[Foto’s] Siek Ruben ʼn Tuks-student vir die dag

Ruben het graad gevang. Foto: UP

Ruben het graad gevang. Foto: UP

Die sesjarige kankerlyertjie, Ruben Scharneck, het dié week beleef hoe dit voel om ʼn student aan die Universiteit van Pretoria te wees. Ruben het erge pyn beleef en daar is dus spesiaal plan gemaak.

Maroela Media het vroeër berig Ruben se ma, Marinda Scharneck, het dit haar lewenstaak gemaak om te verseker haar seun leef voluit vir die tyd wat hy nog op aarde is.

Tineil Hurter, ʼn vriend van die Scharnecks, het dr. Pieter Clase, senior assistentdirekteur: werwing aan UP, genader en hom vertel van Ruben se droom om ʼn dag as normale Tukkie-student te ervaar.

Ruben ontvang 'n studentekaart. Foto: UP

Ruben ontvang ‘n studentekaart. Foto: UP

“ʼn Program is gou saamgestel, wat ʼn kampustoer en besoeke aan Sci-Enza en die Virtuelewerklikheid-Mynontwerpsentrum in die departement mynbou-ingenieurswese aan die universiteit ingesluit het. Ongelukkig het Ruben baie pyn gehad en was fisiek nie in staat om die kampus op die spesifieke dag te besoek nie, maar dit het dr. Clase en sy span nie verhinder om alles in hul vermoë te doen om Ruben se droom te verwesenlik nie. Die program is effens aangepas en die span het Ruben by sy huis besoek,” het die universiteitswoordvoerder gesê.

Ruben het sy eie Tukkie-studentekaart ontvang. “Hy stel baie belang in wetenskap-eksperimente, en personeel van die UP se Sci-Enza-projek het toe ʼn paar eksperimente met hom gedeel. Ruben se deelname en slim antwoorde tydens die eksperimente het hom groot bewondering en ʼn Junior Tukkie-eretoekenning besorg. Aan die einde van die program het dr. Clase en Ruben se ma vir hom ʼn gradeplegtigheidtoga en -mus gegee om sy eretoekenning op ʼn eg Tukkie-manier te ontvang. Vir Ruben was daar nog ʼn verrassing in die vorm van ʼn geskenk met komplimente van die bestuur en personeel van die departement inskrywings en studenteadministrasie.

Ruben is in 2014 met hoërisiko-neuroblastoom gediagnoseer en het 100 dae van chemoterapie ondergaan. Hoewel die uitslae positief gelyk het, was die Scharnecks platgeslaan toe dit blyk dat die kanker in Junie 2015 weer versprei het.

Hoewel hy selfs nietradisionele kankerbehandeling uit Australië ontvang het én in Januarie vanjaar weer ʼn groot operasie ondergaan het om al die gewasse te verwyder, het die gesin nie die goeie nuus ontvang waarop hulle gehoop het nie. Van die gewasse was vas aan die aorta en dokters kon dit nie verwyder nie.

Nóg ʼn reeks chemoterapie het hul nagmerries waar gemaak: Ruben se neuroblastoom is metastaties en daar is niks wat hulle vir hom kan doen nie.

Hy het altesaam al nege operasies ondergaan, maar die negende operasie was die laaste. Aangesien dokters weier om hom te opereer of selfs te ondersoek, verseker Marinda nou haar seun se grootste drome word bewaarheid.

Ruben doen 'n eksperiment. Foto: UP

Ruben doen ‘n eksperiment. Foto: UP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marianne ·

Tannie se engeltjie ek hoop en bid my kind word gou gesond. Jesus hou jou handjie vas en loop deur die hel saam met jou.
Sterkte my skat.

Ekke ·

Bekommerd, het jy enige persoonlike ondervinding of inligting mbt die gebruik van die produk?

Hartseer ·

Jy bly my super hero ruben,hoop hy kom gou uit hospitaal ons bid vir jou. sterkte ook vir Andre,Marinda en ouboet.

Bekommerd ·

Ekke, ongelukkig nie. Hul produkte is net te duur vir my as Suid Afrikaner , aangesien dit moet ingevoer word. Aangesien ek ‘n voorstaander vir natuurlike genesingsmiddels en behandeling is, het ek al baie van hulle inligting bestudeer en daarvan met welslae gebruik gemaak. Ek is van mening dat ,indien die ouers met hulle en hul dokters kan kontak maak , dit moontlik tot groot voordeel kan wees. Ek kan sien hulle gaan uit hul pad om moeite te doen vir hom en ek vertrou hul sal dalk dit ook doen vir hom.

Nicky Smit ·

Daar is nie woorde om te beskryf hoe sulke ouers en kinders deur soveel hartseer moet gaan nie. Baie, baie sterkte en liefde word julle toegewens. My hart gaan uit na die hele familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.