Video: Pretdag by monument te danke aan flukse studente

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Te danke aan ’n flukse groep MBA-studente, is daar Saterdag ’n heerlike pretdag by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou ten bate van Solidariteit Helpende Hand en die Vlokskop-stigting se Tekkies en Toks-projek.

Drawwers van jonk tot oud het hul tekkies nader getrek om aan die geleentheid te kon deelneem.

Selfs die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, het sy formele pak klere vir ʼn stel oefenklere verruil terwyl hy die roete aangedurf het.

Die groep studente wat aan die stuur van die geleentheid was, sluit AfriForum se hoof van sport, Ronald Peters, en Solidariteit se hoof van bemarking en kommunikasie, Lindie de Beer, in. Al die lede in die groep het vanjaar met die eerste jaar van hul MBA-kwalifikasies aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus begin.

Een van die take wat hulle as deel van hul graad moes aanpak, was om ʼn bietjie hand by te sit by ʼn gemeenskapsprojek, kriteria wat die Tekkies en Toks-projek soos ʼn handskoen gepas het.

Die Tekkies en Toks-projek is juis geskep om minderbevoorregte sportuitblinkers ʼn hupstoot te gee in hul sportloopbane met skenkings van onder meer sporttoerusting.

“Die mikpunt van vandag is om soveel as moontlik in te samel. Ons mik vir tussen 100 en 150 hardlopers vandag, wat ons by so R5 000 sal bring, waarby AfriForum Sport ook ʼn bydra sal lewer bo-op daardie inskrywings,” het Peters aan Maroela Media vertel.

Hy het later bevestig dat hoewel daar nie soveel drawwers was nie, die opbrengs uit die geleentheid wel hul doelwit vir die Tekkies en Toks-projek oorskry het.

  • Vir meer inligting oor die Tekkies en Toks-projek, besoek die webwerf

Kyk ‘n video van die geleentheid hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ek kan ·

Dit klink baie lekker en ons sou dit graag wou bywoon – maar het nie geweet daarvan nie. :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.