Foto’s: Riebeekvallei nou ook kunsparadys

Kunstenaar Emma Willemse se Boat Circle agter die Royal Hotel.
(Foto: Verskaf)

Die pragtige Riebeekvallei aan die voet van Kasteelberg in die Swartland, is al vir jare dié plek waar moeë stedelinge oor naweke kom wegkruip en wyn drink, brood in olyfolie doop en die spanning uit hul skouers laat verdwyn. Nou is daar nóg ’n goeie rede om te kom kuier: Arts Town, ’n viering van diegene wat in individuele kunsuitdrukking uitblink. Maryke Roberts het tydens een van dié organisasie se geleenthede, die vyfde Solo Studios, gaan kuier.

Arts Town het verskillende afdelings, waarvan Solo Studios, The Stone Circle-projek, REVIVE! Beeldhou-roete en die Royal Arts Town Amphitheatre (RATA)-program enkeles is. Met Solo Studios wat pas gehou is, kry ons die kans om iets van alles te ervaar: teateropvoerings in die buitelug in die amfiteater agter die bekende Royal Hotel; besoeke aan kunstenaars se huise en ateljees; groepuitstallings en selfs twee plek-spesifieke kunsuitstallings. Tussendeur smul, proe en ruik jy op die Proeroete, waar die vallei se bekroonde wyne, olyfolie, tuisgebak, charcuterie en vele meer, spog.

RATA is verlede jaar geopen, as gevolg van die Covid-pandemie, sodat kunstenaars ’n ruimte het waar hulle hul kuns kan beoefen, maar teatergangers steeds sosiale afstand kan behou.

Die amfiteater se teaterprogram strek tot Mei vanjaar en verskeie bekende kunstenaars is hier in die maanlig te sien. Ons het een teaterstuk daar vir laataand bespreek.

Ons hoor met ons kuier, geen besoek aan die vallei kan noemenswaardig wees sonder ’n gin en tonic op die hotel se lang stoep, van waar jy die middedorp kan gadeslaan en sommer geselsies met almal kan aanknoop nie. So gesê en so gedaan. Teen sterk skemer is ons daar. Mense eet ligte maaltye by lae tafeltjies; sommige stap deur die hotel na een van die ander vertonings, Middelman met, onder meer, Marcel van Heerden of eerstemense met Donker Jonker, ’n plaaslike skrywer.

Ons sit in die donker en wag vir die toneelstuk The Harlequin’s Needle om te begin. Die windjie dans liggies in die wilgerbome neffens die trappe en in die verte hoor jy die gesels om braaivleisvure, sien jy ligte laag teen die berg.

“The Harlequin’s Needle” is ’n eenmanstuk deur en met Georick Veltman aka The Mirrorsister. Die kort toneelstuk word met behulp van ’n wit laken, sambreel en spieël illustreer, terwyl beelde uit ’n skootrekenaar op Georick se lyf geprojekteer word.
(Foto: Johan Viljoen)

Die kussings agter ons rug en onder ons sitvlak op die gras, laat voel my weer soos ’n kind. Die piekniekkombers is liggies oor ons kruisbene gegooi, net vir ingeval die aandluggie koeler word.

The Harlequin’s Needle is ’n eenmanstuk deur en met Georick Veltman aka The Mirrorsister. Die kort toneelstuk word met behulp van ’n wit laken, sambreel en spieël illustreer, terwyl beelde uit ’n skootrekenaar op Georick se lyf geprojekteer word. Dit ontgin vrees, vervreemding, seksuele misbruik en uiteindelike emansipasie deur die queer-gemeenskap. Die regisseur is Mark Graham-Wilson.

Dis in stilte wat almal uitmekaar gaan. Die tema is treffend én ontstellend en oor ’n laaste nagsopie word dit indringend bespreek.

Dis vroegoggend Saterdag, wat ons aanmeld vir die eerste kunsstaproete, die E-roete. Daar is vyf in totaal – vier in Riebeek-Kasteel en een in Riebeek-Wes – en word lusse (loops) genoem. Die ateljees wat besoek word, wissel tussen vier en ses. Elke roete het ’n ander kleur wat dit maklik maak om op die kaart uit te ken, as jy die roete self wil stap. Altesaam 18 kunstenaars het solo-uitstallings in hul ateljees en in die 11 groepuitstallings is 50 kunstenaars se werke te sien. Ook was 30 musikante, akteurs en regisseurs betrokke.

Op die E-roete word ons gelei deur Pieter Swart en besoek ons Emma Willemse en Jenny Parsons, Anthony Harris en Wiehan de Jager.

