“In die oomblik van hartseer het ek net besef dat ’n mens nie moet tou opgooi nie. Jy moet die yster smee terwyl hy – letterlik en figuurlik – warm is.”
Só onthou Gerda Stols nog haar eerste gedagtes toe die historiese tolhuis in die Montagupas naby George in die Suid-Kaap op 29 Oktober verlede jaar deur ’n bergbrand verwoes is.
Stols is bekend in die George-omgewing as die raakvatter-vrou wat die leisels neem as voorsitter van die Vriende van die Tolhuis wat die instandhouding van die tolhuis al vanaf 1999 behartig.
Sowat 20 jaar gelede het hierdie 173 jaar oue historiese tolhuis Stols se hart met die eerste oogopslag gesteel. Sy en haar oorlede man, Johan Stols, het saam gedroom oor hoe hulle dié verwaarloosde huisie gaan restoureer en só die gemeenskap van die kultuurhistoriese erfenis bewus maak.
“Dit was ’n murasie. Niemand het meer omgegee wat van die plek word nie,” sê Stols.
Stols se oorlede man was ’n kultuurhistorikus en het dadelik navorsing begin doen oor dié ou tolhuisie wat tydens die konstruksie van die Montagupas tussen 1844 en 1847 opgerig is.
Die tolhuis is opgerig met die doel om die tolmeester te huisves wat die tolgeld op die pas tussen George en die binneland ingevorder het. Die tolhuis het in 1972 nasionale erfenisstatus gekry.
Vir Stols was dit ’n hartsaak om by die tolhuis betrokke te raak en ná byna twee dekades bly dit haar grootste passie in die lewe.
Sy vertel die groot dryfkrag vir haar was nog altyd haar liefde vir kultuur en erfenis en daarom wou sy die tolhuis vir die nageslag bewaar.
“As jy in die geskiedenis van jou land belangstel, word alles met geskiedkundige waarde vir jou belangrik. As jy nie weet waar jy vandaan kom nie, gaan jy nooit weet waarheen jy op pad is nie,” meen Stols.
Ná Stols se man se dood het sy begin twyfel of sy die tolhuisprojek vroualleen sal kan aanpak. Dié vrese was egter kortstondig.
“Ek kon nie handdoek ingooi nie. Ek het besef as ek nie iets gaan doen nie, gaan niemand iets doen nie. Ek beskou myself as die beskermengel van die tolhuis as kultuurryke erfenis,” vertel Stols.
Twee jaar ná die afsterwe van haar man het Stols die Vriende van die Tolhuis gestig met die oog op die bewaring en behoud van die tolhuis.
Omtrent 12 vrywilligers het by die Vriende betrokke geraak waarvan een van die argitekte, Charles Westman, se oupa die laaste tolmeester was wat in die tolhuis gewoon het.
Die Vriende is as ’n niewinsgewende organisasie geregistreer en is ten volle afhanklik van skenkings van weldoeners.
Stols het leiding geneem om geld in te samel om die tolhuis met liefde te versorg en voort te gaan met die projek waarmee sy en haar geliefde man begin het.
“Ons het kosbare meubelstukke van skenkers gekry om ’n huislike atmosfeer te skep. Vrywilligers het ook ingestroom om te help met die restourasie. Mense gee nie net altyd hulle geld nie, maar eerder hul tyd,” sê Stols.
Stols vertel trots dat die FAK hulle in 2014 met ’n toekenning vir buitengewone kulturele prestasie vereer het. Die toekoms van die tolhuis het rooskleurig gelyk. “Die restourasie het goed gevorder, want al die betrokkenes se harte was in die saak,” vertel Stols.
En toe gebeur die ondenkbare. In 2018 het vlamme binne etlike minute die historiese skatkis met kosbaarhede van meer as 100 jaar oud vernietig. Hierdie tragiese gebeurtenis het vir Stols gevoel soos die “dood van familie”.
“Ek sal nooit daardie dag vergeet nie. Die brand het oorweldigend op die gebou neergesak. Ek het so magteloos gevoel, want daar was geen manier dat ek die gebou kon red nie.”
