Foto’s: Pretoriase Nasionale Dieretuin spog met twee nuwe skeurtandhaaie


Skeurtandhaaie-07

Een van die skeurtandhaaie wat nou die Pretoriase Nasionale Dieretuin sy nuwe tuiste noem. Foto: Esté Meyer Jansen.

Dit is nie aldag dat Kapenaars die see in Desembertyd vir Pretoria se strate verruil nie, maar dit is presies wat nou gebeur het met twee nuwelinge wat sedert verlede week die Pretoriase Nasionale Dieretuin hul nuwe tuiste noem.

Twee skeurtandhaaie het Donderdagmiddag by die dieretuin opgedaag en is Vrydagoggend in die akwarium se haaitenk vrygelaat waar hulle die water met visse soos witstompneuse, karanteen, slimjannies, natalse maanskynvisse, kolsterte, stinkvis en ʼn paling deel.

Volgens Craig Allenby, woordvoerder van die dieretuin, het die oorspronklike skeurtandhaai die tenk ontgroei en sal hy nou in samewerking met die Twee Oseane Akwarium in Kaapstad in die see vrygelaat word. “Dié soort haaie se natuurlike instink om te oorleef is uitsonderlik sterk en na verwagting sal die haai vinnig in sy natuurlike omgewing aanpas,” het Allenby gesê.

Die dieretuin se nuwe skeurtandhaaie is ʼn wyfie en ʼn mannetjie wat rondom 1,2m lank is en hulle weeg onderskeidelik 12,6kg en 11,6kg. Volgens Allenby is die Pretoriase Nasionale Dieretuin die enigste binnelandse akwarium wat dié soort haaie huisves.

“Dié haaie hoef nie deurlopend te beweeg om water oor hul kiewe te laat vloei sodat hulle kan asemhaal nie. Daarom kan hulle vervoer word na die binneland. Hulle is ook nie ʼn aggressiewe spesie nie, wat hulle ideaal vir ʼn akwarium maak.”

Die skeurtandhaaie kan sewe dae ʼn week by die dieretuin besigtig word. Besoek die Pretoriase Nasionale Dieretuin se webwerf vir besoektye en toegangstariewe.

Vinnige feite:

  • Die Australiese skeurtandhaai het in 1984 die eerste beskermde haaispesie geword. Die Suid-Afrikaanse skeurtandhaai word ook deur natuurbewaringswetgewing beskerm.
  • ʼn Skeurtandhaai het twee dorsale vinne en ʼn verlengde stert. Die haaie word gewoonlik 3,5m lank en weeg tussen 90 en 160kg. Die grootste skeurtandhaai op rekord het 300kg geweeg.
  • Die haaie se naam is afgelei van hulle tande wat lyk asof dit geskeur is. Die haaie het twee rye tande wat dikwels in hul leeftyd vervang word met nuwe, skerper tande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SkarrelKind ·

Ek hoop hulle sal lekker aanpas in die dieretuin en dat die ou groot haai haar/sy vryheid sal geniet en ook gou selfversorgend sal wees.

Nel ·

Ons het 3 naweke terug in die dieretuin oornag, jy slaan tent op, gaan saam met ‘n toerleier op ‘n toer om na al die nagdiere te kyk, en braai dan vleisie na die tyd. Volgende dag kan jy die hele dag in die dieretuin spandeer. Dit was ‘n fantastiese ervaring. Oud en jonk het hulle gate uitgeniet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.