Die kunstenaars is ’n katspoegie van mekaar en ons stap al geselsende tussen die ateljees. Pieter se kunskennis is verbysterend en ons hang aan sy lippe. Nie alleen het hy ’n lang loopbaan met kunsprojekte by die Universiteit Stellenbosch, GFI Gallery en Stellenbosch Kunsmuseum agter die rug nie, hy is ook Anthony se lewensmaat en het eerstehandse kennis van die psige van ’n kunstenaar.

Inperking en die pandemie het op elkeen van die kunstenaars se werk ’n duidelike merk gelaat. Sommige het nuwe mediums aangepak; ander het met beperkte kunsmiddele ander style aangepak en Anthony, wat al 50 solo-uitstallings agter sy naam het, kon vir ses maande nie ’n kwas optel nie. Toe hy uiteindelik weer begin verf, was die resultaat op sy skilderdoek vir hom net so ’n verrassing as vir sy getroue ondersteuners.

Mens voel iets van hul innerlike stryd aan, waar jy in ’n snikhete somersdag met ’n masker stap; oral handreiniger moet gebruik en nooit in groot groepe iewers kuier nie. Ná die twee uur stap, ry ons Riebeek-Wes toe vir die Falko One uitstalling langs die begraafplaas, heel gepas After Life getiteld. Falko One is ’n bekende straatkunstenaar en die gaskunstenaar by die 2020 Solo Studios. Die bouvalle onder ’n paar bloekombome lyk van die pad af na niks. Dis eers wanneer jy te voet tussen die glasskerwe, bourommel en stukkende plastiekstoele en motorbande rondloop, dat die hele terrein in ’n kunswerk verander.

Falko vertel dat hy nie straatkuns begin het om politiese redes nie; hy wou respek hê as kind van die Kaapse Vlakte wat onder apartheid en armoede grootgeword het en hy wou meisies se aandag trek. Vandag is hy internasionaal gereken as Suid-Afrika se voorste stedelike kunstenaar. Sy werk was al tot in die verste uithoeke van die wêreld te sien.

Klaus Piprek, Solo Studios se organiseerder, vertel by die opening van dié uitstalling, dat Falko tien jaar gelede 20 huise in Riebeek-Wes geverf het as deel van sy landwye projek, Once Upon A Town. Die After Life-uitstalling is sy debuut solo-uitstalling en foto’s van die werke teen die bouval se mure, is as eenmalige kunswerke verkoop.

Klaus vertel oor Solo Studios: “Ons het die vorige Solo Studio’s in Augustus gehou – ’n lekker inspuiting vir die dorp ná die stiller wintermaande. Weens die pandemie het ons dit dié keer in Desember gehou, maar ons beplan voorlopig – as inperkingsmaatreëls dit toelaat – om die 2021-geleentheid weer oor die Vrouedag-langnaweek in Augustus te hou.”

Hy sê vir komende geleenthede sal hulle fokus op meer aanbiedings in die uitvoerende kunste, kos en wyn, omdat die kunstenaars se ateljees beperkte kapasiteit het. “Ons wil Arts Town as ’n voorste bestemmings- en toerismegeleentheid besit en heeljaar deur iets aanbied.

“Die konsep van Arts Town Riebeekvallei is kunstenaars, vakmanne en handwerkers. Solo Studios is die jaarlikse vertoonstuk van ’n andersins vol program.”

Ons besoek sonder begeleiding van die ander ateljees van Anton Momberg, Sharon Bischoff en Tamlin Blake op Riebeek-Wes. Die vrede van die klein dorpies kom sit weldra ook in ons kuite en die verstaan hoekom kunssinniges hier tussen die Bothmaskloofpas, Nieuwekloofpas, Kasteelberg en die koringlande en wingerde, hul talent kom uitleef.

Met die terugkom in die kunskern op Riebeek-Kasteel, stop ons eers by die ou kerkie wat as dorpsmuseum dien en sien Greta McMahon en Claudia Gurwitz se werke, voor ons Andries Dirks se kleikunswerke, Klipkinders, sy eerste solo debuut, in Shortstraat gaan kyk. Hy wys trots die beeldhouwerk van sy oupa, wat sy broek met ’n tou, in plaas van ’n lyfband, vasgemaak het en “te lief was vir die voggies”. Al dié kinderherinneringe is in sy kleiwerk vasgevang.

By Riebeek Kelder se nuwe proelokaal oorkant die hotel, proe ons yskoue Pieter Cruythoff Brut vonkelwyn en die borrels dans op ons dorstige tonge.

Nie lank daarna nie, of ons staan by die amfiteater waar ons gisteraand was, om na ’n praatjie oor The Stone Circle-projek te luister.

