[Foto’s] Potch-studente hou weer Jool vir liefdadigheid

Jool 2017 (Foto: Marnus Kok)

Jool 2017 (Foto: Hardus Ludick)

Dit is belangrik om jool te behou omdat dit ʼn Noordwes-Universiteit-tradisie is wat reeds vir baie jare in gebruik is, al het baie universiteite al daarmee weggedoen, sê Paul Maritz, studenteraadsvoorsitter van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus (NWU-Pukke).

Verskeie universiteite, soos die Universiteit van Pretoria, het in die laaste paar jaar hul jaarlikse jooloptogte eers afgeskaal, voordat dit later heeltemal afgeskaf is.

Jool word grotendeels gehou om fondse in te samel, wat later in behoeftige gemeenskappe terruggeploeg word.

Volgens Maritz, wat einde verlede jaar vir ʼn tweede termyn as studenteraadsvoorsitter aangewys is, kon hulle in die drie laaste termyne jaarliks meer as R1 miljoen vir liefdadigheid insamel.

“Dit is sleg dat sommige kampusse weggedoen het met jool. Dit beteken daardie universiteite se liefdadigheidsprojekte word deur betaalde werknemers en nie deur studente gedoen nie. Niemand dwing of betaal ons om die jool te doen nie. Ons doen dit omdat ons in die saak glo,” het Maritz gesê.

Jool 2017 (Foto: Marnus Kok)

Jool 2017 (Foto: Hardus Ludick)

In Potchefstroom is die gewildheid van jool glad nie aan die afneem nie.

Saterdagoggend was dit weer tyd vir die jaarlikse optog van die joolvlotte en ouers, vriende en belangstellendes het reeds vroegoggend langs die roete gewag met kampstoele en braaiers

Nadat die vlotte om 08:00 van die joolplaas vertrek het, het die eerstejaars kom “blikskud” en die toeskouers het met ʼn glimlag hul sente en rande in die blikkies gegooi.

Herman van der Merwe en sy vrou het al die pad van Pretoria gekom om hul kinders, wat by die NWU-Puk studeer, te ondersteun. “Ons kom graag om die vlotte te sien. Die studentegees in Potchefstroom is iets besonders.”

“Sente vir studente,” hoor jy een van die eerstejaarstudente iemand langs die pad vir ʼn bydrae vra.

Jool 2017 (Foto: Marnus Kok)

Jool 2017 (Foto: Hardus Ludick)

Volgens Phillip Nel, ʼn eerstejaarstudent in Excelsior-manskoshuis, wat hierdie jaar met sy studie begin en hoop om hom as ʼn geoktrooieerde rekenmeester te bekwaam, is die hoogtepunt van die jooldie dinge wat jy sien. Die dinge wat jy bereik. Ons het ook baie vriende gemaak. Dit is nie iets wat geld nie kan koop nie.”

Nog ʼn ouer, Kotie Boshoff, het gesê dit is lekker om langs die pad te wag en te kyk hoe die vlotte lyk. “Die studente doen soveel moeite met die bou van die vlotte. Dit wat hulle vir liefdadigheid doen, is ongelooflik. Ons voel deel van jool.”

Gert Matthee, joolhuiskomiteelid van Patria-manskoshuis, het gesê jool is ʼn lekker uitdaging. “Dit toets mens se karakter omdat almal moeg is. Alles is egter vir ʼn goeie doel. Jou vlot lyk mooi en jy gee terug aan die gemeenskap,” het Matthee gesê.

Volgens Kiewiet Scheppel, woordvoerder van die NWU-Pukke, ondersteun die jool nagenoeg 100 gemeenskapsprojekte in Noordwes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oud-PUK ·

Welgedaan PUK! Doet so voort.

Ai, die dae to Jool by PUK nog Karnaval was.

Hendrik ·

Goeie dinge wat nie moet verdwyn nie, al is die druk hoe hoog.

Eenmaal 'n PUK altyd 'n PUK! ·

Raak my hart sommer warm van trots! Mooi so Pukke, geen ander Univesiteit het julle gees nie.

Elize ·

Ai hoe verlang ek ou Potch. Vir 12 jaar was dit my dorp.het so lekker daar gebly.sal enige tyd terug trek soontoe. Het nooit die jool gemis nie.was elke keer langs die pad.om die studente se uitmuntende werk te aanskou. Doen so voort Pukke.julle is en bLy die beste in die land. PUKKE BO VIR ALTYD.

SAARTJIE ·

HOEKOM WORD KOVSIES SE JOOL FOTOS OOK NIE OPGESIT NIE. SATERDAG WAS DIE JOOL IN BLOEMFONTEIN. MAROELA KAN GERUS DIE MOEIETE DOEN EN DIT OOK OPSIT. KOVSIES DOEN NET SO BAIE VIR DIE ARM GEMEENSKAP. KOVSIES BO

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.