[Foto’s] Sanger, vrou deur ‘diep waters’ ná vroeggebore baba

Gerhard Steyn en sy vrou, Zelri, en dogtertjie, Zardi (Foto: Facebook via Gerhard Steyn)

Gerhard Steyn en sy vrou, Zelri, en dogtertjie, Zardi (Foto: Facebook via Gerhard Steyn)

Die Afrikaanse sanger Gerhard Steyn en sy gesin is die afgelope twee maande deur diep waters nadat hul vroeggebore babadogtertjie by die dood omgedraai het. Hy sê egter God se genade is groot en dat dié gesin “geseënd, op die herstelpad en gelukkig” is.

Gerhard het in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel hy moes die afgelope tyd “steun op sy geloof”.

Die sanger en sy vrou, Zelri, se babadogter, Zardi, is vroeggebore en moes deur ʼn rits toetse gaan nadat sy op 14 April op 33 weke gebore is. “Sy is nou twee maande oud, en weeg nou eers 2,6 kg – die gewig van ʼn baba wanneer hy of sy pasgebore is. Dit is ʼn moeilike tyd wat agter die rug is, maar ons is geseënd en gesond,” het hy vertel.

Gerhard vertel van die moeilike tyd waardeur die gesin is. “Zelri het pas uit die teater gekom, en vir my gesê ek moet heeltyd saam met Zardi wees. Ek het egter kort daarna besef my foon is weg, en ʼn selfoon is belangrik in só ʼn situasie – ʼn mens moet die familie bel en heeltyd op die hoogte hou,” het hy verduidelik.

“Ek het toe my selfoon gaan soek. Toe ek hom twintig minute later opspoor en by die teater terugkom, was daar chaos. Die dokters het gesê Zardi het verstik aan die medikasie wat hulle haar gegee het sodat haar longe elasties bly en nie platval nie, en hulle moes vyf minute poog om haar weer by te kry.”

Hy sê hy sien egter die Here se hand daarin, omdat hy glo alles gebeur met ʼn doel. “Die Here het geweet om my vir daardie paar minute uit die teater te neem. Ons is reeds deur so ʼn moeilike tyd, en Hy het geweet hy moet my hart beskerm.”

Vandag is Zelri en Zardi albei tuis en gesond. “Sy is baie aan die gang en drink ons byna uit die huis uit. Daar was aanvanklik iets fout met haar suigaksie, maar dokters het dit intussen reggestel toe ons haar met behulp van ʼn bottel begin voed het. Haar ore, brein en oë is ook getoets en die dokters is baie gelukkig,” het hy bygevoeg.

Die sanger sê hy besef alles in die lewe kan nie altyd glad verloop nie. Hy glo God stuit ʼn mens partykeer in jou eie voetspore. “As ons nie hierdeur was nie, was ek dalk op toer. Nou het ek die geleentheid om gehaltetyd saam met my twee meisies deur te bring, en daarvoor dank ek God. Wanneer ʼn mens ʼn persoonlike verhouding met God het, weet jy wat Hy vir jou beplan en jy vertrou dat alles sal uitwerk. Hy maak moontlik wat onmoontlik is vir mense.”

Gerhard sê hy wil nou die pa wees wat God wil hê hy moet vir sy kind wees. “Ek het geen benul gehad hoe sy my lewe sou verander nie. Niemand kan jou voorberei op daardie gevoel nie. Ek wil net daar wees vir haar en haar grootmaak soos die Here dit wil hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

mm ·

Amen..So bly vir julle twee. Mag julle net geseend wees met haar. Sy is pragtig. Geniet haar mamma en pappa. God is groot en almagtig dankie vir die groot wonderwerk seen hulle met U liefde Vader.

Hannelie ·

So dankbaar vir hulle as ouers. Julle is ‘n baie mooi gesin met ‘n pragtige ou dogtertjie wat nog baie harte gaan bekoor.

Estelle van Wyk ·

Baieeeee geluk Gerhard en Zelri met jul pragtigste kleine pienk voetjies! Mag sy net vreugde en plesier in jul lewens wees.

Gesiggie ·

Ag dit verbly n mens se hart, om na so n wonderlikke einde te luister… Ja Gerhard en Zelri… partykeer wonder n mens, hoekom ons eers deur diep waters moet gaan… voor die weg weer vir ons oop gemaak word, God beproef ons, Hy wil sien hoe lank dit ons vat om tot besef te kom… Ek Het God Nodig… jul het n pragtigge klein dogtertjie…. en mag sy aan jul al die vreugde bring… Glo my daar is niks meer werd as n kind of klein kind… ja hul verander n mens se lewe… en dan weereens besef jy HOE GROOT GOD IS…. Als wat mooi is vir jul as n gesin…

Rietjie.S ·

Gerhard jou woorde is so baie waar in hierdie stuk hierbo wat jy skryf. Sy is so pragtig soos die ma en pa. En sterkte vi jou en vroulief als sal goed verloop vorentoe. God hou sy hand oor julle. oxoxox

pauline ·

Amen baie geluk gerhard, mag zardi vir julle alle vreugde en geluk bring in die lewe. Ons dien n groot God en hy sal ons ni deur beproewings sit as on dit nie sal maak nie. Kyk uit na nuwe mesiek van jou

Magda Pieterse ·

Baie geluk en mag jul klein pienkvoet net vreugde, sonskyn en iefde bring. Geniet haar elke oomblik. Dankie vir die deel met fotos julle is n pragtige gesin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.