The Stone Circle-projek

The Arteri is ’n groep jong kunstenaars uit die plaaslike gemeenskap. Hul uitstalling in Kerkstraat het selfs van die badkamerteken ’n klein kunswerkie gemaak.
(Foto: Verskaf)

Net voor die amfiteater is ’n labirint met wit klippies uitgepak, wat eindig by ’n middelpunt waarin ’n “boot” vol klippe staan. Emma is bekend daarvoor dat sy die motief van die boot in haar kunswerke gebruik as ’n metafoor vir die psigologiese reis, wat gepaardgaan met traumatiese ondervindings, wat in hierdie tye van Covid-19 spesifiek toepaslik is.

“Die aksie om die labirint te stap en ’n klip in die boot te plaas, skep die geleentheid vir elke persoon om ’n unieke simboliese betekenis van herdenking uit te leef. Die klip wat in die boot geplaas word, kan ’n wye verskeidenheid persoonlike betekenisse voorstel soos, byvoorbeeld, die herinnering aan ’n persoon of gebeurtenis; of ’n viering van die onblusbaarheid van die menslike gees.

“Elke persoon se klip vorm deel van ’n groot hoop klippe in die boot, wat ’n visuele boodskap gee van ’n kollektiewe ervaring: ons is almal saam in hierdie reis!”

Die plek-spesifieke openbare beeldhou installasie, The Stone Circle Project is die geesteskind van die kunstenaar Emma Willemse en sy het met The Arteri saamgewerk om die klipsirkels in die amfiteater te bou. The Arteri is ’n groep jong kunstenaars uit die plaaslike gemeenskap.

Op die trappe van die amfiteater, pryk dié Amfi-sirkels, 16 tydelike klipsirkels met klippe wat van die Kasteelberg, Voëlvleidam en ander plekke uit die vallei, opgetel is. Die sirkels het elkeen ’n titel en wissel van 80 cm tot 1,5 meter in deursnee en verseker dat mense nie te na aan mekaar sit nie.

Terug by Shortstraat stap jy by Vine Man en Vine Woman van Andries Rietman verby. Dis twee indrukwekkende beelde wat uit droë wingerdlote gevleg is.

Laatmiddag kom van die vallei se wynmakers gesels oor hul wyn in die The Art of Wine-sessies en Saterdagaand kuier almal by Solo Kitchens by die vallei se voorste kosmakers.

Toe ons Sondag uit die vallei wegry, is my hart vol. Om sulke uiteenlopende kunsstyle te sien en ervaar, om self met kunstenaars oor hul werke te kan gesels en te sien waar hulle hul ure verwyl, is baie kosbaar.

Gelukkig is daar soveel ander projekte onder die Arts Town-sambreel, dat ons meer gereeld sal terugkeer:

The Arteri is ’n groep jong kunstenaars uit die plaaslike gemeenskap. Hul uitstalling in Kerkstraat het selfs van die badkamerteken ’n klein kunswerkie gemaak.
(Foto: Clifford Roberts)

First Fridays

Elke eerste Vrydag van die maand vier die dorpies fees in die kleine. First Fridays bevorder die Riebeekvallei Plaasmark wat elke eerste Saterdag van die maand gehou word. Jy kan kuns, kos en vermaak geniet en tussen 17:00 en 20:00 saam met die res van die vallei die einde van die week vier.

Riebeek Valley Lenses

Dis ’n sosialemediaplatform waar plaaslike fotograwe hul werke kan deel en idees kan uitruil oor fotografietegnieke en -wenke.

Staaltrom-projek

Geen gebeurtenis in die vallei sal volledig wees sonder ’n vertoning deur die plaaslike musikante van die Riebeekvallei Steelband, wat deel vorm van die voetsoolvlak- opvoedkundige musiekprojek, wat staaltromme as musiekinstrument gebruik. Die staaltromme word gewoonlik uit herwonne oliedromme gemaak en het hul oorsprong in Trinidad en Tobago in die Karibiese eilande.

Soos ons die naweek tussen die kunstenaars gekuier het, is daar altyd iewers ’n noot van dié musikante wat bo die gelag en gesels uitstyg en jou voete laat jeuk vir saamdans.

  • Meer inligting oor alles wat die vindingryke kunstenaars in die Riebeekvallei aanvang, is by Artstown.co.za beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
LIEZL

Riebeek Kasteel, dit was jare gelede, ons praat nou van so 35jaar terug die beste plek ooit. Toe ek as kind op en af in die strate kon baljaar tot die krieke vir jou vertel, dis nou aand, jy moet seker huiswaarts keer. Met my ouma wat in die Hoofstraat gebly het, kon ons gemaklik alle hoekies en tonnels op die dorp verken. Ja, die water tonnels onder die dorp was ons wegkruipplek en speelplek. Dit was ‘n dorp wat stil was in die aande en ons het elke aand op die stoep gesit, gelag en gesels. Jy’t die bure… Lees meer »