Foto’s: Pta-hoërskool se lawwe tas-dag sorg vir hope pret

Leerders aan die Hoërskool Oos-Moot in Pretoria het vindingryke maniere gevind om hulle skoolboeke rond te dra op Alles-behalwe-ʼn-tas-dag. (Foto: Facebook/Hoërskool Oos-Moot Amptelik)

Die leerders aan Hoërskool Oos-Moot in Pretoria het verlede Vrydag vindingryke, en soms skreeusnaakse, maniere gevind om hulle skoolboeke op die skoolterrein rond te dra tydens ʼn sogenaamde Alles-behalwe-ʼn-tas-dag.

Op dié pretdag het die leerders op kreatiewe wyse hulle skoolhandboeke in alles van gereedskapkiste, popstootwaentjies, voëlhokke, mikrogolfoonde, stofsuiers, winkeltrollies, asblikke, wasmandjies en selfs kitaarsakke oor die skoolterrein rondkarwei.

Te oordeel na die foto’s wat op die hoërskool se amptelike Facebook-blad pryk, lyk dit of die kinders hope pret gehad het.

Uit die kommentare op die plasing lyk dit asof dié prettige gebeurtenis ook mense laat terug verlang het na hulle eie skooldae.

“Ai waar is ons skooldae? 1979-matriek Oosie. Dit kon net vet pret wees. Julle jong mense is baie kreatief,” skryf ene Hannatjie Adam.

“Dit was supercool. Terwyl ek buite sit en wag vir Joost, het ek almal gesien uitkom. Ek het verlang en wil ook terug skool toe. Kuswag 1998, ek verlang,” skryf Anne-Marie Laubser.

“Baie oulik. En jy sien sommer hoe die oë blink en almal se tande wys onder die masker. Geniet hoërskool, dit is ʼn fase wat te gou verby gaan,” sê Yolande Cavanagh.

(Foto: Facebook/Hoërskool Oos-Moot Amptelik)

“Julle is ʼn kreatiewe klomp, lyk na pret,” sê Ronisa van Zyl.

Sommige mense het ook geskerts dat die supermarkte seker wonder waar al hulle trollies heen is. “Spar wonder seker waar al hulle trollies is,” het Delmarie van Zyl geskryf.

Uit die kommentare blyk dit dat skole reg oor die land, soos Hoër Tegniese Skool Tom Naudé in Polokwane, ook die pret gedeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Maroela Media, Hoërskool Hugenote in Springs het ook so ‘n dag gehad. Gaan loer gerus na hulle foto’s op hul Facebook blad. Die kinders was baie kreatief en oorspronklik.

Niklaas ·

Dit moes groot pret gewees het. Lekker gees vang dae daar.

AmY ·

Ek haal my hoed af vir daai seun met die mikrogolfoond. Daai ding is mos nie lig nie!
Dit lyk of hulle baie pret gehad het.

PieterJ ·

Lesufie is more daar, daar is net wit kinders op die foto’s.

Strandloper ·

Miskien oor so week…dit is iets nuut en die grys goed is maar min.

Frieda ·

Dit was my skool 60 jaar gelede!! Wat ‘n blink idee en baie prettig!!

Anel ·

Hoe kreatief is ons Afrikaanse skole nie! Lekker om te sien dat daar sulke projekte gedoen word om die kinders se gemoed bietjie te lig in hierdie steeds donker dae. Geniet dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.