Stols het egter nie in sak en as gaan sit nie, maar was vasberade om dié erfenisskat weer te herbou. “Die brand het Maandag gebeur. Die Dinsdag was ons reeds op die toneel besig om op te ruim, skoon te maak en bouplanne op te trek,” vertel Stols.
Sy het ook vasberade planne beraam om weer geld in te samel vir die restourasie van die gebou.
“Die Vriende en ander vrywilligers kom elke Saterdag by die tolhuis bymekaar om pannekoek te bak en koffie saam met ’n brokkie geskiedenis met die mense te ruil vir skenkings.”
Ondanks al die skade het Stols deurentyd haar positiewe gesindheid behou.
“Dalene Matthee het gesê die lewe draai vir jou die hemel en hel in een doek toe. My man het ook altyd gesê die son skyn altyd daar waar die woestyn is. Jy moet net self besluit om die mooi in die slegte tye raak te sien.”
Stols se vasberadenheid om die tolhuis weer op te bou was nie vir haarself nie, maar vir die mense van die gemeenskap wat die tolhuis deur die jare so liefgekry het.
“Mense het die tolhuis begin sien as ’n geliefde, kosbare plek. Ons het mense meer bewus gemaak van hierdie erfenisskat en ook hulle eie erfenis.”
Sy vertel sy het geworstel met baie vrae oor die brand en waarom dit moes gebeur het.
“Ek het tot die besef gekom dat God dalk ’n ander doel met die tolhuis het. Ons wil die tolhuis tot eer van die Here opbou,” vertel Stols.
Stols vertel dat hulle die tolhuis in ’n kultuursentrum wil omskep waar kultuur, erfenis en musiek ’n groot rol gaan speel. “Ons beoog om ’n kultuursentrum te skep waar die gemeenskap kan kom musieklesse neem, musiek luister en selfs boeke lees. Ons wil ook ’n plek van rustigheid skep,” sê sy.
Stols is baie dankbaar vir die welwillendheid en ondersteuning van die George-gemeenskap om die tolhuis weer op te bou.
“Met die projek het ek opnuut ’n meelewing van die gemeenskap ervaar. Jy kan nie alleen so ’n groot projek wil aanpak nie. Jy het ’n ondersteunende gemeenskap nodig wat dieselfde passie as jy deel.”
Skenkings het weer begin instroom.
Stols vertel dat hulle beker omtrent oorloop toe hulle net ná die brand ’n e-pos ontvang van al die ou skenkers wat bereid is om als weer te skenk wat in die brand vernietig is. “Jy moet nooit die goedgesindheid van mense onderskat nie. Mense help graag. Mense wil graag betrokke wees, hulle weet net nie altyd hoe nie,” sê Stols.
Die restourasie van die tolhuis is weer goed op dreef en die Vriende stuur vele pogings van stapel om genoeg geld bymekaar te skraap. Afgesien van die pannekoekbakkery, hou hulle ook gereeld veilings gekombineer met etes by die plaaslike gholfklub.
Professionele fietsryers gaan ook op 21 Desember aan ’n fietsrytoer by die Montagupas deelneem ten bate van die tolhuis.
“Die grootste les wat ek uit hierdie hele ervaring geleer het, is dat die Here ’n plan vir jou lewe het. Jy groei met elke ervaring.”
Stols glo vas dat die tolhuis voor 29 Oktober vanjaar weer in sy volle glorie gaan staan.
“God sorg vir ons. Ek het my eie weergawe van Psalm 121: Ek slaan my oë op na die Outeniekwaberge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here wat die Knysnabos en die see by Victoriabaai gemaak het.”
Besoek die Tolhuis se Facebookblad om te sien hoe jy kan bydra.
Dankie Maroela dat julle ons geskiedenis relevant en aan die lewe hou. Well gedaan Gerda Stols. Jou man sal trots wees!
Wow baie mooi en haal my hoed vir jou af. Glo my met n smile jou man is so trots op jou …met gerus in jou hart le. Baie dankie aan almal vir omgee.
Fantasties dat daar nog soveel omgee is vir wat was.
Baie sterkte met jul projek, Gerda. Ek beplan om Desember daar langs te ry maar gaan beslis daar stop.
Dit is waarlik baie goeie nuus!!