[Foto’s] R120 000 vir boere in die Vrystaat

Feesgangers. Foto: Verskaf

Feesgangers. Foto: Verskaf

Nagenoeg R120 000 is ingesamel nadat die Boeretroos Noord-Vrystaat-groep en die Parys Toerismeburo vroeër in Maart hande gevat het om boere in die voortslepende droogte by te staan met behulp van die Boere Troos Fees (sic).

Denise Joyce, een van die organiseerders, sê boere van die Fezile Dabi-distrik, wat nagenoeg 18 dorpe insluit, gaan by dié fees baat.

“Die Boere Troos Noord-Vrystaat Organisasie het ʼn beroep op boere in die omgewing gedoen om met hulle kontak te maak indien hulle hulp benodig,” het sy verduidelik. “Die gemeenskap van Parys in die Vrystaat het toe saamgespan om geld in te samel vir dié boere in die Noord-Vrystaat wat gebuk gaan onder geweldige druk as gevolg van die droogte.”

Sy sê nagenoeg 2 300 feesgangers is deur die hekke wat die R120 000 vir die boere verseker het.

Boere gaan egter steeds ondersteuning benodig ten spyte van die onlangse reënval omdat soveel oeste verloor is. “Terwyl die onlangse reën baie verligting vir inwoners van die distrik gebring het, kan dieselfde nie gesê word van die boere nie. Party boere het nie eens geplant nie. In dié stadium sukkel boere om voer vir diere en kos vir plaasinwoners te voorsien. Die toekoms is ook onseker aangesien dit nie duidelik is of die gewasse die winter sal oorleef nie.”

Die geld wat met behulp van die fees ingesamel is, gaan aangewend word om boere by te staan. “Ons volgende stap is om ʼn daadwerklike verskil in die lewe van hierdie boere te maak,” het sy gesê.

Joyce sê die span wil elke feesganger bedank vir die groot sukses van die fees en die positiewe bydrae wat dit tot die boere gaan maak. “Ons wil dankie sê vir elke feesganger se goeie gesindheid op die dag. Almal gons oor hoe lekker die atmosfeer was; daarvoor kan ons ook die kunstenaars vir hulle fantastiese teenwoordigheid bedank,” het sy gesê.

Dorpe wat gaan baat by die fees, is onder meer Cornelia, Deneysville, Edenville, Frankfort, Heilbron, Koppies, Kragbron, Kroonstad, Oranjeville, Parys, Renovaal, Sasolburg, Steynsrus, Tweeling, Vierfontein, Viljoenskroon, Villiers en Vredefort.

Vir meer inligting, om betrokke te raak of indien jy ʼn boer is wat hulp benodig, stuur ’n e-pos aan die organiseerders na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.