisiestemme elke nou en dan uitbundig opklink, sit Karen en gesels oor dié einste lushof wat sy verlede jaar vir Affies-meisies se matriekafskeid geskep het.

Sedert haar seun, Schalk, ses jaar gelede op pad skool toe deur ʼn bus raakgery is, het sy nog altyd heimlik gehoop dat sy eendag die skolegemeenskap kan bedank vir hulle ondersteuning in ʼn moeilike tyd.

Die tuinprojek is tydens amptelike geleentheid aangekondig. (Foto: Karen Viljoen)

Karen was dadelik opgewonde oor Affies-meisies se uitnodiging om van die blombeddings op te knap. Tuinmaak en -ontwerp is nie net haar passie nie, maar hierdie spesifieke geleentheid was ook ʼn manier om terug te ploeg in die skool se blommetradisies.

“Daar is nie iets soos ‘toevallig’ wanneer jy ʼn Christen is nie. Die Here stuur mense vir ʼn rede oor jou pad,” sê Karen.

Maroela Media het in 2016 berig dat Schalk, toe ʼn gr. 11-leerder aan die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria, in die buslaan in Lynnwoodweg tussen Affies en AHMP getref is toe hy die straat wou oorsteek.

Karen en haar man, Deon, het hulle seun se herstel as ʼn wonderwerk beskryf. Schalk het ook onlangs in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel dat hy steeds niks van die dag kan onthou nie, maar ondanks emosionele én fisieke letsels gaan dit goed met hom.

Blommetradisie inspireer pluktuin

“Geen ma verwag ʼn oproep van die skool wat sê dat jou kind raakgery is nie. Ek het nie werklik besef hoe ernstig hy seergekry het, tot ons by die hospitaal was nie,” vertel Karen terwyl sy terugkyk en haar handewerk bewonder.

“Ons het eintlik nie gedink hy gaan dit oorleef nie,” erken sy, “maar die genade van die Here was groot.”

Van die bosse blomme wat Affies-meisies na Schalk se ongeluk by die hospitaal afgelaai het. (Foto: Karen Viljoen)

Schalk se ongeluk het Vrydagoggend gebeur en oor die naweek het dié nuus soos ʼn veldbrand versprei. Ouers, maats, mede-Affies en selfs mense wat die Viljoens nie geken het nie, het saam vir Schalk gebid.

Karen sê die gemeenskap se ondersteuning en omgee was oorweldigend en dat dit gevoel het of mense saam met hulle hartseer is. Teen Maandagoggend was Affies-meisies ook daar om die gesin te ondersteun.

“ʼn Paar leerders het namens die skool vir ons blomme hospitaal toe gebring … bosse en bosse en bosse blomme,” beduie Karen asof sy self ʼn bos blomme omhels. “Party was gekoopte bosse, ander kon jy sien, is uit die ouers se tuin uit gepluk. Dit het so baie vir ons beteken.”

Omdat tuinmaak en blomme haar forte is, meen Karen, was die blomme as teken van ondersteuning en bemoediging so reg in haar kraal. “Ek kan nie aan iets beters dink as om ons op hierdie manier by te staan nie.”

Hulle moes wel baie van die blomme vir personeel en by ʼn ouetehuis uitdeel omdat daar eenvoudig nie plek vir alles was by die hospitaal of die huis nie. Dit is egter iets wat Karen tot vandag toe nog bybly: Affies-meisies se blomme.

“Daar is eintlik geen verband tussen die ongeluk en hoekom hulle my gevra het om die tuin te ontwerp nie, maar toe hulle my vra, het ek gedink: ‘Wow! Dit is die ideale manier vir my om iets terug te gee, om die blomme wat hulle vir ons gegee het, terug te gee’.”

Die matriekafskeid kom huis toe

In die voorwoord van Affies-meisies se 2021-jaarblad skryf Marna Jordaan, hoof van die skool: “Twee hoogtepunte wat ons seker altyd aan 2021 sal laat dink, is die nuwe tuin, en die dag toe die matriekafskeid huis toe gekom het. Dit het soveel wat hard was, kom sag en mooi maak. Dit het ons weer laat glo in wie en wat ons is.”

Marna se woorde is ook dié van Annarine Hanekom, verlede jaar se matriekgraadvoog, en Rieka Bruwer, ʼn Affies-meisie-ma en voorsitter van die matriekkomitee.

“Dit was ons droom om die matriekafskeid vir die eerste keer in baie jare weer op eie bodem te hou,” vertel Annarine.

Sy en Rieka gesels oor die vreugdes en uitdagings om verlede jaar se matriekafskeid te reël. Die tuin was maar een van die dinge wat hulle saam hanteer het. Daar was talle uitdagings ook: afgesien van datums en ʼn gepaste venue, was daar ook veiligheidsrisiko’s wat met die Covid-19-pandemie gepaardgegaan het.

Die skool is egter goed gerat met geriewe en toerusting en daarom was dit moontlik om die matriekafskeid “huis toe te bring”. So het die voorstel vorm aangeneem en die bal is aan die rol gesit.

Karen se vriendin, wie se dogter in 2021 ʼn matrikulant in Affies-meisies was, het in die matriekkomitee gedien en was ook betrokke by die organisering van die matriekafskeid. Sy het tydens een van die vergaderings voorgestel dat hulle vir Karen nader om te hoor of sy sal help om die tuin op te kikker.

“Ek het ingestem en toe eers my storie vertel. Nadat ek met die hoof gesels het, het ek ʼn voorlegging vir die bestuursliggaam gedoen en hulle was gaande oor die konsep,” vertel Karen.

“Om ʼn tuin te plant, is om te glo daar is ʼn môre. Die lewe is soos saad: hoe meer jy saai, hoe meer blomme het jy om later te pluk.” – Marna Jordaan, skoolhoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool

Skielik het die idee om net dele van die tuin te verfraai ʼn hele tuinprojek geword, met Karen wat die voortou geneem het. Karen verduidelik dat sy van die begin af ʼn tuin wou skep wat blywend is.

“Daar is verskillende blomme wat op verskillende tye van die jaar blom. Dit is sodat daar die hele jaar bloeisels is. Ek wil hê die meisies moet enige tyd vrymoedigheid neem om te kom blomme pluk: vir die kantoor se ingang, wanneer iemand verjaar, of vir spesiale geleenthede.”

Hierdie tuin simboliseer vrolikheid, sê Karen nadat sy ʼn rukkie in die verte getuur het. “Blomme bring immers tog vreugde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Trots om ‘n oud Affie te wees. Jare terug was ek ook in die koshuis en in my matriek jaar het ek vir ontspanning die koshuis se blomtuin in stand gehou. Saam met die koshuishoof plantjies, kompos en saad gaan koop. Die koshuis het daardie jaar ‘n baie mooi blomtuin gehad. Ons kon dan uit ons eie tuin blomme pluk vir die verjaarsdagmaats. Wonderlike initiatief van Karen. Meisies en dames word vereenselwig met blomme en hoe mooi en lekker is dit nie om so tussen die blomme te kan skoolgaan nie.

Sanet

Ek het nou hierdie berig so geniet, baie lekker om van omgee mense se toewyding te hoor. ek het toevallig ook op die oomblik n kleindogter in Affies. Baie dankie Karen vir hierdie lushof en jou onbaatsugte diens wat jy hier gelewer het. Voorspoed aan almal!!!!